Faal letterkunde as gewete van die volk?

Deel op
Letterkundiges het die reputasie dat hulle as rebels voorkom – die bestaande orde aandurf – en as gewete van die volk optree om onregte aan die kaak te stel waaroor die politiek-korrektes swyg.

NUUT!

Kort-kort is ‘n regering dikbek vir die Nobelprystoekenners oor afvalliges wat die gesogte vredesprys opraap – heel dikwels skrywers agter tralies of ingeperk.

Die term “literêre vryheid” is vertolk as ‘n wye vryheid om ook maatskaplike kwessies los van politieke korrektheid aan te spreek.

In Suid-Afrika was skrywers soos Breyten Breytenbach, Antjie Krog en André P. Brink nooit hoog op die vorige regering se gewildheidslys nie. Die skrywer-digter, Barend J. Toerien het verduidelik dat die lot van die “underdog” die skrywers aangryp. Hy het ook voor die aanbreek van die post-1994-bedeling daarop gewys dat die wyse waarop die Afrikaner hanteer word, die Afrikaner ook ‘n “underdog” maak.

Selfs al is die laaste plaasmoord in Suid-Afrika reeds gepleeg, sal die slagting van Afrikanerboere en hul gesinslede, tesame met die wreedheid van die aanvalle, soos die konsentrasiekampe in die kollektiewe geheue vasge-ets bly.

Die hoofstroom Afrikaanse letterkunde swyg effektief hieroor. Onder die beeldende kunstenaars gebruik feitlik net die skilder, Pauline Gutter, hierdie tema.

Die byna twee dekades lange kortste lootjie wat Afrikaners, veral die mans, met praktyke soos regstellende aksie en transformasie – wat reeds voor 1994 begin het – vorm ook selde die tema van die hoofstroom-letterkunde.

En dan is daar Annelie Botes. En Steve Hofmeyr.

Pas is Botes haar K. Sello Duiker-literêre prys kwyt oor ‘n opmerking, wat volgens haar buite konteks en krasser as wat sy dit bedoel het in ‘n Sondagkoerant geplaas is. Sy het ook tevore reeds om verskoning gevra.

Die blote feit dat dit wat Botes en Hofmeyr gesê het, ongeag hoe dit gesê en bedoel was, onder ‘n breë gehoor geïnterpreteer is soos dit vertolk is, en die storm ontketen het, dui daarop dat daar ‘n groot gaping tussen alledaagse ervaring en die glaskas-houding is.

Onder die ou garde skrywers wat die vorige bedeling aangeval het en sommer vanuit die staanspoor ook die nuwe bedeling se misstappe aan die kaak gestel het, tel Breyten Breytenbach. Hy plaas steeds nie ‘n wag voor sy mond nie en kritiseer selfs Mandela. André P. Brink raas in effek met blankes oor hulle nie saam met hom gaan betoog het teen die regering se nuwe mediaplanne nie.

Annelie en Steve, in die breë konteks, wys op ‘n probleem wat in baie mense se harte klop – maar dit is politiek inkorrek. Bedoeld of onbedoeld, het die Shout-organisasie meer aandag getrek in sy aanspreek van Hofmeyr as aan die veroordeling van die Potgieter-moorde. Shout beweer hy het, maar daardie boodskap het eers die publiek bereik na die VF Plus ‘n boikot van Shout gevra het tot dié moorde ook veroordeel word.

Die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning, SALA, moet ernstig besin of die toekenning, na die klap aan Botes, nog die term “letterkunde” in sy naam verdien. Al is Botes R30 000 aan prysgeld kwyt, is sy nie met ‘n toekenning besoedel wat die titel van kwasi-letterkunde op homself gehaal het nie.

Moontlik is daar wins te make. Moontlik kan Afrikaanse kultuurorganisasies met Botes onderhandel, die R30 000 insamel, en die geld met haar instemming aan ‘n fonds vir plaasaanvalslagoffers oorbetaal. Of ‘n projek help finansier om die kwessie van plaasmoorde deel van die Afrikaanse hoofstroom-letterkunde te maak.

demo slot machinetopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.