Wie onkruid saai, sal distels maai

Deel op
Die ANC het pas die bykans ongehoorde gedoen, en ‘n plaasaanval veroordeel. Weliswaar is dit nie maar net een van baie plaasaanvalle vanjaar, en selfs baie plaasmoorde nie, maar een waar ‘n hele gesin, insluitend ‘n dogtertjie van amper drie jaar oud, vermoor is.

Ongelukkig is daar ook ‘n aantal gebreke in hierdie veroordeling: Van die toepaslike ministers, dié van Veiligheid en van Landbou, is so ver bekend nie ‘n woord gerep nie. Die Vrystaatse premier, die ANC se vroueliga, en die ANC self het dit veroordeel.

Om verskeie redes lyk dit egter of ten minste sommige van hierdie veroordelings meer te make het met die rasondertone wat die moorde losgelaat het as die dade self. Nog ‘n wrede plaasmoord op ’n bejaarde vrou in ongeveer dieselfde tyd, word bykans nie vermeld nie. In bykans elk van hierdie veroordelings, soos dié van premier Ace Magashule en die ANC, word sterk vermaan dat die indruk nie geskep moet word van swart teen wit misdaad nie.

Maar wie het die distels gesaai? Wie sing opruiende liedjies waarin gevra word die Boere moet doodgemaak word? Wie gaan hof toe om die verbod opgehef te kry? Wie het verbete geveg om te keer dat die liedjie “Kill the Boer, kill the farmer” as haatspraak verbied word? Wie vereer die voorsanger daarvan deur ‘n sokkerstadion na hom te vernoem?

Jare lank wys die landbougemeenskap en veiligheidskenners daarop dat heethoofdige uitsprake van hoëlui in die regering waarin boere veralgemeend as wreed teenoor hul plaaswerkers uitgebeeld word, ‘n klimaat skep wat gunstig is vir plaasaanvalle. Die twyfelagtige hoogtepunt was stellig toe Lawwe Lulu op Kerkplein ‘n siedende aanval op boere geloods het, terwyl die voorbeeld wat sy gebruik het nie alleen ‘n enkele geval was nie, maar dat ‘n verslag van die OKD wat die aansprake van ‘n vrou as vals bewys het, reeds aan die regering bekend was.

Verskeie peperduur ondersoeke, soos dié van ‘n vorige Vrystaatse Premier, Winkie Direko, kon ook nie stawing vir die veralgemeende stellings vind nie. So ook nie ‘n gesamentlike ondersoek deur die Wes-Kaapse Departement van Veiligheid, toe nog onder die ANC se beheer, en Agri Wes-Kaap nie.

Tog het dit die stortvloed aantygings vanuit regeringsgeledere nie gekeer nie, wat onder meer daartoe gelei het dat TLU SA en Agri SA hulle vanjaar uit ‘n grondberaad gestap het.

Hierna is ‘n artikel deur die Tina Joemat-Pettersson in Rapport geplaas waarin ooglopende erg foutiewe grondbesit-syfers weergegee is.

Die rasbewustheid rondom veral plaasaanvalle is nie nuut nie, maar die fokus het verdiep toe twee bekendes, die skryfster Anneli Botes en die kunstenaar Steve Hofmeyr uitlatings buite die perke van wat sommiges as politiek korrek beskou, gemaak het. Hul opmerkings staan egter nie in isolasie nie. Die verkragting van ‘n wit vrouedokter aan diens in die Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein waar die verdagte ‘n onwettige immigrant uit Lesotho is, haal steeds hoofopskrifte.

Die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadali vaar in haar jongste rubriek uit teen, wat bekend geword as die “Groot Groente” wat bruin mense verslaaf. Die “Groot Groente” verwys na die ANC-elite wat hulle soos varke by die voer-trôe aan groente vervreet. Sy is egter nie die enigste bruin meningsvormer wat nou reeds na die kort lootjie verwys wat bruin mense by die ANC trek nie.

Plekname is nog ‘n sensitiewe kwessie. Pas is berig dat die Pleknamekomitee in die Vrystaat nie by twee van sy eie opvolgergaderings opgedaag het nie – twee vergaderings wat in elk geval net in ‘n koerant wat op die swart gemeenskap gemik is, geadverteer is. Vreemd het geen voorstanders vir die verandering van Winburg en Brandfort se name na swart name vir die vergaderings opgedaag nie, wat die vermoede laat ontstaan dat die komitee en die voorstanders saamspan.

Boonop kry die Menseregtekommissie nie die voorsitter van die Vrystaatse pleknamekomitee opgespoor nie, na die Vryheidsfront Plus jare gelede reeds ‘n klag teen haar gelê het.

Wie distels saai, sal krokodiltrane maai. En een van die dae is dit versoeningsdag.

на тетивахЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.