Roodt dra Afrikanerkultuur uit na Egipte

Deel op

Dr. Dan Roodt in sy hoedanigheid as president van die Pretoria-PEN-skrywersorganisasie neem tans deel aan ‘n belangrike kongres oor Afrikaletterkunde wat in Kaïro deur die Egiptiese regering aangebied word. In sy voordrag aan die kongres het dr. Roodt klem gelê op die aard van die Afrikaanse letterkunde as ‘n unieke nasionale letterkunde in Afrika wat as model vir ander volkere en tale op die kontinent kan dien. Roodt het ook ‘n kort gedig van Ernst van Heerden, “Die gewigopteller”, in Afrikaans voorgedra terwyl ‘n vertaling op ‘n skerm geflits is.

Die kongres, wat deur die Opperraad vir kultuur van Egipte georganiseer word, het ‘n sterk politieke kleur en dit wil voorkom asof Egipte ‘n beleid van kultuurpolitiek op die vasteland wil voer ten einde Amerikaanse, Britse en Franse invloed teen te werk. ‘n Dertigtal skrywers vanuit die hele Afrika, maar met ‘n sterk verteenwoordiging vanuit Noord-Afrika, neem aan die konferensie deel.

In sy voordrag het dr. Dan Roodt klem gelê op die denke van die Keniaanse skrywer, Ngugi wa Thiong’o wat in sy boek Decolonising the mind ‘n “afskeid van Engels” aangekondig het en voortaan in sy moedertaal Kikoejoe, begin skryf het. Hierteenoor staan die klassieke Nigeriese romanskrywer Chinua Achebe die gebruik van Engels voor. Roodt het namens Afrikaanse skrywers en Afrikaners in die algemeen sy steun vir ‘n “terugkeer na die moedertaal” oral op die Afrikavasteland uitgespreek, na die model van Afrikaans wat deur taalstryd, die maak van woordeboeke, vertalings, asook die skryf van romans en poësie ‘n volwaardige kultuurtaal geword het waarop die hele Afrika trots kan wees.

Die kongres vind in Arabies, Engels en Frans plaas. Besoeke aan die Egiptiese museum in Kaïro, asook die piramides van Giza, maak deel uit van die intensiewe program wat tot tienuur saans duur.

Dr. Roodt vind sy besoek aan Egipte “uiters interessant. Egipte en Kaïro is ‘n paradoks, ‘n Moslemland wat ook baie Westers is met straatkafees, filmfeeste, nagklubs en grotendeels Westerse moderne argitektuur, waaronder pragtige negentiende-eeuse geboue in die Franse Hausmann-styl. Die Egiptenare se anti-Britse en anti-imperialistiese retoriek, hoewel links en gedeeltelik deur Islam geïnspireer, is nie onversoenbaar met Afrikaners se eie gevoelens van deur die Weste en veral Amerika en Brittanje versaak en verraai te wees nie. Onder die oppervlak is daar groot bewondering en waardering vir ons Afrikaners aan die suidpunt van Afrika by sowel die Arabiere en swartmense van Afrika. Dis net in Suid-Afrika waar ons swart elite so sterk onder Britse invloed verkeer waar vyandigheid teenoor Afrikaners hoogty vier.”

Roodt voel dat Afrikaners eintlik “veel minder geïsoleerd is as wat ons dink. Ons kan selfs vriende op oënskynlik ongewone plekke soos Kaïro maak en sodoende ons eertydse prominente rol op die vasteland herwin, al is dit nou op kultuurpolitieke vlak en nie suiwer polities of ekonomies nie. Terwyl ons na binne onsself moet suiwer van dekadensie, verengelsing en lamsakkigheid, moet ons uitwaarts beweeg en uitreik na die res van die volkere op ons vasteland, asook elders ter wêreld om die saak vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur te stel.”

Die kongres sal opgevolg word deur vertaalprojekte en samewerking tussen groepe skrywers in Afrika, met die Egiptiese regering wat waarskynlik sulke projekte sal befonds. “Nie net verteenwoordig dié inisiatief van Egipte vir ons ‘n goeie geleentheid vir diplomasie teenoor die res van die vasteland nie, maar uiteindelik mag Afrikanerdenke en -kultuur ook na die res van Afrika versprei word waar daar groot waardering vir ons bestaan as die enigste Westerse of Europese groep in die geskiedenis wat hom onherroepelik tot Afrika verbind het. Mettertyd mag daar selfs weer ‘n leierskapsrol vir ons in Afrika ontstaan, as die Afrikaner maar net die wil daartoe kan ontwikkel,” het Roodt gesê.

гингивит симптомылобановский депутат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.