Voorlopige repliek op my kritici

Inleiding

Ons Boere het ‘n beskrywing vir ‘n chaotiese toestand. Ons noem dit ‘n kraaines – julle weet as ‘n tou so gekoek het dat jy sukkel om al twee punte te kry, of te probeer kop of stert uitmaak hoe om die ding te “ontkoek”. Om jouself in die Afrikanerpolitiek en die soeke na oplossings vir ons volk te begeef, is soos om hierdie massiewe kraaines te probeer ontrafel. Daar is soveel opinies, planne, waarskuwings, teregwysings, kritiek en dan natuurlik pleinweg negatiwiteit. Ek dink enigeen wat homself in hierdie opsig in ‘n “voorloopposisie” stel, moet sy kop laat lees.

Dit is egter deel van menswees, en deel van spesifiek ons Afrikanervolk se karakter. Ons het baie “chiefs” as dit by planne en opinies kom, en bitter min “Indians”. Maar daarmee wil ek nie sê ons mense mag nie opinies en planne hê nie. Ons moet net kyk na ‘n fyn balans tussen ‘n plan of opinie te hê vanuit jou leunstoel aan die een kant, teenoor om ‘n plan en opinies te hê terwyl jy jou blootstel om voor te loop, iets te begin doen, en tot aksie oor te gaan aan die ander kant. Soos een van ons ander gesegdes lui: “Die beste stuurlui staan altyd aan wal.”

Voor ek begin repliek lewer op enkele kommentare op my artikel Kom ons begin die pad na vryheid, ‘n versoek aan ons volksgenote: As jy werklik glo in jou eie opinie, en glo jóú plan is die beste en aangewese roete, kom stap saam voor, stel jouself bloot aan die risiko, en kom wees ‘n leier. Moenie agter jou rekenaar skuil, en op jou leunstoel bly sit nie. Want dan is jy niks meer as agtergrondgeluid wat vir ander net tot irritasie is. Die tyd vir vreeslike baie planne en kritiek is verby.

Ons vertrek op ‘n onbekende reis, waarvoor daar ‘n kaart kan wees, maar geen waarborge nie. Ek sê weer, dit gaan nie maklik wees nie, en gaan toewyding en waagmoed verg wat nog geeneen van ons tevore ervaar het nie. Vir vele gaan die moeite en opoffering te veel wees/word, en sal hulle weer gelate in onderdanigheid hulle lojaliteit aan die swart kommuniste verklaar. Daar gaan mense wees wat vir ons kwaad raak, en dan teen ons gaan draai en ons verraai.

Ons volg nie ‘n politieke model nie, maar wel ‘n besigheids- en welvaartskeppingsmodel. Jy moet eers ekonomies selfstandig en selfversorgend word, voordat jy kragdadig verder kan gaan. Soos sommige wyse skrywers gesê het, jy moet eers kruip voor jy kan loop, voor jy kan hardloop. Ons gaan voor niemand kruip nie, maar wel vorentoe kruip, en hopelik uiteindelik nie weghardloop nie, maar oor die mense en kragte wat ons wil opponeer. Die politiek sal vanself volg, en ‘n al hoe belangriker rol bgin speel. Dit is ‘n natuurlike ontwikkelingsproses in ‘n komplekse saak soos hierdie.

Repliek

Ons bestudeer al die kommentare, en die gereelde “kommin-tare” wat voorkom. Ek het reeds met sekere persone wat gereageer het, kontak gemaak, waaruit daar baie positiewe moontlikhede vir oorweging aan ons beskikbaar gestel is.

Ek gaan hier net op enkele mense reageer, wat vinnige reaksie regverdig. Vir die res, dankie vir die ondersteuning en bydraes – daar het goeie en uitstekende idees en gedagtes na vore gekom, wat wel deeglik oorweeg sal word.

  1. Tom vR en JP – Ek dink voordat ons mekaar begin raadpleeg oor wat ons moet doen en weer dieselfde foute soos in die verlede maak. Moet ons as Boerevolk eers na die Here gaan, Hom raadpleeg en dan Sy raad volg.

Godsdiens en geloof speel ‘n belangrike rol in ons Afrikanerboere se lewe. Ek is ‘n gelowige, en glo dat ek gelei word deur ons hemelse Vader in wat ek doen, maar Tom, hoe antwoord die Here ons gebede en maak Sy wil aan ons bekend? Daar is nie meer ‘n hoëpriester wat direk met Hom gesprek voer nie. Dus – Hy laat dinge gebeur wat in Sy raadsplan val, en gebruik maar net mense om dit uit te voer.

Ons praat nou al so lank oor uitkoms, en vra die vraag: “Wat moet ons doen?” Miskien is hierdie wat Hy wil hê moet gebeur. As dit nie Sy goedkeuring wegdra nie, sal dit seker nie gebeur nie, of misluk, of lei tot ander moontlikhede. Dít wat ons wil doen – enige plan – is maar 80% geloof dat dit sal goedgaan. Die ander 20% is ons mense se “planne en idees”. Ons kan maar net probeer, want om net te bly bid, en niks verder te doen nie, is verraad en ‘n misdaad teenoor onsself, en ons nageslag.

  1. Gas en andere – Hoeveel mense moet dit dan nou nog vra voor ‘n mens reaksie kry: Waar gaan hierdie gebied/plase wees?

As jy 1 000 Afrikaners wat wil trek bymekaar sit, en vir hulle vra: “Waarheen?” gaan jy 1 000 verskillende antwoorde kry. Party dink emosioneel oor die vraag en wil die familieplaas red, ander onthou met deernis hulle kinderdorp en wil daarnatoe gaan, ander hou baie van die see, ander hou van die stadsliggies, ander wil ondergrondse minerale bekom, ens, ens, ens, ens., ad infinitum. Die grootste gevaar is: “Ons wil so naby as moontlik aan die huis en werk wees.”

Dus, as ons ernstig wil verstrengel raak in ‘n lewenslange debat hieroor, moet net een van ons nóú sê: “Ons gaan daarheen.” Net daar krink die helfte hulle waens en gaan huistoe, en die ander begin so onder mekaar stry dat die osse later daar in die tuie sal vrek van honger en dors.

Daar is so baie faktore en feite wat in gedagte gehou moet word, dat mens se kop begin draai. En elke keer wat die onderwerp ter sprake kom, is daar nuwe feite, idees, hindernisse en dies meer wat die vorige “goeie” moontlikheid laat dom lyk. Hierdie is ons grootste enkele uitdaging, en op een of ander tyd moet die besluit geneem word, en sal almal maar daarby moet inval.

Hierdie besluit moet klinies, sonder enige emosie geneem word, en die belangrikste faktore is a) water, b) energie, c) handels- en landboulewensvatbaarheid en d) militêr verdedigbaar. Ons werk daaraan.

  1. Leverson – As julle ernstig is koop grond in Orania (VAB) of rondom Orania (Kambro). Die meganismes is alreeds daar en bewys.

Ons is reeds in gesprek met Orania, en gaan volgende jaar ook met Kleinfontein se mense praat. Hulle het reeds waardevolle lesse geleer en is die pioniers wat sekerlik al die handboek kan skryf. Ons wil nie die wiel oor ontwerp nie, en gaan by hulle leer.

Elke groep het egter sekere einddoelwitte, wat ongelukkig fundamenteel van mekaar kan verskil. Ons gaan ons bes doen om daardie verskille te identifiseer, en oplossings te kry om saam te werk, eerder as weereens verdeling en opponering te bewerkstellig. As daar ‘n groep is wat nie soewereine onafhanklikheid as einddoel het nie, gaan dit moeilik wees.

  1. Chris – Daai eie arbeid bekommer my. Dit gaan goedkoop arbeid moet wees om die eenvoudige alledaagse take te verrig. Hoeveel wittes is bereid om graaf te spit en kool te plant/oes teen n vergoeding wat n boerdery ekonomies sal maak. Om eerlik te wees, dit gaan arm blankes uit ons plakkers kampe wees wat vir daardie poste kwalifiseer en baie van hulle sal eerder by die verkeerslig staan en geld bedel as om n sweet uit te pak vir minder geld. Dit sal meskien werk as n soort sosialisties stelsel in werking gestel word, maar al die betrokkenes sal moet gelukkig wees met die opset.

Die sosiale en menswaardigheidheropbou van ons arm en werklose volksgenote is ‘n groot uitdaging. As ons ons plase kan kry om te werk soos besighde en nie ‘n “baas-kneg”-verhouding nie, kan dit werk, maar daar sal altyd uitdagings in dié verband wees. Vra jouself die vraag af: “Hoe werk boere in die res van die wêreld, waar daar nie swart plaasarbeiders is nie?” Hoe funksioneer die res van die wêreld ten opsigte van straatbouers, rioolplaaswerkers, ens, ens? Ons Afrikaners moet ‘n paradigmaskuif in ons koppe maak hieromtrent, en dít, soos ek sê, is ‘n uitdaging.

Geen gemeenskap kan dooie hout beskostig nie, en as mense verkies om nie te werk nie, sal hulle sekerlik nie welkom wees nie. Dit is elkeen se eie keuse.

  1. Johanw – Daar is egter staatkundige realiteite wat aangespreek moet word. Groot plase is steeds belastingpligtig aan die narre van NSA. Ontwikkeling is onderhewig aan BTW in die NSA. Regstellende aksie en SEB is op die wetboeke. Daardie grondgebied (plaas) sal onafhanklikheid moet verklaar.

Dit is korrek Johan, en een van daardie feite wat ons (vir eers) nie van kan wegkom nie. Wat die belasting betref, sal ons vir eers seker moet saamwerk. Wat regstallende aksie en SEB betref? Nee. Nooit weer nie.

  1. Shannon en Outoppie – Sal ons weet wie die bestuurslede is? En; Hein, geen onwettigheid nie.

Natuurlik sal julle weet wie die bestuurslede is, en elke belegger en/of lid sal gereeld terugvoer kry, tot op die vlak van geouditeerde state, maar elke ding op sy tyd. En Outoppie, ons sal mos nooit onwettige dinge aanvang in ‘n swart kommunistiese land onder ‘n onderdrukkende regering wat nie regtig legitimiteit het nie?

Ons wil nie hê ons lede moet in die tronk beland nie. Wel, nie in ‘n Suid-Afrikaanse tronk nie, en ook wil ons nie hê ons mense moet geld verloor nie. Die ANC en vriende vat genoeg daarvan vir hulle eie sakke. Daarom is daar regsgeleerdes in ons span.

  1. Tienie Bekker – Sal dit n ontwikkeling wees in die belang van die Afrikaner of is die winsmotief vir n paar mense die oorheersende faktor.Die gedagte moet ondersteun word maar alle planne moet deurentyd deursigtig wees.Die Afrikaner is tot n groot mate reeds verarm deur verskeie verwikkelinge op politieke vlak en kan nie nog n Piramiede skema bekostig nie.As die planne deursigtig en eerlik is hoef daar nie te veel sogenaamde geheimhouding te wees nie.Hierdie gedagte rigting kan n deel van die Afrikaner se probleme aanspreek.!!!

Tienie, ons is ‘n paar “hard core”-Afrikaners, wat almal ‘n groot liefde vir ons volk en mense het. Alle planne sal op ‘n toepaslike vlak aan die beleggers en lede bekendgemaak word, en die nodige “wigte en teenwigte” sal in plek gesit word. Hierdie is nie ‘n priamideskema nie, want niemand wat belê, sal enige rykdom belowe word nie. Wat ons wel hoop om te bereik, is die grootste rykdom van almal – Vryheid.

Julle moet aanvaar, dat om so ‘n geweldige taak aan te pak, gaan dit nodig wees om permanente mense in diens te stel, en sodanige mense sal moet salarisse kry om aan die lewe te bly. Pap en tik vir hierdie personeel, gaan geen lojaliteit en toegewyde fokus verseker nie. Die aantal personeel en die vlak van salarisse sal bepaal word deur: a) die nodigheid, b) hoe ver in die projekfases dit is, c) die gerealiseerde en gereelde inkomste en d) deur te vergelyk met byvoorbeeld Solidariteit, Afriforum en Orania.

As enige sakeman , boer of enige iemand daaraan dink om te kom woekerwinste uit ons mense maak deur middel van die projek, sal dit nie geduld word nie. Daar sal ‘n tydelike sterk dosis sosialisme toegepas moet word aan die begin, totdat ons op sodanige vlak is dat vryemarkkragte die besighede en entrepreneurskap kan bepaal en lei.

Die aspek van “geheimhouding” gaan oor strategiese sekuriteit en risikobestuur, maar dit behels nie die finansies nie.

  1. Louis – Slegs bedrieers verkoop aandele sonder prospektus. hier kom nog ‘n Blue Zone, Sharemax ens

Vir wat ek vir jou wou sê, sal ek vanaand op my knieë gaan om vergifnis vra. Jy beledig die intelligensie van al die mense op hierdie forum, so dit is vir jou beter om weg te bly.

Ons het nog aan niemand aandele aangebied nie, ons het gevra wie sou belangstel. Ons het dit duidelik gestel dat daar ‘n vergadering gehou sal word, en ek glo daarna gaan daar nog baie vergaderings volg. Hierdie is ‘n proses.

Vir almal wat belangstel – moenie die hoogte en steilte van hierdie berg onderskat nie. Dit gaan moeilik wees en ons gaan baie hindernisse moet oorkom. Sukses gaan afhang van ons toewyding tot die saak en sy uiteindelike doel.

Ad libertum persequor.

 

games casino online free

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.