Volmaakte kennis en korrupsie

Deel op

Studente in ekonomie word geleer dat ‘n volmaakte vryemarkstelsel net kan werk as daar volmaakte inligting is. Omdat dit nie haalbaar is nie, is daar altyd ‘n mindere of meerdere mate van inmenging in die werking van die vrye mark nodig.

Oor die afgelope paar dekades was daar egter ‘n inligtingsontploffing danksy veral kommunikasietegnologie. Bykans enige inligting is nou baie vinnig in oorvloed tot verbruikers se kennis. Die wêreldekonomieë was dus in beginsel redelik goed geplaas om nuwe fases van vrye mark te betree.

Die ekonomiese insinking van die afgelope aantal jare het egter ook nog ‘n feit onderstreep – ‘n vrye mark is ook broos vir inhaligheid. Vryemark-aanhangers wys egter gou daarop dat die slag juis die gevolg was daarvan dat te veel inligting wat op die gevare gedui het, te lank gesmoor is. Toe dit wel rugbaar word, het Wall Street se torings soos kaartehuise inmekaar gestort. En as die VSA nies, kry die wêreld griep.

Veral Europese lande het in hul herstelplanne ook spesiale hoofstukke oor etiek en moraliteit ingeskryf en Ysland het sy bankkonvensies aangepas om die media vryer teuels te gee om oor die korporatiewe gekonkel van selfverryking te kan skryf.

Maatskappye in die VSA wat hul groot happe van regeringsbystand blitsig weer as bonusse aan die topbestuur gaan uitdeel het moes haastig onder openbare druk dié fondse terugbetaal. Die openbare druk was net moontlik weens die beskikbaarheid van die inligting oor die vlakke van gierigheid wat endemies geword het..

Tydens ‘n seminaar het die speaker van die Wes-Kaapse parlement, Shaid Essau, daarop gewys dat korrupsie die voortbestaan van demokrasie en die vrye mark in Afrika bedreig. Geen groot sake kan in Afrika gedoen word sonder om die generaals sogenaamd te raadpleeg nie.

Met die knoue wat die vrye mark met die insinking weg het, sou verwag word dat die voorstanders van sosialisme en kommunisme met hernieude ywer hul ideologie sou bevorder. In Suid-Afrika, waar die SAKP sy greep op die ANC verdiep, is dit moontlik wel die geval. In Europa, waar nog kwaai gebloei word om die agterstande van die voormalige Ystergordynlande, soos Oos-Duitsland, reg te trek, het hierdie aptyt egter nog nie aanklank gevind nie.

Kry die vrye mark in Suid-Afrika nie dalk onverdiend die blaam vir die groeiende sosio-ekonomiese dispariteit nie? Suid-Afrika het enkele jare gelede Brasilië verbygesteek as die land met die grootste meetbare inkomstegaping en terwyl die gaping in Brasilië gekrimp het, het dit in Suid-Afrika bly groei.

Of spartel sake in Suid-Afrika juis weens te veel inmenging en korrupsie?

Word die beraamde bedrae korrupsie bymekaar getel, is dit duidelik dat korrupsie ‘n groot aandeel het daarin dat die ekonomie stotter en dus ook min werksgeleenthede skep. Handelsmisdaad is een van die kategorieë waar misdaad in Suid-Afrika skerp bly styg. Dit is egter ook een van die tipe misdade wat eers by die statistieke gereken kan word wanneer dit op die lappe kom. Dit is dus onmoontlik om die werklike omvang vas te stel. Voeg hierby dat die vlakke van geweldsmisdaad beleggersvertroue knou. Die moord op ‘n Britse toeris in die Kaap het tot talle navrae van voornemende toeriste gelei, en feitlik oornag die positiewe toerismebeeld wat die land van die groot sokker oorgehou het, uitgewis.

Die Ouditeur-generaal se verslae skets ‘n duidelike prentjie oor die lae vlakke van dienslewering, iets wat ook onontbeerlik is dat die vrye mark en die sogenaamde produktiewe sektor maksimaal welvaart en werkgeleenthede skep.

Die ANC se ondersoek na die nasionalisering van myne gaan bepaald ‘n negatiewe impak hê in ‘n tyd waar dringende investering nodig is. Sy transformasie- en regstellende aksie gebaseer op ras eis ook deurlopend ‘n prys.

Die regering se beplande mediaplanne ontman ook die ekonomie van broodnodige inligting wat nodig sal wees om die vrye mark in staat te stel om optimaal te funksioneer. Nie net mark- en handelsinligting is nodig nie, maar ook waar korrupsie-bottelnekke omseil moet word, waar die ondersteunende dienslewering bedenklik is, waar dit onveilig is, en vele meer. ‘n Belegger sal kwalik in ‘n area gaan belê waar Eskom enige oomblik die krag kan afsny omdat die munisipaliteit se rekening te ver agterstallig is, en daar boonop vrae is oor waarheen die belastingbetalers se geld in die eerste plek heen verdwyn het.

Die publiek het ook die sogenaamde volmaakte inligting nodig om te weet van watter deelnemers aan die vrye mark hulle moet wegbly, byvoorbeeld ondernemings wat die bestuur se sakke volprop terwyl werkers uitgebuit word.

Karring met die beginsel van volmaakte inligting en die swamtoestande vir verrottende korrupsie begin gedy – binne die privaat en openbare sektore.

En dit raak glashelder duidelik hoekom die Wêreldbank korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms beskou.

Intussen word die vrye mark in Suid-Afrika vir veel meer as sy ingeboude gebreke geblameer.

купить сверлалобановский александр игоревич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.