Hitler was links! en ander gedagtes uit Nederland

Dan Roodt
Deel op

Van al die lande waar een of ander regse of konserwatiewe beweging tans aan die gang is, is Nederland by verre die opwindendste. Eers was daar die flambojante Pim Fortuyn, eertydse Marxistiese sosioloog wat agterna die sin van tradisie ingesien het. Fortuyn het binne ‘n paar jaar, deur ‘n hele aantal boeke en onderhoude, die grondslag vir ‘n nuwe politiek in Nederland gelê. Hy is natuurlik tragies deur ‘n linkse landgenoot vermoor.

Een van die beste boeke om die linkses te verstaan, was nog altyd Raymond Aron se Die opium van die intellektuele. Daarin verduidelik hy onder andere dat die romantiek van geweld onlosmaaklik aan die romantiek van die revolusie verbind is. Terwyl Pim Fortuyn deur ‘n linkse Nederlander vermoor is, is die filmmaker Theo van Gogh deur ‘n Moslem omgebring, ‘n daad wat insgelyks skokgolwe deur die normaalweg vreedsame Nederlandse samelewing gestuur het.

Ná Fortuyn het Geert Wilders op die toneel verskyn om die vaandeldraer van die Nederlandse regse beweging geword. Hy is bygestaan deur Martin Bosma wat vanaf die eerste oomblikke toe Wilders uit die VVD bedank het hom vanaf 2004 by die nuwe beweging, aanvanklik bekend as “Groep Wilders”, ingewerp het. Hy het sy pos as joernalis bedank en sonder ‘n inkomste in ‘n agterkamertjie van die Nederlandse parlement vir die nuwe beweging begin arbei.

Nie net het Bosma vele van Wilders se toesprake geskryf nie, maar openbaar hom veral ná die verskyning van sy jongste boek as die intellektuele stukrag agter die Partij voor de Vrijheid. So ‘n week gelede het ek deur Bosma se toedoen ‘n komplimentêre eksemplaar van sy boek ontvang en watter verkwiklike verrassing is dit nie! Dit heet: De schijn-élite van die valse munters – Drees, extreem rechts, die sixties, nuttige idioten, Groep Wilders en ik. ‘n Mondvol, maar juis daarom nie minder interessant nie.

Op een of ander stadium wil ek ‘n breedvoerige resensie oor die boek skryf as ek dit klaar gelees het, maar my opgewondenheid verlei my daartoe om hier enkele eerste indrukke met my lesers te deel.

Soos sommige “nuwe filosowe” van die jare sewentig in Parys, veral Jean-François Revel, word Bosma geïnspireer deur sekere Amerikaanse denkers. Maar dan veral die “ontnugterde liberale” soos Irving Kristol wat homself beskryf as:  a liberal who’s been mugged by reality. Bosma, wat self uit ‘n linkse, Arbeidersgesinde, huis afkomstig is, verskaf ‘n hele lang lys van Amerikaanse en ander denkers wat hom beïnvloed het, soos: Friedrich von Hayek, skrywer van The road to serfdom, William F. Buckley Jr., skrywer van God and man at Yale, Allan Bloom, uit wie se pen The closing of the American mind verskyn het, asook Norman Podhoretz wat Breaking ranks publiseer en Leo Strauss, outeur van On Tyranny.

Interessant omtrent hierdie toonaangewende Amerikaanse filosowe is dat, soos Bosma dit stel, hulle “dikwels Joods (is), van huis uit brandarm, dikwels afgestudeer aan die City College of New York, dikwels Trotskiïsties was en almal met Links gebreek het…”

Ook  behou Bosma ‘n sagte plekkie vir Ronald Reagan, die Amerikaanse president wat ook sy bes gedoen het om finansiële sanksies teen Suid-Afrika in die tagtigerjare af te weer en uiteindelik onder druk van die Swart Koukus deur sy eie party, die Republikeine, verraai is, om wel sanksies teen ons toe te pas.

Met soveel van Bosma se idees kan ‘n mens saamstem. Hy blameer die radikalisme van die sestigerjare vir baie wat in die Weste verkeerd geloop het. Die invloed van die neo-Marxisme, waaronder die Frankfortskool en Gramsci, wat die universiteite en agterna die joernaliste en die media stormenderhand verower het, kan nie geringskat word nie. ‘n Kulturele revolusie het die Westerse kultuur van binne af gerysmier en daaruit het die multikulturele ideaal – Bosma verwys daarna as “die multikul”, want ons word gekul – ontstaan.

Maar heel dikwels haal hy ‘n merkwaardige Nederlander aan: Jacques de Kadt. Dié het reeds in 1939 ‘n ontleding van fascisme verskaf waarin hy aantoon dat Hitler meer sosialis as nasionalis was. Trouens, die stryd tussen kommunisme en fascisme is die tweestryd tussen twee sosialismes. ‘n Ander Nederlander, die sosioloog Jacques van Doorn, het tot presies dieselfde slotsom gekom in sy uitgebreide studie oor Duits socialisme wat in 2008 verskyn het.

Bosma se boek behoort ook wyd deur Afrikaners gelees word. Die Afrikaner se probleem is dat hy nie ‘n goeie begrip van linkse denke het nie. Vandaar ons mense se verwondering oor die staat wat deesdae op alle gebiede in ons lewens ingryp, die ideologie van “multikul” en “transformasie” wat geen lewensterrein, nóg die skool of universiteit, nóg die sakeonderneming, nóg die kerk of selfs die gesin, ontsien nie. Dwarsdeur die Westerse wêreld is min of meer dieselfde proses besig om hom te voltrek waar Westerlinge deur nie-Westerlinge vervang word. Bosma noem byvoorbeeld dat in ‘n land soos Frankryk, wat eens op ‘n tyd selfs die setel van die Katolieke Kerk en die georganiseerde Christendom was en waarin Calvyn gebore is, een uit elke drie babas wat tans gebore word, reeds Moslems is.

Een van die mees defaïtistiese uitsprake wat ek onlangs in Afrikaans gelees het, is die volgende, nogal van ‘n akademikus wat homself ‘n Afrikaner noem: “Hoekom kan daar nie ‘n einde wees aan ‘n kudde mense, bekend as die Afrikaner, nie?

Daar was ‘n einde aan groot beskawings wat oor eeue gestrek het. Wat verhoed dat ‘n troppie mense, wie nie eens ‘n unieke ‘beskawing’ gevestig het nie, nie ook ‘n ‘einde’ kan hê nie?

Wil ‘Die Afrikaner’ steeds so arrogant wees om op voortbestaan aan te dring, en hoe verkry hy/sy ‘n ewige voortbestaan?”

Dit is natuurlik onverdunde ANC- en Naspers-ideologie wat hier met presieuse hovaardigheid herhaal word, nogal binne die kader van ‘n “Filosofiekafee”. Soveel wat ons deesdae in Afrikaans lees, is genoeg om ‘n mens moedeloos of selfs naar te maak. Óf dit gaan om ‘n konformistiese verheerliking van die multikul soos hierbo, óf dis mense sonder enige intellektuele of politieke agtergrond wat byna Middeleeuse uitsprake oor teokrasie maak en die Bybel as hul enigste politieke handboek beskou.

Daarom verteenwoordig Martin Bosma ‘n vars bries. By die lees van sy boek skep ‘n mens weer moed en kry daardie gevoel van: Ons is nie alleen nie. Nie net bestaan daar enorm veel raakpunte tussen die Nederlandse problematiek en ons eie nie, maar die helderheid waarmee Bosma die historiese en ideologiese omgewing skets waarbinne ons huidige stryd plaasvind, is goud werd.

Afrikaners besef dit nie, maar vir ‘n groot deel van die twintigste eeu het ons oor ‘n baie suksesvolle regse beweging beskik wat kommunisme suksesvol afgeweer het en ook tot een van die merkwaardigste ekonomiese, kulturele en menslike ontwikkelings waar op aarde ook al gelei het. Veral, natuurlik: in Afrika. Maar omdat die Afrikaner intuïtief regs en nie intellektueel regs was nie, was ons bydrae tot die regse beweging in die Weste grootliks beperk tot ‘n praktiese demonstrasie van hoe ‘n behoudende en gematigde nasionalistiese of patriotiese samelewing met multi-etniese elemente kon werk.

Op die ou einde het ons egter geen argumente meer oorgehad om dít wat vir ons dierbaar was en wat ons voorouers met soveel opoffering gevestig het, te verdedig nie. De Klerk en sy geesgenote het wel verraad gepleeg; dit was egter nie bloot uit listigheid nie, maar ook uit domheid en oningeligtheid.

Vandag, met sy rug teen die muur, het die Afrikaner geen ander keuse as om sy opstand teen die beklemmende linkse multikul-stelsel in dié land ordentlik te beredeneer met verwysing na die hooftemas van die Westerse politieke debat nie. In dié opsig is Martin Bosma se boek ‘n handige handleiding wat ook plaaslik versprei behoort te word, al het baie Afrikaners verleer om Nederlands te lees.

Omdat Bosma insgelyks joernalis is, is syne geen droë akademiese relaas nie, maar neem hy die leser op ‘n toer deur die Nederlandse politiek en Westerse denke met heelwat interessante anekdotes rondom sy politieke wedervaringe.

In Afrikaans het ons insgelyks so iets nodig. Oor die afgelope tien jaar is daar by ons ook ‘n felle stryd gevoer, al was dit net ‘n stryd om te bly voortbestaan en nie heeltemal onder te gaan nie. Tot dusver het niemand nog daardie stryd, wat ewe ongewild en ondankbaar was as dié van Geert Wilders se Partij voor de vrijheid in Nederland, beskryf nie en loop dit gevaar om in die vergetelheid te versink.

Tot tyd en wyl daardie onlangse Afrikanerstryd verwoord word, kan ‘n mens egter met interesse en genoegdoening Martin Bosma se relaas oor die konserwatiewe revolusie in Nederland lees.

Ek gebruik hier doelbewus die term van die Duitser Carl Schmitt, “konserwatiewe revolusie”. Onder al die regse denkers van die twintigste eeu is Schmidt van soveel belang dat selfs die linkses hom, soos Nietzsche voorheen, nie kon ignoreer nie.

Nie so lank gelede nie het ek en die besoekende Israeli Avigdor Eskin juis ‘n uur lank in ‘n sauna oor ‘n konserwatiewe revolusie vir die Afrikaner en Suid-Afrika gefilosofeer. Dit was asof ons, kaal en swetend in die stoombad, soos die siniese filosowe van ouds gestroop van alle wêreldse besittings, die kortpad na die waarheid kon vind. Die sinici in ou Griekeland was bekend vir hul “kortpad na die waarheid” wat met persoonlike opoffering gepaard gegaan het.

As die Afrikaner nie binnekort ‘n kortpad na vryheid vind nie, is ek bevrees ons tyd in Afrika gaan uitgespeel wees. Maar by die lees van Martin Bosma, is die ondergang van Nederland en Wes-Europa ook nie so ver weg nie.

Tensy ons doelgerig en daadkragtig begin optree.

болезни десен лечение народными средствамиАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.