Menseregte in Zimzanië

Dan Roodt
Deel op

Die mite dat Suid-Afrika in 1994 ‘n liberale demokrasie met gewaarborgde menseregte ontvang het, het die afgelope weke dermate uigerafel dat ‘n mens dom of naïef – of albei – moet wees om nog daarin te glo.

Ek was oor die laaste week of twee al twee keer op Witbank om die saak rondom die vervolging van Willem Ratte en nege ander Afrikanermans te volg. Nie net is hulle op gefabriseerde klagtes in hegtenis geneem nie, maar is in ‘n tipiese Afrikatronk aangehou.

Volgens een van hulle is daar verhoorafwagtendes in die tronk op Witbank waarvan die regstelsel reeds “vergeet” het. Van hulle is reeds tien jaar daar en weet nie meer wat van hul sake geword het nie.

Ons het gesien hoe ‘n wond wat die bejaarde Clive Derby-Lewis van sy boeie opgedoen het weens gebrek aan mediese sorg in die gevangenis uiteindelik in gangreen ontwikkel het. Slegs hofbevele het hom in staat gestel om mediese sorg in ‘n privaat hospitaal te ontvang.

In die tronk op Witbank is daar insgelyks swart gevangenes met meswonde wat mediese behandeling geweier word of wat eenvoudig toegelaat word om te vergaan. Of hulle uiteindelik sterf, gaan die owerheid nie aan nie.

Die horde liberale skreeuers wat destyds in die ou Suid-Afrika gal gebraak het oor die regte van gevangenes, aangeklaagdes of verhoorafwagtendes, het tjoepstil geword.

In hospitale word oumense nie versorg nie of pasiënte wat dringende mediese behandeling nodig het, word toegelaat om dood te gaan, soos in die Johannesburgse algemene hospitaal gebeur het.

Voeg hierby die sistemiese rassediskriminasie wat daar teen blankes in die land gepleeg word en ‘n mens moet erken: daar is geen verskil tussen Suid-Afrika en Zimbabwe (of enige ander Afrikaland sonder wet en orde) nie. Daar is al soveel name verander dat Suid-Afrika maar gerus ook tot “Zimzanië” herdoop kan word, synde ‘n samevoeging van “Zimbabwe” en “Azanië”. Die Limpopogrens is in elk geval al lankal afgeskaf en die ineenvloeiing van die twee lande se bevolkings en morele waardes is reeds voltrek.

Trouens, na my mening is daar besig om tans ‘n misdaad teen die mensdom in Zimzanië gepleeg te word. Afgesien van vergrype deur die polisie en die gevangenisowerheid, ervaar ons ‘n stelsel van etniese verdrukking en diskriminasie wat deur die volkereg verbied word. Transformasie is so radikaal en ekstremisties dat ‘n mens dit kwalik nog met die onskuldig klinkende Afrikaanse term “regstellende aksie” kan benoem. Dit hoort eerder tuis in die geselskap van Stalin se reeks politieke suiwerings en massamoorde, die Nazi’s se vervolging van Jode of Pol Pot se revolusie in Kambodja wat insgelyks op volksmoord uitgeloop het.

Die onbeskryflike geweld wat daar elke dag in ons land woed, is die regstreekse uitvloeisel van rassehaat en aanhitsing deur ANC-politici soos die afgestorwe Peter Mokaba en die huidige Julius Malema. Selfs Mandela, die ikoon van die internasionale liberalisme, het hom ook reeds aan oproepe tot volksmoord op blankes en Afrikaners skuldig gemaak.

Die hele stelsel is van A tot Z verrot, korrup en krimineel. Daarom is dit elkeen se plig om dit te beveg op die manier wat hy of sy kan. Iewers in die nabye toekoms sal almal wat aandadig aan die instandhouding van Zimzanië en sy menseregtevergrype was, vir misdade teen die mensdom vervolg moet word. Dit sluit ook die klas van ideologiese apologete en propagandiste in wat hul leuens en propaganda via die ANC-beheerde massamedia uitsaai. Hulle is ewe aandadig as die polisieman wat in uniform moord of roof op burgerlikes pleeg, of die president wat sy handtekening op ‘n stuk anti-blanke, rassistiese wetgewing plaas.
Ook in Afrikanergeledere verkeer daar duisende meelopers en medepligtiges aan die totalitêre stelsel wat ons tans teister. Met hulle sal daar eweneens gehandel moet word, want hulle is op die keper beskou niks minder as oorlogsmisdadigers en menseregte-oortreders nie. Die Afrikanerpolisieman wat klakkeloos bevele van sy ANC-base uitvoer of die tronkbewaarder wat meedoen aan die onregte en vergrype van die ANC-goelag, is ewe skuldig as die argitekte van transformasie en verdrukking wat oor ons heers.

Die onbekende boer van Rustenburg wat die ANC tans in die internasionale strafhof in Den Haag vervolg, het die regte idee. Tewens, ek het reeds my en PRAAG se steun hiervoor aan sy prokureur toegesê. Maar elkeen van ons moet betrokke raak by die stryd. Ons moet gedurig die buitelandse ambassades, Amnestie Internasionaal, die Rooikruis en ander internasionale organisasies inlig oor die massiewe menseregtevergrype wat in Zimzanië aan die gang is.

Die gevolge van hierdie oortredings kan gesien word in die blanke plakkerskampe wat oral in Gauteng en elders verrys het. Ook in die afgelope tyd het ek twee maal besoek afgelê by die Kroningsparkgemeenskap in Krugersdorp waar ongeveer 250 Afrikaners ‘n voormalige karavaanpark beset. Die ANC-munisipaliteit ontsê hulle die mees basiese dienste en beskerming, waaronder elektrisiteit. Nie net is hul krag nege maande gelede sonder rede afgesny nie, maar selfs die kabels is verwyder om dit vir hulle onmoontlik te maak om ooit weer aan die kragnetwerk te koppel.

Die verskynsel van blanke en Afrikanerarmoede is regstreeks aan “transformasie” en die owerheid se rassistiese arbeidswette en -regulasies te wyte. Die Afrikaanse skole het tot onlangs ‘n matriekslaagsyfer van 98% gehad, dus is die meeste van ons mense geletterd, opgelei en in staat om te werk. Die rede waarom hulle in werkloosheid en armoede verval, is suiwer weens regstellende aksie, wat ook wederregtelik en in stryd met internasionale norme deur die korporatiewe sektor toegepas word.

In die VSA was daar reeds ‘n hele aantal uitsprake van hul hoogste hof, die Hooggeregshof, waarin regstellende aksie as ‘n vorm van anti-blanke diskriminasie verbied is. Internasionale konvensies verbied diskriminasie teen nasionale minderhede of rassegroepe soos die Afrikaners of blanke Suid-Afrikaners.

Die staat is reeds besig om te misluk en die hospitale, skole, gevangenisse, polisiediens, munisipaliteite en ander instellings stort in duie terwyl die mees weerlose mense daaronder ly.

In Oos-Europa het kommunisme misluk. Maar in Suid-Afrika het liberalisme van die Amerikaanse, Britse en Wes-Europese tipe met sy rassistiese bevoordeling van gekleurdes insgelyks skipbreuk gely.

Soos Solsjenitsin en die Franse “nuwe filosowe” van die sewentigerjare, stry ons vandag teen totalitêre denke en ‘n stelsel wat sulke denke beliggaam. Dit is ‘n intellektuele, ideologiese en uiteindelik fisieke stryd.

Daar bestaan vandag geen beter organisasie in die land as PRAAG om daardie stryd suksesvol te voer en uiteindelik verandering in ons land te bewerkstellig nie. Ons het ‘n plan om die Afrikaner en ander groepe in die land vanuit hierdie dwingelandy te bevry. Hoe gouer u deel daarvan word, hoe gouer kan ons ‘n einde aan die huidige ellende maak.

86 купитьлобановский александр игоревич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.