Ratte en koning Rugby

Met die Curriebekerseisoen wat einde toe snel, is Koning Rugby skielik beleër. Presies hoe groot die opstand is vanuit die geledere van dié sport se eens tradisionele ondersteunersgeledere, is nog nie duidelik nie, maar volgens veral blogkommentare wil dit voorkom asof dit waarskynlik beduidend is.

Dié kommentare het dit veral oor Afrikaners wat steeds rugbymal is, terwyl daar onregte teen die volk, of lede van die volk gepleeg word. Die twee name wat veral opduik, is oud-kommandant Willem Ratte wat aangekeer is, en nou op ‘n eetstaking is, en Clive Derby-Lewis wat baie siek in die tronk is.

Dit kom voorts teen die agtergrond van ABSA se transformasie-eise vir rugby, en veral die uitvoerende hoof, Maria Ramos se stelling dat wie se brood ‘n mens eet, dié se lied moet ‘n mens moet sing – ‘n duidelike aanduiding dat ABSA van SA Rugby verwag om by ABSA se eie beskouing van ragebaseerde transformasie in te val.

Die beswaarmakers se argument is basies dat Afrikaners hul siele aan rugby verkoop, terwyl hulle nie daar welkom is nie, en diegene wat hiervoor verantwoordelik is, kop in een mus is met diegene wat vergeldend teenoor Derby-Lewis, Ratte en ander optree.

Ietwat gesensor, lui een kommentaar: “Los die verbrande rugby solank as wat Ratte besig is om in die tronk dood te gaan.”

Dit staan, in die laaste instansie, teen die agtergrond dat baie Afrikaners soos vreemdelinge in hul eie land voel.

Dat dit hier om persepsies van ‘n onbekende skaal handel, is kwalik ter sake. Die feit is dat dit bestaan, en soos sake nou staan waar koerantopskrifte met slegte nuus nie minder word nie, en die regering se reaksie daarop meer ontstellend word, sal dit in alle waarskynlikheid verder toeneem.

Onder diegene wat openlik ‘n breekspul bepleit – soms met die uitdruklike versugting dat meer Afrikaners in die proses ‘n volkstaat sal opeis, is daar lank reeds ‘n frustrasie dat koning rugby soos ‘n dwelmmiddel hierteen inwerk. Wanneer rugby aan die bod kom, word alle sorge vergeet, en raak mense uit hul kassie. Dit is ook, tot frustrasie van sommige van die ongelukkiges, gebruik vir groot versoeningsgebare soos rugbywedstryde in Soweto.

Rugby is ‘n hoogs kommersiële sport. Soos sake nou reeds staan kan plaaslike rugby nie werklik met oorsese klubs meeding om van die land se topspelers plaaslik te laat meeding nie. Baie mense, waaronder ook baie Afrikaners, kan nie betaal-TV bekostig nie, en so word heelwat van die jonger geslag in ieder geval basies rugbyloos groot. Provinsiale spanne het dikwels bitter min plaaslike talent op die veld, wat dikwels tot erg wisselvallige vertonings lei. Dit laat provinsiale lojaliteit erodeer, en stadions is baie dikwels baie leeg.

Al is die Afrikaner se rugby-afvalligheid nog bitter klein, die feit is dat dit daar is, en dat die internet ‘n doeltreffende meganisme bied om hierdie ongelukkigheid te laat eskaleer.

Rugby kan baie doen om die effek teen te werk. Dit kan – en behoort – die rug styf te maak teen regeringsinmenging in sport. Omdat die internasionale rugbyliggaam, soos die meeste ander sportkodes soos Fifa en die IOK regeringsinmenging en rassisme in sport verbied, behoort SARU deur die IRB gerugsteun te word as die regering met rasgedrewe transformasie-eise by rugbysake inmeng.

Of rugby kan dobbel en rug styfmaak, en vertrou dat die opstand nietig sal bly. Dalk, net dalk, spring die bal egter verkeerd.

потолочные современныеЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.