Gevaarligte flikker oor museums

Deel op

Gewoonlik is daar ‘n regte manier van dinge doen, en daar is ‘n verkeerde manier van dinge doen.

Oor die meriete om museums in Bloemfontein saam te smelt ter wille van die beter aanwending van hulpbronne wat veral kleiner museums – ook in die omgewing – sal bevoordeel kan gedebatteer word. Daar is gereeld berigte oor klein museums in die omgewing van Bloemfontein wat tekens verval toon. By een museum sal ‘n besoeker aan die instansie se “landbou-afdeling” byvoorbeeld gelukkig wees om die stukkies geroeste metaal tussen die lang gras op te spoor.

Wanneer die hoofde van verskeie museums egter in die koerant moet lees dat so ‘n samesmelting beoog word, en boonop dat gesprekke glo al ver gevorder is, begin die gevaarligte reeds flikker.

Kruie die mededelings nog met ‘n taalgebruik wat sommiges as haatspraak beskou, dan is daar bepaald ‘n skroef los. Weer duik die omstrede en gelaaide woord, transformasie, op en dit kort na die ABSA-debakel vir soveel woelinge gesorg het.

Transformasie neem nou – gegewe die taalgebruik – die vorm aan van ‘n heksejag op veral wit mans. Blykbaar is geen taalgebruik erg genoeg om dié spesie mee af te kraak nie, ook nie binne die konteks van sy grondwetlike kultuurerfenis nie.

Onlangs het die ANC-lojalis, dr. Jakes Gerwel, in dieselfde asem wat hy meen die ANC is ‘n vrotsige regering, tog beswaar gemaak dat die ANC dikwels as landsvyand voorgehou word.

Maar walgooi soos hy wil, die tekens dat dit juis die geval is laai op. Sal ‘n regering met edele motiewe so ‘n veldtog op tou sit om die media te muilband en die publiek se reg op inligting te beperk? Beide hierdie regte is in die grondwet verskans. Sal ‘n regering met edele motiewe soveel vrye teuels aan leiers in eie geledere gee wat liedjies aanhef soos “Maak dood die Boere,”?  Nadat Pansat die regering as die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings beskryf het, was die regering reeds verskeie kere in die hof oor taalkwessies. Die jongste toevoeging tot hierdie langerwordende lys is toe die leier van die Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha, die onteieningsplanne in die nuwe Groenskrif oor Grondhervorming as diefstal beskryf het. Ook eiendomsreg is in die grondwet, en boonop die Handves van Menseregte, vervat.

Voeg hierby die ritse verslae van die ouditeur-generaal waarin die regering op alle vlakke die kous oor die kop kry. Op die oomblik word baie mense in Bloemfontein se elektrisiteit ontkoppel weens sogenaamde wanbetaling. Verontriefde inwoners moet dan skarrel om hul betalingsbewyse te faks na ‘n lang rits meestal onbeantwoorde oproepe dadels opgelewer het.

Kortom, in Bloemfontein maak dure ervaring dat baie mense transformasie blindelings as ‘n verwoesting van standaarde beskou. Om hierdie woord nou saam met erg gelaaide taal te gebruik om vir die een of ander beter bedeling voorspraak te maak, doen niks anders as die skep van ‘n “ons en julle”-situasie nie.

Nee wat prof. Jakes, soos hulle al lankal sê: Die wind waai wes.

купить диагностику для автоФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.