Grense en laer trek

Deel op

As opgeleide Politieke Geograaf is grense vir my geen onbekende nie.

Grense het so ‘n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel dat ‘n deel van die land vandag nog as die Grens bekend staan. Dan het “die grens” waar jong manne gaan veg en baie hul lewens verloor het, ook ‘n diep spoor in die Afrikaner se kollektiewe geheue getrap.

Die grens is sedertdien nie net geografies nie, maar psigologies baie verskuif.

Met ‘n geografiese grens kan nog ‘n streep op die grond getrek word, ‘n fisiese, gewoonlik bewysbare streep wat die lewens van mense weerskante beïnvloed. Word die grens onoordeelkundig getrek, is dit maar te dikwels die vonk in die kruitvat. Die “oorgang” van grens op die grond (of gebioedswaters) en die “grens in die kop” was die laaste week ook ‘n tema van Media 24 se verteenwoordiger in Europa, Leopold Scholtz. Hy verwys na die grens tussen die ou Wes- en Oos-Duitsland wat vir die ouer garde nog ‘n “grens in die kop” vorm.

“Grense” is die gedagte wat vanoggend by my opkom toe ek Rapport op die troon vluglees. Nie soseer geografiese grense nie, maar persepsiegrense.

Dit is ‘n artikel / rubriek deur die City Press se redakteur, Ferial Haffajee, wat die gedagte geplant het. Haar belewenis en vertolking van die van die ABSA – Afriforum-debakel.

Net ter aanvang, sy erken ruiterlik sy is die bevoordeelde produk van regstellende aksie. Ek het nog min bevoordeeldes raakgeloop wat bereid was om te erken dat die geleenthede wat hulle gekry het, met iets anders as meriete te make gehad het. Dit beïnvloed haar denke. Dit is veral skreiend dat sy, anders as die grondwet, ras as so ‘n bepalende norm verhef. Het sy byvoorbeeld een keer gedink hoe “regstellende” optrede die lewe van ‘n gestremde kind raak wie se wit ouers weens “regstellende aksie” nie die mas kan opkom nie?

Elkeen se persepsiegrens word getrek volgens sy eie ervaringsveld. Myne, destyds met die samesmelting van die ou Vrystaatse Provinsiale Administrasie en die Qwaqwa-regering. Aan “ons” kant hoofsaaklik wit bekleërs, aan die Qwaqwa-kant feitlik uitsluitlik swart ampsbekleërs. Die probleme om met jou Qwaqwa-ampsgenoot in verbinding te tree om die samesmeltingsproses te bespreek, soos dat hy met die staatskar in Durban gaan vakansie hou het (sonder om verlof in te sit) tersyde, die algemene ervaring was dat jong mense in “hul” administrasie rypgedruk is, bitter hoë range beklee het – veel hoër as sou hulle in ‘n oop stelsel om bevordering meegeding het. Senior wit polisieoffisiere moes na die samesmelting vind daar is skielik nog seniorder offisiere – maar onervare snotkoppe – wat in die destydse tuislande net moes keer, of hulle was almal veldmaarskalke.

‘n Paar maande later, met hierdie kollegas in bitter senior poste in die saamgesmelte administrasie geakkommodeer,  het hulle skielik nooit bestaan nie en moet verwoed regstellende aksie gepleeg word om die onregmatige bevoorregting van blankes reg te trek. Die werklikheid moet ‘n mite bly omdat ‘n bietjie meer objektiwiteit die mite dat afsonderlike ontwikkeling swart mense niks gegun het nie, bietjie uit sy gietyster sal beur.

Haffajee sit ook gatvas in hierdie persepsie, en het dan die vermetelheid om na haarself en soortgelykdenkes te verwys as hulle wat verkies om buite die laer te wees. Wanneer is hierdie grens so verskuif dat blote persepsies swaarder as feite weeg.

Haffajee se artikel is ook geskryf voor Maria Ramos self tot die debakel toegetree, en rug styfgemaak het. Dit wil egter voorkom uit Haferjee se redenasies dat Ramos se standpunte nie ‘n aks verskil aan haar gevolgtrekkings sou maak nie. Ramos het dit naamlik duidelik gemaak dat ABSA die grens van dit wat Volkskas eens was oorgesteek het, en dat ABSA as borg verwag dat Suid-Afrikaanse rugby moet ophou om so wydsbeen oor die grens kamp op te slaan.

Miskien, voor Haffajee haar mond so uitspoel oor wie binne en buite die laer is, moet sy ‘n slag objektief kyk na wat gebeur as Pakistan, maar veral Indië, in Durban of selfs Johannesburg ‘n kriekettoets speel. Dit klink omtrent of daardie spanne tuistoetse speel. Speel die Springbokke rugby teen wie ook al, vir wie skree die Afrikaners wat sy so “in die laer” van beskuldig? Vir die Springbokke, en hulle sal waarskynlik vir die Bokke skree selfs al is die Springbokembleem op die spelers se agterente vasgewerk, en al speel die beste spelers oorsee.

Weet Haferjee nie hoe werk Indië se grondwet van ‘n etniese federasie nie, met gereserveerde parlementêre setels vir die pre-Indiese inheemse bevolking? En dat die Indiese (en die Europese Unie) se grondwette meer in pas is met die moderne volkereg as die Suid-Afrikaanse?

Haffajee in haar laer eers daargelaat.

Hoe verwater grense is, blyk ook uit Jan-Jan Joubert se respons op die ABSA-kwessie. Jan-Jan vra die vraag oor watter alternatief Afriforum vir ABSA bied, en om hierdie rede word Afriforum se optrede as nie baie logies nie beskryf. (Eintlik is dit ‘n aksie van Solidariteit, waarby Afriforum ingeval het).

Wat ek wel op sekere webwerwe, soos dié van Praag, gesien het is dat ‘n paar opsies wel voorgehou is, onder andere Oranjekas. Trouens, ‘n baie groot deel van die leserskommentare het juis oor alternatiewe, en baie hiervan weer oor Oranjekas gehandel.

Ek het nie genoeg bandwydte beskikbaar om die kwessie intensief te bestudeer nie, en daarom mag ek baie verkeerd wees. Maar baie van dieselfde mense wat op Praag se webwerf oor Oranjekas geskryf het, het ook aan dieselfde debat in Die Burger se web-kommentare deelgeneem. ABSA het nie juis ligter daarvan afgekom nie, ook nie onder skrywers wat nié eiertjies op Praag se woernaal gelê het nie, maar so ver ek kon sien, is Oranjekas of enige ander alternatief nie genoem nie. Toegegee, ek het ‘n verdwaalde pleidooi vir Capitec of iets gesien.

Kommentare op Naspers se webwerwe word gekeur, weliswaar baie ruim gekeur, maar kan dit blote toeval wees dat alternatiewe op een plek intensief bespreek sal word, en op ‘n ander verswyg word? Sodanig dat ‘n senior joernalis dit ook mis?

Bloot ter wille van die argument, kom ons kyk ‘n bietjie na die laer wat mense wat meen hulle is buite die laer, om hulself trek:

–           ‘n Benadering oor hoe goed die grondwet is wat nou kwalik, gemeet aan die realiteite, as iets anders as domastrantheid beskou kan word. Max du Preez en geesgenote kan lekker kla oor die manier waarop met die grondwet en sy beginsels omgegaan word (en soos Flip Buys vandag ook in Rapport uitwys, transformasie is nie in die grondwet nie), maar as na oplossings gekyk word, is daar geen breinvrug anders as dat skouer aan die wiel gesit moet word om die grondwet te maak werk nie. Kan ‘n grondwet werklik as goed, en selfs wonderlik, beskryf word as dit so maklik geskend kan word? En voor ‘n mens sommer uitsprake maak oor hoe die grondwet ter wille van die grondwet se handhawing ingespan moet word, gaan lees tog die grondwethofsaak van Walker vs City Council of Pretoria. Nie net die meerderheidsuitspraak nie, maar sommer ook Abie Sachs se minderheidsuitspraak wat dikwels as die geldende reg aangebied word. Kortom, dis nie so maklik om die staat te dwing om hom by die grondwet te hou nie. Sonder instansies soos Solidariteit en Afriforum wat die geldelike spierkrag en wil vir hofsake het, was dit onmoontlik. (En waar sou landbou in Suid-Afrika gewees het as Agri SA nie enduit met die Modderklip-saak deurgedruk het nie, ‘n saak wat die staat van a – Z verloor het).

–           Sedert die vryburgers die Kaapse verversingspos se grense begin versit het, het die Afrikaner talle groot traumatiese ingrypings beleef. Trouens, die eerste plaasmoord het sommer kort na die instelling van die Vryburgers gekom. Dit het neerslag gevind in die volk se literatuur. Gedigte oor die Bloukransmoorde en die Anglo-Boere-oorlog het die lot in digterlike taal deel van die volk se literêre geskiedenis gemaak. Met die aanbreek van apartheid het talle digters, veral die Sestigers, die mond erg hieroor uitgespoel. ‘n Klompie het in selfopgelegde ballingskap gegaan. Toe die laaste apartheidswet in die tagtigerjare geskrap is, reageer die digterskorps asof hulle uit hul gemaksone verneuk uit. Van 1994 af het ‘n horde rassewette weer die wetboek gehaal, het plaasmoorde ‘n nimmereindigende epidemie geword, en het veel meer Afrikaners ter wille van kos op die tafel in diaspora gegaan of werk die broodwinner iewers in ‘n woestyn. Na twintig jaar kan die digterskorp nie werklik die sprong oor dié grens maak nie. Die rou riool wat deur strate en in riviere loop bied skynbaar net nie daardie digterlike romantiek van krom straatjies en toue by die paskantoor nie. In teendeel, onder die korps “beg” een om swart te wees. Wie het ‘n ondeurdringbare grens om ‘n laer in die kop getrek?

–           Meer as ‘n dekade na 1994 was die media in ‘n patetiese greep van politieke korrektheid. Die uittog hieruit is deur swart redakteurs ingelui. Ook Haferjee kry deel van hierdie krediet. ‘n Paar jaar later staan die vraag egter sterk – het die Afrikaanse media nie die afstaan van politieke korrektheid anders as die swart redakteurs gelees nie? Sommige van presies dieselfde swart redakteurs wie se name as helde genoem is,  tel onder diegene wat die afgelope jaar waarskuwings aan blankes gerig het oor hul kritiek op die ANC wat as kritiek op swart vertolk word, en selfs ‘n bloedbad is genoem. Is dit miskien nie onbillik nie om af te lei dat dit eintlik ‘n aanvanklike anti-Mbeki-aanslag was? Met Mbeki uit die kussings het die swart redakteurs grootliks na hul laer teruggekeer, en die blanke redakteurs hoog en droog gelaat. Trouens, die grens tussen daardie laer en die Afrikaanse redakteurs sou duideliker gewees het as die Afrikaanse redakteurskorps nie ook mense soos Henry Jeffreys en Zelda Jongbloed ingesluit het nie. Na hierdie struggle-linie (nou onregstreeks betrokke) word gevolg deur ‘n duidelik liberale grens wat sorg dat Jongbloed, Jeffreys, Max du Preez, Jakes Gerwel en ander ruimskoots vanuit hierdie laer op die ruimer en enger denkende Afrikaners skrootskote kan afvuur. Suid-Afrika se media is miskien nie heeltemal eiesoortig wat dit betref nie. ‘n Opname van sowat ’n dekade gelede het ook getoon dat die media in die VSA neig om meer liberaal as die gemiddelde Amerikaner te wees. Sonder hierdie besef in die agterkop is dit bykans onmoontlik om die Amerikaanse politiek te “lees.” Hoe kômmin is dit nie om die lesers in ‘n persepsie van tweepartypolitiek (ANC en DA) vasgevang te hou nie.

–           In min of meer dieselfde asem die gedagte dat liberaal en modern dieselfde konsep behels. Probeer dit aan die Europeërs en selfs die Amerikaners verkoop. Hierdie is ‘n onderwerp op sy eie, maar opsommend kan dit opgesom word as ‘n besef dat liberalisme weg van die punt staan waar individuele regte, om nie van eens van kollektiewe regte te praat nie, en verantwoordelikhede mekaar moet balanseer. Na ‘n ruk byt die ontrafelde samelewingstrukture na die hand wat dit gevoed het. Moontlik die mees nommerpas voorbeeld is waar die pers se fokus op sy regte tot ‘n verskraalde persepsie van verantwoordelikhede gelei het, en nou die pers aan die hakskeen kom hap. Selfregulering het byvoorbeeld ‘n ronde eier opgelewer toe minstens een groot koerant ‘n landdros se waarskuwing aan die politici en media om nié die Reitz-vier se skuldigbevinding vooruit te loop nie, geïgnoreer het. Ironies het die verjonging wat met transformasie gepaard gegaan het tot die media se verskraling van kundigheid gelei het, wat waarskynlik baie daarmee te make dat die media (voorlopig minstens) nog minder met selfregulering toevertrou kan word. Aan die ander kant verg ‘n demokrasie – veral waar een party so oorheers – ‘n vrye media wat wanadministrasie en korrupsie genadeloos aan die kaak stel – en dit vereis weer ervaring en vaardigheid wat nou bitter skaars in die media is. Ironies, dat juis Haffajee as betreklike jongeling, tydens haar diens as redakteur van The Mail & Guardian hierdie taak so skitterend verrig het.

–           Waarskynlik die mooiste voorbeeld van laer trek word juis in die mediavryheidsdebat gedemonstreer. Dit is laat in die dag as selfs ministers meen die media moet in die bek geruk word omdat hulle nie die rewolusie nie, maar die demokrasie / liberalisme dien. Dit kan baie maklik as ‘n eufemisme beskou word dat die media eintlik verkwalik word dat dit die grondwet, in plaas van die “voortgesette rewolusie” dien.

Op die minste kan die pot nie die ketel oor laer trek beskuldig nie. Soek die Afrikaner bande buite sy “laer” soos met stamgenote in Europa, is dit ook verkeerd, bloot omdat dit as verkeerd beskou word. Pres. Jacob Zuma se pleidooi in dieselfde omgewing dat geteikende sanksies teen Mugabe en sy binnekring duidelik voortydig, en op rassesolidariteitsgronde, opgehef word, word slegs sektoraal as verkeerd beskou, en dan veel minder as bona fide bande tussen Dietse stamgenote. Dit laat die vraag of laer trek noodwendig so verkeerd is? Moet die inhoud van dit wat in die laer gekoester word, nie eerder objektief beoordeel word nie. Word ‘n onreg gekoester, val dit aan.

Wat die Afrikaner betref, word die grense van die laer boonop dikwels vervaag deur die feit dat die “voortgesette rewolusie,” wanneer dit Afrikaners en Afrikaanssprekendes se belange raak, nie selektief is oor of die slagoffers hulle binne of buite die “Afrikanerlaer” bevind nie. Bedoeld of onbedoeld, die dryf van pleknaamsveranderings is meer gemik teen name met Afrikaanse herkoms as enige ander. Die protes kom nie net “uit die laer” nie, hoewel daar ook volop negrofiliste is wat skynbaar die houding koester dat rassegelykheid beteken dat een ras meer gelyk as die ander moet wees, solank dit swart is. (‘n Manifestasie hiervan is die uiters rassistiese opvatting dat ‘n swart persoon per definisie nie ‘n rassis kan wees nie, omtrent net so logies as dat ‘n vrou per definisie nie ‘n feminis kan wees nie). Afrikaanse skole en veral universiteite is deurgaans in die spervuur. Diegene wat vir die grondwetlike regte van Afrikaans stemming maak word gou-gou as nieu-konserwatiewes geëtiketteer. Selfs die magiese stamboom van Dakarganger wees – wat eens soos ‘n ondeurdringbare grens teen liberale kritiek getrek was – vrywaar iemand nou om nie transformasie-haaikos te word nie.

Is daar ‘n uitweg uit hierdie begrensde denkelaer waar die media – lawaai vir mediavryheid ten spyt – tog aktief die gemeenskap volgens eie oorheersende denke probeer rig?

Tim du Plessis, nou redakteur van Beeld, het in sy termyn as redakteur van Rapport ontken dat die gedrukte media nog hierdie rol kan vertolk, en onder meer verwys na die rol van “alewige blogs.” So ‘n groot inligtingsvloei gaan by die media verby dat die media wat die inligting probeer weerhou, se geloofwaardigheid maklik in die slag kan bly.

Verslaggewers sonder Grense, waarskynlik die wêreld se belangrikste mediawaghond, het onlangs ook die ANC gemaan of af te sien van sy mediasnoerplanne. (Tot absolute skande van die plaaslike media is hierdie intrede in hul belang feitlik geïgnoreer). Verslaggewers sonder Grense hou nie net ‘n taamlik betroubare register by van regeringsoptredes teen die media en joernaliste nie, maar is ook verantwoordelik vir die mees gesaghebbende persvryheidsindeks. Die laaste aantal jare word egter ook ruim ruimte afgestaan aan regerings se optredes teen die internet. Volgens die jongste syfers is daar vanjaar al 112 internetjoernaliste toegesluit (netizens genoem) teenoor 157 konvensionele joernaliste.

Voor die internasionale fiskale krisis was daar in Europa verskeie moraliteitsaksies met die media en die politici saam as vernaamste teiken om te moraliseer. Dit is ironies dat die media en die politici mekaar hier oor moraliteit verwyt soos die pot die ketel verwyt. Met die aanbreek van die fiskale krisis is die wêreld geskok oor die grenslose inhaligheid van die magnate wat die wêreldekonomie dirigeer – sodanig dat hulle selfs staatshulp gebruik het om steeds reuse bonusse aan hulself toe te ken, terwyl die eerlike belegger geknou, en werkers die trekpas gekry het. Blykbaar versag hierdie skerp fokus nou, en die media en die politici sal binnekort weer onder die vergrootglas kom. En die internet sal sorg dat hierdie verwikkelinge nie begrens word nie.

установкаЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.