Ratte, Derby-Lewis: dis nes Zimbabwe!

Dan Roodt
Deel op

Enigeen wat nog ‘n laaste, flou illusie gekoester het dat Suid-Afrika iets met Westerse demokrasieë in gemeen sou hê, is die afgelope paar dae wreed ontnugter. Sowel die mishandeling van Clive Derby-Lewis as die summiere inhegtenisname van WIllem Ratte en nege ander kon net sowel in Zimbabwe plaasgevind het.

Nie net word die bejaarde Derby-Lewis, ‘n voormalige parlementslid van Suid-Afrika, parool geweier nie, maar in die gevangenis is hy so mishandel en verwaarloos dat hy gangreen opgedoen het. In ‘n absurde, Idi Amin-agtige magsvertoon, het sy swart bewaarders selfs daarop aangedring om in die operasiesaal teenwoordig te wees waar dokters sy been probeer red het.

In die geval van oud-kmdt. Willem Ratte word daar ‘n klopjag op sy plaas en sweisakademie vir hawelose jongmense uitgevoer en links en regs b eskuldigings van “terrorisme” rondgeslinger. Koerante van Media 24, wat reeds tydens Eugene Terre’Blache se moord getoon het dat hulle enige vuige gerug op voorblaaie sal plaas, het gou-gou etikette soos “verregs” en “terroris” op Ratte en sy medeslagoffers van staatsgeweld geplak.

Mandela het 27 jaar lank op Robbeneilend en in Victor Verster deurgebring en as ‘n gesonde man daaruit gestap. Ná 17 jaar in die ANC se tronk kan Clive Derby-Lewis getuig dat Suid-Afrikaanse tronke deesdae goed met hul eweknieë in Zimbabwe en ander Afrikalande vergelyk waar gevangenes sonder mediese sorg en dikwels sonder kos moet krepeer.

Menseregteskendings het sinoniem met die ANC-bewind geraak. Terwyl Rapport my daarvan beskuldig het dat ek in Meimaand “met Sweedse neo-Nazi’s wou heul”, was die hoofdoel van my besoek aan daardie land juis om die Sweedse regering onder die indruk te bring dat ons menseregte in Suid-Afrika daagliks vertrap word.

Oud-genl. Johan van der Merwe, wie se boek Trou tot die dood toe onlangs deur Praag uitgegee is, het aangetoon dat daar jaarliks tussen 600 en 700 sterftes in aanhouding in ons land plaasvind, ‘n astronomies hoë syfer. Iemand soos Willem Ratte word, hetsy vanweë sy geskiedenis van suksesvolle militêre optrede teen die swart terreurbewegings van die verlede, hetsy weens dissidente idees, onnodig geteister en vervolg. Ek en u, liewe leser, kan volgende wees.

Kennelik is menseregte in Suid-Afrika net van toepassing op die ANC, sy ampsdraers en ondersteuners. Die ware toets vir ‘n liberale demokrasie is egter die staat se verdraagsaamheid teenoor diegene wat nié die regerende party of sy ideologie ondersteun nie. Suid-Afrika in sy huidige toestand druip hierdie toets jammerlik as ons gevalle soos Clive Derby-Lewis en Willem Ratte in ag neem.

Die ANC se politieke gevangenes van destyds was meesal veroordeelde moordenaars en terroriste wat onskuldige burgerlikes aangeval het, iets wat ‘n oortreding van die tweede protokol van die Geneefse konvensie was. In ‘n wesentlike sin was die politieke gevangenes van destyds ook oorlogsmisdadigers. Vandag word mense egter in die tronk aangehou of gearresteer bloot omdat hulle ideologies van die ANC verskil. Ook behoort sulke mense tot die verdrukte minderheid van Afrikaners wat deur wetgewing en die sogenaamde “transformasiebeleid” tot tweedeklasburgers in hul geboorteland gereduseer is.

Terwyl die ANC en sy destydse buitelandse ondersteuners soos die Anglikaanse Kerk en die Sweedse regering groot gewag gemaak het van politieke gevangenes – waaronder natuurlik Mandela, maar ook ander – word hedendaagse politieke gevangenes geïgnoreer deur sowel die media as internasionale instansies. Om vandag in ‘n ANC-tronk te beland, kan ‘n doodsvonnis wees omdat ‘n mens mediese sorg geweier word, asook natuurlik die gevaar van verkragting deur MIV-positiewe misdadigers.

Ons sal baie beter moet begin omsien  na ons politieke gevangenes en dissidente wat gedurig die gevaar loop om sonder rede in die tronk te beland. In ‘n wesentlike sin is hulle “gewetensgevangenes” volgens die definisie wat Amnestie Internasionaal in die sestigerjare geformuleer het: “…mans, vroue of kinders wat opgesluit word bloot weens die vreedsame uitdrukking van hul oortuigings of as gevolg van hul ras, geslag of ander persoonlike eienskappe”.

‘n Databasis van alle politieke gevangenes en die behandeling wat hulle in die ANC se tronke ontvang, sal dringend opgestel en wêreldwyd aan menseregte-organisasies gekommunikeer moet word. ‘n Man soos Clive Derby-Lewis wat onregverdiglik amnestie deur Tutu se lieg-en-biegkommissie geweier is en reeds sewentien jaar lank in die tronk krepeer, verdien ‘n internasionale veldtog vir sy vrylating, soortgelyk aan die Engelse se toentertydse  “Free Mandela”-veldtog.

Bowenal moet ons daarop voorbereid wees dat hierdie afskuwelike, totalitêre en rassistiese bewind sy mes vir elkeen van ons Afrikaners in het. Soos Solsjenitsin in die Goelag Argipel skryf: “Dis waar van vele dat die vernedering wat deur arrestasie vir hul persoonlike gevoelens en verbintenisse veroorsaak word, baie sterker as hul politieke oorrtuigings of vrees vir die tronk kan wees. Iemand wat nie in sy binneste voorbereid is op die gebruik van geweld teen hom nie is altyd swakker as die persoon wat die geweld pleeg.”

Soos Willem Ratte en sy studente vandeesweek ervaar het, gaan dit moed en inspirasie van ons verg om die aanslag teen ons die hoof te bied. Soos wat die leuens en hersenskimme oor “demokrasie” wat aan ons voorgehou is een vir een in duie stort, sal ons ons moet staal vir wat voorlê.

Maar elkeen wat nog in vryheid verkeer, sal moet help om die toestand vir hulle wat reeds in die ANC se tronke verkeer draagliker te maak. Soos wat die vierkant blou lug deur sy tralievenster vir die gevangene die droom van sy uiteindelike vryheid verteenwoordig, só moet elkeen van ons oortuig raak dat deur eendrag en harde werk almal van ons eendag daardie vryheid sal kan smaak.

Die tronkdeur van die Nuwe Suid-Afrika sal oplaas vir ons volk met ‘n geknars van sleutels in die slot oopgaan. Tot dan sal ons egter moet saamstaan en verwoed ons volksgenote in die regime se selle moet verdedig.

полиграф в суделобановский александр отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.