Ly die Afrikaner aan Swartdoodsindroom?

Deel op

Die optrede en reaksie van sommige Afrikanergroepe op die bedreiging vir ons voortbestaan, vergelyk kommerwekkend baie met die reaksie van mense in Europa ten tyde van die Swartdood.

In die eerste helfte van die veertiende eeu, het die Swartdood, of Buboniese Plaag oor Eurasië, en veral Europa gespoel, en binne ‘n paar maande is ongeveer 50% van Europa se bevolking, en veral sekere streke se bevolkings dood. In sommige gevalle is hele dorpe of stede uitgewis. ‘n Italiaanse skrywer, Giovanni Boccaccio, wat die effek van die plaag opgeteken het, het dit soos volg beskryf: “How many valiant men, how many fair ladies, breakfast with their kinfolk and the same night supped with their ancestors in the next world! The condition of the people was pitiable to behold. They sickened by the thousands daily, and died unattended and without help. Many died in the open street, others dying in their houses, made it known by the stench of their rotting bodies. Consecrated churchyards did not suffice for the burial of the vast multitude of bodies, which were heaped by the hundreds in vast trenches, like goods in a ships hold and covered with a little earth.”

Gedurende die hoogtepunt van die plaag, het die troebadoer Peire Lunel de Montech die uiters hartseer liriese gedig “Meravilhar nos devo pas las gens”geskryf. Een strofe hieruit lei: “They died by the hundreds, both day and night, and all were thrown in … ditches and covered with earth. And as soon as those ditches were filled, more were dug. And I, Agnolo di Tura … buried my five children with my own hands … And so many died that all believed it was the end of the world.”

Uit bogenoemde kan duidelik gesien word dat Europa se mense bedreig was met ‘n ogelooflike uitwissingsramp, en natuurlik het hulle vrae gevra oor wat aan die gang is omdat hulle nie die wetenskaplike kennis en tegnologie gehad het om die oorsaak van die siekte vas te stel en te oorkom nie. Die plaag het ‘n geweldige sosiale uitwerking gehad.

Stede en dorpe het hulleself probeer beskerm deur die stadspoorte te sluit, en enige vreemdelinge is weggejaag of doodgemaak. Sommige streke het pateties ‘n klipmuur op die grond gepak tussen hulle en ‘n streek waar die plaag voorgekom het. Maar daar moet onthou word dat die mense van Europa oorwegend gelowige Katolieke was, en die priesters in die kerke het probeer om ‘n Bybelse verklaring te gee. Hierdie verklarings het wyd verskil, en was dus die oorsaak van verskillende reaksies, waarvan die grootste die volgende was:

  • Sommige mense het geglo dat dit die einde van die wêreld was ingevolge die boek van Openbaring, en dus het sommige probeer wegkruip en hulle afgesonder, terwyl ander weer besluit het, dit is dan nou die tyd om vir oulaas te leef, te drink en sonde te pleeg, want hulle gaan in elk geval sterf.
  • Sommige het geglo dat God die mensdom straf as gevolg van die sondige lewenstyl hier op aarde, en dit het die gevolg gehad dat party heeldag gebid het, maar die uiterste effek was ‘n groep wat deur die geskiedskrywers die “Flagellants” genoem word. In Afrikaans sou ons hierdie mense die “Selfkasteiers” kon noem. Hulle het geglo dat God hulle en die mensdom sou vergewe, as hulle hulleself straf deur rond te gaan en hulleself op die rûe te slaan met swepe en gesels. Andere het hierby nog kruise ook gedra soos hulle van dorp tot dorp geloop het. Geskiedskrywers beskryf hierdie groep, wat maer en verhonger van dorp tot dorp geloop het, met minimum klere aan, en hoe hulle met bebloede rûe en roepend tot God gestap het. In sommige dorpe is hulle aangeval en doodgemaak.
  • Sommige groepe het geglo dat daar identifiseerbare mense in die samelewing was, wat die oorsaak was van hierdie plaag as straf van God, omdat hulle nie Katolieke was nie, en in hierdie geval is die Jode grootliks geteiken. Daar het onbeskryflike aanvalle op Jode plaasgevind, waarin hulle vermoor en verdryf is. Skrywers meld dat in sommige Joodse gemeenskappe man, vrou en kind doodgemaak is.
  • Buite die godsdiens, het gemeenskappe mekaar aangeval, net omdat hulle geglo het die ander gemeenskap is om een of ander rede die oorsaak van die plaag.

Die gevolge van al hierdie sosiale onrus en gebeure het ‘n geweldige uitwerking op Europa gehad, en dit het hulle 150 jaar geneem nadat die plaag verby was, om te herstel. Sommige skrywers meen dat 10% van die mense wat gedurende die plaag gesterf het, nie as gevolg van die siekte gesterf het nie, maar aan die hand van hulle medemens.

Dit is ‘n feit dat die mense van Europa bedreig was met totale uitwissing, en dat die oorsaak van hierdie geheimsinnige siekte ver bo hulle begrip was; vandaar die radikale oorsake wat hulle uitgedink het, en waarmee hulle probeer sin maak het van hulle omstandighede ten tyde van die plaag. Daardie wanhopige redevoering was ook die oorsaak van hulle ekstreme en vergesogte optredes.

Vir sommige mense en groepe word die Afrikaner ook vandag met uitwissing bedreig. Die pers is vol van die aanslag op ons taal, die moorde op die plase,  en ons weet hoeveel Afrikaners het al geëmigreer, en hoeveel praat daagliks of dit nie beter gaan wees om die land te verlaat nie. Verder is daar natuurlik die ANC se beleid van Swart Bemagtiging waardeur blankes nie toegang tot die arbeidsmag gegun word nie, ‘n swak onderwysstelsel wat ons kinders ‘n substandaard-skoolopleiding gee, en al hoe meer wetgewing wat sakemanne en boere wil dwing om sonder meer groot blokke aandele in ondernemings wat hulle deur harde werk opgebou het, net eenvoudig aan swartes te gee.

Ons is ontnugter, verdwaas, kwaad en daardeur soekende na die oorsaak van ons huidige omstandighede. En dit is hier waar ons mense hulle nou aan dieselfde wanhopige redes en optredes begin skuldig maak, as die mense van Europa tydens die plaag. Ons soek nou na ‘n adder aan eie boesem. So, waar is die ooreenkomste met die optrede van die Europeërs tydens die Swartdood?

1.         Sekere mense het klaar oorgegee, en glo dat die einde in elk geval al verby is – dat die Afrikaner nie meer bestaan nie. Hulle het vrede gemaak met die nuwe SA, en neem heelhartig daaraan deel. Ons drink, hou partytjie, woon dorps- en kunstefeeste by asof dit nooit genoeg sal wees nie. Hulle omhels die nuwe SA. Dis mos in elk geval verby.

2.         Sekere groepe glo dat God die Afrikanervolk straf, en dat ons ons moet bekeer en elke dag verootmoedig om aan Sy straf te ontkom. Daar word teruggegryp na die Ou-Testamentiese God van vuur en wraak oor die vergrype van Sy volk. Die simptome stem verstommend ooreen met Europa in die tyd van die Swartdood. Dit is net nie meer die inding om jouself fisies te straf nie, maar hulle straf hulleself geestelik genadeloos.

Ek het al reaksies op artikels, wat oproepe doen op Afrikanereenheid onder alle Afrikaners, op Praag se webblad gesien waarin dit duidelik is dat sekere Afrikanergroepe hulleself as die verteenwoordigers van God op aarde sien, en dat enigeeen wat nie soos hulle glo nie, “uitgewerp word in die buitenste duisternis”. Ek glo, as ons in die Middeleeue geleef het, sou die “uitgeworpene” ook doodgemaak word.

Een kommentator het geskryf: “As jy nie saam met my my God aanbid nie, is jy nie my broer nie!” Ek sou graag aan die skrywer wou vra; Watter God? Die God van vuur en swael, en wraak, of die liefdevolle God wat sy Seun gestuur het om as Lam gemartel te word, en aan die kruis te sterf vir ons sondes?

3.         Op ‘n ander Afrikanerwebblad lees ek dat daar ‘n Boerevolk, en ‘n Afrikanervolk bestaan, en dat hierdie twee se paaie moet skei. Dan kry jy die “liberale Kaapse Afrikaner” wat geen plek tussen die Transvalers en Vrystaters het nie. Die feit dat ons almal van dieselfde stamouers afstam, dieselfde taal praat en dieselfde kultuur het, dra by hierdie mense of groepe geen gewig nie. En die grootste “uitvaagsels” is die Afrikaners wat “ja gestem” het.

Daar is geen rasionele denke oor die werklike oorsake van die Afrikaner se huidige dilemma nie, en ek kon nog nie vasstel hoe daar gedink word oor die einste Transvalers en Vrystaters wat ook in duisende ja gestem het nie. En hoe nou gemaak as daardie einste ja-stemmers nou tot inkeer of “openbaring” gekom het dat hulle “skuldig” was aan hoogverraad, en nou wil hulle ook dinge weer verander om vir die Afrikaner ‘n regverdige bedeling of Vryheid te bewerkstellig?

Die Jode van die Swartdood word nou onder ons eie mense gesoek! Die verleiding van die Nasionale Party en die Broederbond word nou genegeer tot onbelangrik, want dit is die mede-Afrikaners wat gesondig het, verraad gepleeg het, Mammon aanbid het. Die adder in eie geledere wat God se wraak en straf oor ons gebring het!

Ons volk is so paniekerig, kry so seer en is so verward, dat ons onder mekaar byt en baklei, want iemand moet skuldig wees en iemand moet nou beetgekry word. Dit is soos ‘n spul rotte wat die sinkende skip wil verlaat, en nou trap ons mekaar onder die water in, en byt mekaar net om tog bo te wees, om weg te kom van die pyn en verskrikking en om uit die gevaar en bedreiging te kom.

Hierdie toedrag van sake strek ons nie tot eer nie, inteendeel dit is ‘n skandvlek op ons naam, en laat my wonder; Is die Afrikaner vandag by sy eie Toring van Babel? Ons kan mekaar nie meer vandag sommer doodmaak nie, so pak ons nou maar ewe pateties klipmure tussen mekaar, om die Swartdood uit te hou? Die ondergang en vernietiging van ons volk gaan nie as gevolg van die ANC, of die Liberaliste en Geldmag wees nie! Dit gaan hierdie bittere en venynnige onderlinge twis en tweespalt wees.

Vir die volksgenote, wat andersdenkendes onder die volk wil veroordeel, uitwerp en “stenig” wil ek met deernis herinner aan Jesus ons Verlosser se woorde: “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip gooi”. Die Afrikaner sal net heel, gesond word en suksesvol word, as hy begin saamstaan, en almal hande vat om ons droom van soewereine Vryheid waar te maak. Ons het genoeg vyande en teenstanders buite, ons hoef nie onder mekaar oorlog te maak nie.

Of moet ons wag vir die uiterste krisis, soos in HG Wells se boek “War of the Worlds”? In die boek beskryf die verteller hoe die mense van Londen wegvlug voor die masjiene van Mars, waar die armes, rykes, siekes, ou mense, kinders sonder aansiens des persoons saam hulle bondeltjies dra en skouers skuur soos hulle vlug van die verskrikking af. Moet ons werklik eers gelouter word tot op daardie punt, of gaan gesonde verstand begin seëvier?

липецк траверсыЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.