Absa daag ons uit

Die nuus dat Absa minder wit rugbyspelers in die Curriebeker wil sien, is geensins ‘n verrassing nie. Hoewel die bank intussen by monde van sy adjunk-uitvoerendehoof, mnr. Louis von Zeuner, ontken het dat hy ten gunste van rassekwotas is, het Absa tog duidelik sy anti-wit sentiment na buite gekommunikeer.

Absa, wat deur Barclays van Brittanje beheer word, posisioneer hom reeds geruime tyd as ‘n swart bank. Deesdae is dit raar om blanke gesigte agter die toonbank van Absa-takke te gewaar en Afrikaans is insgeslyks afgeskaal tot slegs ‘n skaduwee van wat die taal eens by dié bank was. Dit het feitlik onmoontlik geword om diens in ons taal by Absa te ontvang, hoewel sy kitsbanke en internetdiens nog die taal as ‘n keuse aanbied.

Die les wat Absa vir ons oor die afgelope paar dae geleer het, geld vir meer as net rugbyspelers en –geesdriftiges: dis gerig aan elke Afrikaner in die land. Ook die Tweede Vryheidsoorlog van meer as ‘n eeu gelede is in ‘n hoë mate deur die Londense banke bepaal, wat Milner se oorlogsplanne geesdriftig gesteun het. In 1985 het Chase Manhattan die bewind van P.W. Botha ‘n gevoelige knou toegedien toe dié bank besluit het om nie Suid-Afrika se korttermynskuld om te rol nie.

Gedurende die twintigste eeu het die Afrikaner moedig geprobeer om eie finansiële instellings soos Volkskas, Trustbank en Saambou te skep, asook natuurlik Sanlam, maar al dié maatskappye het op verskillende wyses tot niet gegaan of het wesentlik hul rug op die Afrikaner gekeer en die ANC-bewind en sy anti-blanke, anti-Afrikanerideologie omhels.

Die feit dat die Afrikaner die politieke stryd in Suid-Afrika verloor het, is in ‘n hoë mate daaraan te danke dat hy op kritieke oomblikke van buitelandse kapitaal en buitelandse banke afhanklik was. Vandag kan die volkstaatprojek nie van die grond af kom nie, juis vanweë ‘n gebrek aan kapitaal.

Volgens my berekeninge verdien die groot vier banke in Suid-Afrika jaarliks ten minste twintig miljard rand uit die Afrikaner aan rentemarges en bankkostes. Die borggeld wat Absa goedgunstiglik aan rugby (en sokker!) beskikbaar stel, kom dus net so uit die gewone Afrikaner se sak. Veertig persent van Absa se kliënte bestaan uit Afrikaners; nietemin sien die bank hulle as ‘n lastige segment om van ontslae te raak.

Om teen Absa se onlangse anti-wit uitsprake te protesteer, is goed en wel. Maar ons probleem om uitgelewer te wees aan Afrikanervyandige finansiële instellings soos Absa en die res van die groot vier banke, word nie wesentlik hierdeur verbeter nie.

‘n Groot deel van ons huidige vryheidstryd wentel om ekonomiese emansipasie van die ANC-beheerde ekonomie. Omdat banke soos Absa in regeringsrekeninge belangstel, is hulle ideologies kop in een mus met die ANC. Trouens, die aanstelling van Maria Ramos, die vrou van Trevor Manuel en ‘n bekende ANC-lid, as hoof-uitvoerendebeampte van Absa spreek boekdele oor die bank se politieke standpunte en ideologie.

Praag is tans besig om na ekonomiese alternatiewe vir die Afrikaner te kyk en ons het reeds ‘n groep sakemanne en ekonome byeengebring om binne ons geïdentifiseerde volkstaatgebied, wat groot dele van Gauteng insluit, bedrywe en instellings te vestig wat aan ons mense werk kan verskaf en ons kapitaal uit die hande van vyandige instellings soos Absa kan losmaak.

Die ontluikende koöperatiewe bankbeweging onder Afrikaners moet deur alle belanghebbendes gesteun word. Tegnologiese insette sal egter moet kom, sodat dié jong lote met mag en mening in die formele banksektor sal kan begin meeding. Elders ter wêreld bestaan daar voorbeelde van suksesvolle koöperatiewe banke wat uiteindelik wêreldbekende handelsbanke kon troef.

Eers wanneer Afrikaners beheer oor Afrikanerkapitaal bekom het, sal ons volk sy lang gesogte ekonomiese vryheid kan bekom. Absa se uitsprake vandeesweek daag ons uit om ‘n Afrikanerbank(e) op te rig.

live american roulette online casinotopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.