Apartheidstaat het baie mense laat vermoor

Deel op

Op RSG se “Praat saam” waaraan ek en genl Van der Merwe deelgeneem het, het hy gesê daar is nie meer as 200 sterftes agv polisie optrede nie, en sedertdien het hy sy syfer aangepas na soveel as 300. Sien ook dat hy nou baie spesifiek net van die Veiligheidstak praat en nie van die SAP nie – wie sal verantwoordelikheid neem vir sterftes wat nie deur die toedoen van die Veiligheidstak gepleeg is nie?

Die WVK het dit oor sterftes gehad waarby die hele SAP (en selfs die weermag) betrokke was sedert die 1960s. Die genl het nie ‘n idee hoeveel mense deur die apartheidstaat vermoor is nie en blaas sommer oor sy duim. Maar, sy duimblasery maak ook van Eugene de Kock die grootste moordenaar in die apartheidstaat se arsenaal. As Eugene verantwoordelik was vir 86 moorde (sommiges indirek) uit 200, het apartheid hom grootliks op een man verlaat, wat maar ‘n paar jaar aan die hoof van Vlakplaas was, om te “elimineer” en te moor namens die staat. Die generaal het na my wete ook nie aansoek om amnestie gedoen vir alle moorde waarby hy betrek kan word nie. Ek hoor hy het ook nou vir ‘n pardon aansoek gedoen van die staatspresident. Ons weet ook dat baie ander generaals en voetsoldate nie aansoek gedoen het om amnestie nie. By wie se rekening voeg ons daardie moorde?

Wat het dit alles met my vriend Eugene de Kock se saak te doen?

1. Die generaal se ontkenning van die breër prentjie maak van Eugene die meester-moordenaar. Hy staan nou pa as sou hy apartheid se moordmasjien gewees het. Terwyl die generaal behoort te weet Eugene was deel van ‘n groter stelsel laat hy toe dat Eugene uitgesonder word asof hy sonder die wete van die generaal en die NP-leiers opgetree het. In daardie opsig is die generaal nie beter as die polisie-manne wat teen Eugene getuig het nie, almal manne wat maklik gemoor het. En, Eugene hou dit nie teen hulle nie, hy besef die generaals se rug was nie reguit genoeg vir die waarheid nie en die politici soos De Klerk is nooit anders as lafhartig gewees nie. Maar die relativering van die werklikheid en die waarheid, wat die generaal in retireer en en op die agtervoet pleeg, gooi ‘n donker wolk oor Eugene se betrokkenheid.

2. Die generaal se vraag in sy boek Trou tot die dood toe, “waar kom die persepsie vandaan dat die generaals en die politici van alles geweet het?” is seker die mees siniese ontkenning van ‘n generaal wat ek ooit gesien het. Dit is dieselfde man wat die vertragingsmeganismes van handgranate verwyder het sodat sg terroriste hulself kan opblaas. Hoekom daai mense nie net gevang en verhoor was nie, weet nugter, behalwe vir die logiese veronderstelling dat die generaal deur sy totale loopbaan bereid was om elke internasionale konvensie en Suid-Afrikaanse wet te oortree in die formulering van sy werkswyse. Die generaal en die politici het ‘n stelsel geskep wat net deur wandade, korrupsie en moord instand gehou kon word, en nou is die generaal verbaas as dit wel plaasvind en beweer hy hy het maar net van sowat 14 moorde geweet. Generaal, die statuur van jou waarheid word verdwerg deur die eerlikheid van jou grootste soldaat, Eugene de Kock.

3. As die generaal en die politici by die WVK opgestaan het en gesê het, ja ons neem verantwoordelikheid vir die beleid van apartheid, as sook vir die konsekwensies van daardie beleid, het Eugene ook ‘n tweede kans gekry.

4. Die generaal doen Eugene se saak skade deur sy pogings om apartheid te regverdig (wat Eugene verfoei), en deur ‘n ideologies-regse regverdiging aan te bied vir wat gebeur het by Vlakplaas. Sy bewerings dat Eugene ‘n sikofantiese, maar dividendlose verhouding met die ANC probeer smee is om Eugene se eerlikheid op ‘n redelik laakbare manier te bevlek.

Met die generaal en die Natte wat onder die dekmantel van “ons het nie geweet, en ons het nie so baie moorde gepleeg nie” hul stories plooi, is daar vandag niemand kredietwaardig van die ou orde wat vir Eugene opstaan nie. Die generaal se brief aan Thabo Mbeki waarin hy vra om begenadiging vir Eugene is so ‘n naïewe politieke gebrabbel dat daar nooit ooit iets van sou kon kom nie. Ek sien Eugene gereeld, hy is ‘n rateltaai, maar ‘n bright bliksem wat neersien op die wyse waarop hy op die slagveld agter gelaat is. Die generaal was nooit ‘n soldaat nie, en sou dit waarskynlik ook nie kon wees nie.

zishao детская одеждатопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.