Die wêreld se hongerpyne

Deel op

Elke ses sekondes sterf ‘n kind weens ondervoeding, volgens die VN se voedselorganisasie, FAO.

Die goeie nuus is dat die aantal hongerlydendes in die wêreld die afgelope jaar met bykans 100 miljoen afgeneem het, en nou op onder ‘n miljard staan. Die meeste lyers bevind hulle in Afrika en Asië.

Die FAO draai nie doekies om nie. Honger is die wêreld se grootste probleem, maar ook grootste skande.

Twee agtereenvolgende jare se goeie oeste van onder meer mielies, koring en rys, en ‘n gevolglike verlaging in voedselpryse het bygedra daartoe dat die wêreldhongersnood effe teruggedruk kon word. Dié wiel het egter reeds begin draai. In Pakistan het vloede 3,4 miljoen hektaar oeste verlore laat gaan, en die droogte in Rusland het reeds daartoe gelei dat dié land graanuitvoere opgeskort het.

Hoewel die FAO regerings loof vir hul bydraes om die hongerpyne te stuit, is die risiko vir die bereiking van doelwitte om dit te verminder steeds baie hoog.

Wat Afrika betref, is die nuus minder goed. Van die bykans 100 miljoen minder hongeres, woon net 12 miljoen in Afrika suid van die Sahara. Een uit drie van die mense in hierdie streek sal steeds honger ly, die hoogste persentasie ter wêreld.

Die FAO se verslag is uiters politiek korrek opgestel, en verwys bloot na die strukturele probleme wat tot die hongersnood aanleiding gee. Dit beteken dat selfs wanneer dit beter met die wêreldekonomie gaan, die aantal honger mense nie afneem nie.

Met ‘n ontleding van spesifieke syfers blyk dit egter dat konflik en korrupsie ‘n groot deel van die blaam moet dra. Die skerpste toename in hongersnood is byvoorbeeld in die DRK waar 69 % meer mense nou honger ly.

Dit is ook nie toevallig nie dat van die wêreld se mees endemiese korrupsie in lande suid van die Sahara voorkom nie.

In Suid-Afrika is beraam dat bykans 100 000 staatsamptenare welsynstoelaes onwettig van die staat ontvang het – in wese gesteel het. Tot dusver is 15 000 reeds aan bedrog skuldig bevind, en hulle moet die geld soos lenings terugbetaal. Nie een is ontslaan nie. Kos word straffeloos uit die monde van die armes gesteel.

Uit ander verslae word op die sosio-ekonomiese en maatskaplike ellende van die vergrote inkomstegaping in groot dele van die wêreld gewys. Volgens beskikbare syfers het Suid-Afrika Brasilië enkele jare gelede as die land met die grootste meetbare gaping verbygesteek, en krimp dié van Brasilië steeds. Brasilië word ook in die FAO se verslag gelys as een van die lande waar baie vordering met die bekamping van hongersnood gemaak is, en die doelwitte reeds byna bereik is. In Suid-Afrika groei die gaping steeds, en gaan die soustreinryers nie net voort om met hul soustrein-buit te spog nie, maar ook om dit heftig te regverdig.

виды архитектурного освещениятопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.