‘n Virtuele volk

Deel op

So ‘n ruk terug het ek en ‘n ou universiteitsvriend ‘n gesprek gehad, oor wat van die Afrikaner gaan word as ons nie ons eie staat kry nie. Die slotsom waartoe hy toe kom, is dat die Afrikaner ‘n virtuele volk gaan word. Synde ‘n unieke konsep wat nie in enige Volkekunde- of Staatsreghandboek te vinde sal wees nie, is dit die moeite werd om hierdie begrip te ondersoek en omskryf, want dit is nie onmoontlik dat daar vir ‘n aantal jare wel ‘n virtuele Afrikanervolk kan bestaan nie.

So, wat word bedoel met ‘n vituele volk? Ons het per definisie uitgekom by die volgende: ‘n Virtuele volk bestaan uit mense wat slegs deur middel van die internet en wêreldwye netwerk met mekaar kontak het, en slegs deur middel van die elektroniese media en kommunikasiemiddele hulle taal en kultuur lewend kan hou.

Die vraag wat nou logies moet volg is; hoe sal so ‘n virtuele volk ontstaan, of wat sal aanleiding gee dat ‘n volk in ‘n toetstand verkeer waar hulle enigste kontak met volksgenote deur die elektroniese media is? Daar is reeds ‘n beraamde 1 miljoen Afrikaners versprei oor die wêreld, wat tans net deur middel van die internet hulle familie en vriendskapsbande in stand hou. Hulle lees die Afrikaanse tydskrifte en koerante, en luister na Afrikaanse radio slegs op of oor die internet.

Soos meer jong mense en gegradueerdes die NSA verlaat om elders hulle heil te gaan soek, begin die Afrikaner in SA minder word, en begin die gemiddelde ouderdom van die plaaslike bevolking hoër raak. Met ander woorde, dit begin ‘n ou bevolking raak wat nie meer teen die groeiverhouding van 2,8 kinders per ouerpaar kan vermeerder nie. Soos die ouer lede van hierdie bevolkingsgroep sterf, word die populasie al minder.

Hoekom sal ons die land in massas wil verlaat?

Dit kan verwag word dat onder die huidige regering en die kommerwekkende geluide wat die ANC maak oor nasionalisering van privaat grond en eiendom, die nasionalisering van myne en banke, die nasionalisering van gesondheidsdienste, plus die media wat gemuilband moet word, al hoe meer boere, gegradueerdes en vermoënde Afrikaners die land sal verlaat, en dit kan binne die volgende twee tot vyf jaar ‘n nuwe golf van emigrasie veroorsaak. Voeg daarby die infrastruktuur en dienste van munisipaliteite in die platteland wat totaal besig is om in duie te stort, en die prentjie is duidelik dat die NSA besig is om net nog ‘n Afrikaland te word.

Om die kersie op die koek te sit, is daar die beleid van swart bemagtiging wat net al hoe meer met erns toegepas gaan word. Die ANC sal nie rus voordat die blankes wat oorbly in hierdie land die houthakkers en waterdraers geword het nie. Hulle verdra ons slegs omdat ons nog meer as 50% van die belastinginkomste bydra. En die grap is op ons, want ons betaal vir ons eie ondergang. Solank as wat ons belasting aan die ANC betaal, finansier ons al die wetgewing en regulasies wat ingestel word, om SA ‘n totale Afrikaland te maak.

En die ergste is dat om en by 30% van alle staatsinkomste as gevolg van korrupsie en bedrog in die sakke van die ANC-elite en hulle vetkatvriende beland. As mens die allokasie van R818 miljard aan die drie vlakke van regering neem vir die 2010/2011 jaar, kom dit op ‘n angswekkende bedrag van R245 miljard uit wat in die sakke van die magsbehepte ANC-lede beland.

‘n Goeie voorbeeld van swak bestuur en dienslewering kan gesien word in die welbekende geval van Sannieshof, waar belastingbetalers self vir hulle dienste opdok. Sannieshof is deel van die Tswaing-munisipaliteit, wat R48 miljoen vir die 2010/11 jaar vanaf die sentrale fiskus ontvang. Hierdie geld word ontvang bo-op die inkomste wat die munisipaliteit self genereer, wat veronderstel is om ten minste die operasionele uitgawes te dek. Die mense van Sannieshof kan met reg vra, waar gaan daardie addisionele geld heen? Munisipaliteite alleen ontvang R260 miljard vanaf die sentrale fiskus, en almal in hierdie land weet wat die vlakke van dienslewering is by rade wat deur die ANC beheer word.

‘n Verdere aspek wat die ANC se magslus uitbeeld, is die feit dat hulle nou die provinsies wil her-indeel om die Ooskaap en die Weskaap saam te voeg, en daardeur die DA se mag in die Weskaap te breek. Die Weskaap is die enigste provinsie wat presteer, en dit is vir die ANC ‘n bitter pil om te sluk. Dus het ons as blankes alle rede om nie meer deel van die NSA te wees nie, of om die land te wil verlaat.

Die terugtrek van die Groot Trek

Die feit is, dat as ons nie nou begin om die moeilike pad van selfbeskikking aan te pak nie, gaan die Afrikaner wel oor die aardbol verstrooi raak en gaan ons, tot ons in die nuwe lande van verblyf geassimileer raak, ‘n virtuele volk word. Die skrikwekkende werklikheid is, dat ons binne een geslag van nou af ‘n virtuele volk kan word, en binne drie geslagte, kan ophou bestaan as ‘n identifiseerbare volk.

Ons moet nou die Groot Trek omkeer en vir ons ‘n eie “lebensraum” gaan skep. Dit is ‘n feit dat demografie ‘n groot rol speel in die opeis van staatstatus deur enige erkende volk. Terwyl ons nog as volk erkenning geniet, en ons ‘n kans het om te keer dat al hoe meer Afrikaners hulle heil elders gaan soek, moet ons dus nou die nodige doen om ‘n gebied te identifiseer, en planne te maak hoe om in groot getalle daar eiendom te kan bekom.

Die gevaar is dat ons reeds so deur die NSA verarm is as gevolg van sogenaamde regstellende aksie en die geweldige belastinglas, dat dit al hoe moeiliker raak. Ons kan dus nie volgens die normale markkragte of reëls vir soveel as moontlik Afrikaners eiendomsreg voorsien nie. Daar sal slim te werk gegaan moet word, sodat mense wat ‘n ondergemiddelde inkomste verdien, ook ten minste ‘n erf daar kan bekostig. Miskien is dit die begin van Siener van Rensburg se tentjies wat hy in die veld opgeslaan sien?

‘n Goeie begin, wat reeds met sukses bekroon word, is moontlik Orania. Oom Carel Boshoff het ware visie aan die dag gelê, om ‘n plek te begin, wat as hartland vir die Afrikaner kan dien. Met die ontstaan van die Afrikanervolk, het ons voorvaders as Vryburgers hulleself tot ‘n volk begin boer uit die klippe van die Karoo. Ons kan en sal dit weer moet doen. Ons sal weer Vryburgers moet word, en soos ons voorvaders buite die onderdrukking van die magsbehepte VOIC hulle vryheid gaan soek het, sal ons nou ons eie heil buite die onderdrukking van die magsbehepte ANC moet gaan soek.

Die tyd is nou, nie later nie.

(Titel met erkenning aan AHM Victor, Langberg Uitgewers, 1979)

интернет магазин игрушек киевпрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.