Turkse referendum van teenstrydighede

Deel op

Die Turke het gister stembus toe opgeruk om hul kruisies in ‘n referendum te gaan trek. Formeel handel dit oor grondwetlike hervorming wat die weg moet baan vir toetrede tot die Europese Unie. Die Europese Unie se saakgelastigde vir Turkye, Ria-Oomen-Ruijten, het haar ontsteltenis uitgespreek omdat opposisiepartye hul ondersteuners oproep om nee te stem.

Daar is egter soveel distels in die duiwehok, dat die ware rede vir die referendum aan die stief-agterspeen moet suip.

Onder die vernaamste teenstrydighede is dat die Koerde, wat op die oog af die meeste voordeel uit deelname aan die Europese Unie sal trek, volgens berigte teen ‘n ja-stem gekant is. Baie stem nee, ander boikot die referendum en daar was gevalle van intimidasie en geweld, en talle is aangekeer.

Hoewel oor 26 sake gestem word, staan twee soos die spreekwoordelike pale bo die water uit. Dit behels onderskeidelik die inperking van die magte van die hoë regters en die weermag. Die senior regters se magte is aan die bod geplaas omdat hulle soveel mag gehad het, dat hulle hul opvolgers uit dieselfde dampkring aangewys het. Die plan met die referendum is dat die politici en junior regters ook inspraak sal hê by die aanwys van senior regters. Teenstemmers meen weer Erdogan se party, ‘n Moslemparty wat homself as die Moslem-weergawe van die Europese Christen-demokratiese partye beskou, mik om die sekulêre regswese aan te tas. Dit verklaar miskien deels die sekulêre opposisie, wat normaalweg sterker as die regerende party oor lidmaatskap van die EU sou voel, se teenkanting teen ‘n ja-stem. Baie kommentators meen ook die referendum kom op ‘n stemming tussen die Islam en die sekularisme neer, maar nou bepleit die twee kante in baie opsigte dat hul ondersteuners vir die teenoorgestelde as hul eie standpunte moet stem.

Die weermag word ook as ‘n staat binne die staat beskou, waar die generaals bykans onaantasbaar is, en selfs vir kriminele oortredings voor hul kollegas tereg moet staan. Die gedagte met die referendum is dat ook hulle nou voor die burgerlike regbank tereg sal moet staan vir misdade teen die staat, en dat magsmisbruik so ingeperk word. Hul amnestie vir die 1980-staatsgreep sal ook verval.

Hierdie boodskap agter die boodskap is kwalik verskuil. Die referendum is op dieselfde dag gehou as wat die laaste militêre staatsgreep plaasgevind het, in ‘n land waar die weermag sedert 1960 vier keer die verkose parlementêre bewind omvergewerp het. Heelwat van die outoritêre maatreëls is steeds as oorblyfsels van die laaste staatsgreep in die grondwet veranker, en nog slagoffers van die arrestasies en mishandeling word vermis. ‘n Grondwetlike vasvat van die weermag sou in baie mense se oordeel gewild wees. Ja-ondersteuners het ook die afgelope paar dae van die martelinstrumente wat na die staatsgreep ingespan is uitgestal. Altesaam 650 000 mense is destyds aangehou, 171 het weens marteling gesterf, en 49 mense is tereggestel, waaronder ‘n 17-jarige seun wat nou materlaarstatus geniet.

Hoekom die Koerde teen die ja-stem stemming maak is moeilik om te begryp. Die Europese Unie stel as voorwaarde vir Turkse lidmaatskap dat die Turke meer selfbeskikking aan die Koerde en ander minderhede moet toestaan. Trouens, hierdie vereiste het al heelwat vir die Koerde in die sak gebring van ‘n posisie slegs enkele jare gelede waar hul taal effektief verbied is en hul stede Turkse name gekry het.

Koerdies is ook ‘n ‘n Indo-Germaanse taal, anders as Turks. Hoekom juis hulle teen iets wat skynbaar in hul belang is sal stem, bly vir die buitestander Turks.

Terwyl die referendum aan die gang was, was dit egter geen uitgemaakte saak dat die Ja-stem sou sultan kraai nie. Met 70 % van die stemme reeds getel waarvan 60 % “ja” was, was dit egter reeds duidelik dat kommer dat die Turke “nee” sou stem, onnodig was.

Vir baie Turke was die referendum bloot die geleentheid om ‘n mosie van wantroue in die Turkse premier, Tayyip Erdogan, te stel. Soveel nee-stemmers, soveel redes is daar hoekom Erdogan ongewild is. Baie beskou hom as ‘n toekomstige diktator, en die voorkeur wat hy en sy Sanhedrin vir gesluierde vroue het, laat die geëmansipeerde vroue in hierdie Moslem, maar tegnies sekulêre staat, swart sluiers sien.

Baie van die 50 miljoen kiesers weet skynbaar nie presies waaroor hulle alles stem nie, en gee ook nie ‘n dooie kurusj – ‘n Turkse duit – om nie.

Erdogan moet homself ook blameer dat hy juis nou sy beeld as toekomstige diktator versterk het. Minder as ‘n maand gelede het hy die grootste Turkse sake-instelling, TUSAID, gedreig om standpunt vir of teen die ja-stem in te neem, of geëlimineer te word. TUSAID het dit duidelik gemaak dat hy hom nie laat afdreig nie, maar Erdogan het waardevolle vriende verloor. Om die saak te vererger het die Turkse hoof-onderhandelaar by die EU glo gesê hy sal die geestegesteldheid en patriotisme van enige nee-stemmer onder bevraagteken.

Selfs die Turkse president, skynbaar self sonder om sonder om sy eie voorkeur uit te spel, het beide kante van die debat gemaan om ordentlik te bly. Hy het ook ‘n beroep op die kante gedoen om in hul verkiesingsreklame aan kiesers te verduidelik waaroor die referendum handel.

pearl jewellery forФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.