Blou doeltreffendheid

Deel op

Al die motorvervaardigers het deesdae nie meer die krag- en spoedsyfers op die voorgrond wanneer daar van nuwe motors gepraat word nie. Dit gaan alles deesdae oor die hoeveelheid uitlaatgasse per 100mg wat in die lug in gepomp word. En ja vanaf Septembermaand 2010 gaan daar nog ‘n boetebelasting ook gehef word op die hoeveelheid gifgasse wat jou kar die lug in stuur. Elke nuwe motor wat verkoop gaan word, gaan met tot R75 per gram wat die uitlaat gasse bo 120g/km is beboet word. Dit gaan die onnodig astronomiese motorpryse nog hoër maak.

Blou embleemNou kan ons sien hoekom al die vervaardigers so aangaan oor die gram per kilometer wat sy voertuie die lug in stoot. En ja alle voertuie doen dit, behalwe natuurlik dié wat ten volle elektries aangedrewe is, die gholfkarretjies en so aan. Self daardie Toyota Pruis of Lexus 450h wat jy beplan om te koop, is skuldig.

Mercedes-Benz het  soos baie ander vervaardigers besef daar moet iets gedoen word aan die situasie. Die oplossing was nie om dadelik miljarde euro’s na elektriese ontwikkeling te gooi nie, nee hulle sal wag tot een van die Japannese dit regkry en dit dan net verbeter. Die nuwe CGI-modelle het die lig gesien. Hierdie is gewone Mercedes-motors met ‘n klein enjin en turbokrag wat nie net minder gasse die lug in stuur nie maar sommer ook meer krag as die konvensionele enjins lewer. Die brandstofverbruik is dus ook minder want die gas wat die lug moes in, word nou gebruik om die motor aan te dryf. Dit is dus ‘n baie beter oplossing vir ‘n klomp probleme. Die nuwe Mercedes gee meer krag, gebruik minder brandstof en verbrand dus minder gasse. Die ding is net: nou betaal jy nóg meer vir die tegnologie! Ons het die E200 CGI Blue Efficiency Estate onder hande gehad.

Binneruim

In tradisionele Mercedesstyl is die nuwe E-Klas baie goed aanmekaar gesit, met kwaliteitafwerking en styl reg rondom jou. Die nuwe E-Klas is ook sommer vol nuwe tegnologie en ons toetsmotor was met die “Avantgarde” afwerking toegerus wat nog mooier wiele, swart leersitplekke en ‘n meer sportiewe sierrooster byvoeg. Die sitplekke is iets om te beleef. Hulle beskik oor ingeboude waaiertjies wat jou sommer gou afkoel, sou op die leersitplekke begin sweet en dit werk. Daar is ook sommer verhitting in dieselfde sitplekke ingebou wat weer die koue leer baie vinnig lekker verhit. Dan is daar die “active seats” wat jou netjies in die sitplek vashou, sou jy vinnig om ‘n draai gaan; die teenoorgestelde kant van die sykussing waarheen jy draai blaas in millisekondes op of af om jou mooi styf in die sitplek vas te hou. Die sitplekke masseer dan ook jou rug so terwyl jy bestuur en op ons rit Polokwane toe en terug was die funksie hemels.

Die middelkonsole is toegerus met beheerknoppies vir die radio, wat nogal ‘n Harman Kardan Logic 7 is, die elektroniese klimaatbeheer en die navigasiestelsel. Daar is ‘n stelsel wat Mercedes “Thermotronic” noem: basies ‘n klimaatbeheerstelsel wat twee kante van die binnekajuit individueel beheer. Die agterste passasiers kan ook die gedeelte van die binneruim apart van die voorste deel beheer.

MB-stasiewaDie groot voordeel van ‘n stasiewa – en ja, die Estate is ‘n stasiewa – is natuurlik die laairuimte. Daar is nie minder as 1 950 dm³ se laairuimte in die Merc nie. Dit is eenvoudig enorm. Die agterste laaideur kan ook outomaties, met die druk van ‘n knoppie in die bestuurder se deur, oopgemaak word. Wanneer die groot agterdeur wyd oopstaan, kan dit dan weer deur middel van ‘n knoppie aan die binnekant van die agterklap elektronies toegemaak word. Jy kan dit ook sommer op die konvensionele manier met die hand toeklap, sou jy wou. Daar skuil ‘n volgrootte noodwiel onder die vloer van die laairuimte en die hele binneruim is met gehalte tapyte toegerus. Mercedes noem die outomatiese deur die “Easy Pack”-pakket. Nog ‘n deel daarvan is dat die vloer van die laairuim soos ‘n konsertina opvou om verskeie pakplekopsies te skep. Daar is ook ‘n opvoubare kruideniersmandjie sommer in die motor.

Ons toetsmotor was toegerus met die opsionele panoramiese sondak; dié is eintlik twee dakke in een: een vir die voorste insittendes en ‘n tweede vir die agterste passasiers. Die agterste dak kan nie oopskuif nie, maar het ‘n outomatiese sonblinding wat oop en toe skuif. Daar is ook ‘n stemaktiverende funksie vir die telefoon , radio en navigasiestelsel waar die bestuurder standaardvrae beantwoord om sekere funksies in die motor te beheer. Dit is nogal baie handig deurdat die bestuurder slegs nodig het om een knoppie op die stuurwiel te druk en dan te vra wat hy wil verstel. Die radio het ook ‘n 6-gang voorlaailaserskyfspeler wat selfs DVD’s kan speel. Die speler beskik oor ‘n ingeboude geheue van 6 Gigagrepe soos ‘n rekenaar of Ipod waarop musiek gebêre kan word.

Enjin

Anders as wat die naam aandui, is die E200 CGI Estate nie toegerus met ‘n 2-literenjin nie. Hierdie is ‘n 1,8-litereenheid met direkte turboaandrywing. Die ratkas is ‘n seepgladde 5-spoed outomatiese kas wat die groot wa sonder moeite aandryf. Kragontwikkeling is ‘n gesonde 135 Kw en omdat hy turbo-aangejaag is, is die wringkragsyfer ook baie indrukwekkend teen 270Nm. Die ekstra gewig van die stasiewa beïnvloed nie die motor se verrigting en hantering nie; dit alles is te danke aan die selfgelykmakende veringstelsel wat standaard op al die Estate-modelle beskikbaar is. Verrigting is besonder goed met ‘n topsnelheid van 225km/u en uitlaat gasse van slegs 179g/km. 0-100km/u word in 8,7 sekondes behaal.

Veiligheid

Outomatiese agterdeurHierdie is ‘n Mercedes-Benz, dus is die veiligheidsfaktor van ‘n hoë standaard met ingeboude stelsel wat meer daarop gemik is om ‘n botsing te vermy as om die insittendes te beskerm. Indien daar wel ‘n botsing sou plaasvind, spog die E met ‘n 5-sterveiligheidstoekenning van die Europese Euro cap. Daar is die radar wat in die neus ingebou is wat die afstand tussen jou en die voertuig voor jou monitor en dan die spoed aanpas volgens die afstand wat die bestuurder vooraf ingeprogrammeer het. Met ons tog na Pietersburg het ons die stelsel deeglik getoets deur hom heeltemal by al die tolhekke te vertrou. Die stelsel het telkens die motor tot stilstand gebring by die tolhekke wanneer die verkeer stadiger beweeg en eintlik tot stilstand kom. Die stelsel kan ook ‘n aankomende motor van agter dophou en sal dan ook die remdruk aanpas sou hy agterkom iets kom te vinnig van agter af na jou toe aan.

Daar is die “Adaptive High Beam”-stelsel wat die hoofligte monitor vir aankomende verkeer. Wanneer die hoofligte op skerp is, sal dit self domp om nie die aankomende verkeer te verblind nie. Wanner die ligte verdof is, bepaal die stelsel dan ook self die maksimumafstand wat verlig kan word sonder om die aankomende verkeer te verblind. In die gedompte verstelling kan die ligte tot 300 meter ver verlig. Dit verseker dat daar geen bestuurderinvoer van skerp- na dompligte meer nodig is nie; die motor doen dit self. Daar is ook klein geel driehoekies in die syspieëltjies ingebou wat verlig wanneer jy onder 30km/u ry om jou te waarsku dat daar dalk iets in jou blindekol kan wees. Sou daar egter teen enige spoed iets in jou blinde kol inbeweeg, sal die driehoekies outomaties verlig om jou aandag op die voorwerp te vestig.

Daar is ook ‘n horde ander veiligheidstelsels soos die “Pre-Safe”-stelsel wat die sitplekgordel letterlik teen jou lyf vastrek wanneer die motor aangeskakel word. Dit sal al die kantruite en sondak outomaties toemaak wanneer die motor vinnig ry. Ook die sitplekke is “intelligent” in die sin dat wanneer die motor agterkom daar gaan nou ‘n botsing plaasvind, verskuif hy die sitplekke na die optimale posisie vir die ontplooiing van die lugsakke. Die lugsakke word op twee maniere ontplooi; dit hang af van die erns van die botsing of die sakke ten volle of net half ontplooi word. Daar is natuurlik lugsakke teen al die kantruite en die sykante van die insittendes, asook vir die knieë. Agterste passasiers het ook kantlugsakke en gordelversterkers wat help om hulle in posisie te hou tydens ‘n botsing. Die voorste kopstukke verstel binne millisekondes om die voorste insittendes se nekke meer stut tydens ‘n botsing van agter te gee.

Ná ‘n botsing plaasgevind het, sorg die E-Klas dan ook dat daar nie verdere skade aangerig word nie deur die enjin outomaties af te skakel en die brandstoftoevoer heeltemal af te sny en te isoleer. Die noodflikkerligte word geaktiveer en die ligte binne in die kajuit word outomaties aangeskakel; die kantruite kan effens oopgemaak word om toegang of uitgang te vergemaklik. Al die deure se slotte ontsluit outomaties ná ‘n botsing. Ander stelsels soos die parkeerhulpstelsel met ingeboude kamera wanneer trurat geskakel word, help met agteruitparkering.

Gevolgtrekking

Die E200 CGI Estate Avantgarde wat ons bestuur het, is beslis een van die beste familievoertuie op die mark. Ons Suid-Afrikaners kan net nie vatplek kry aan stasiewaens nie, maar in Europa en Amerika is dit juis hierdie tiepe voertuie wat die helfte van die onderskeie modelle se verkoopsyfers uitmaak. Ons toetsmotor se prys met standaardtoerusting is R509 000, maar dan kom die R23 600 van die Aventgarde-pakket, die R5 500 vir die 18-duimsierwiele, die R12 500 vir die sitplekventilasiestelsel, die R22 000 vir die DVD-speler, die R24 500 vir die “Driving Assist”-pakket, R16 000 vir die sondak, R7 800 vir Harmon Kardon-radio, R3 100 vir die “Media Interfase” van die klankstelsel, R3 250 vir metaalverf,  R4 600 vir die trukamera… dan tel dit op na ‘n astronomiese R631 850! Dit is lekker duur, maar dit bly ‘n Mercedes-Benz met al die speelgoed wat jy ooit in enige motor sou wou hê. Die meeste veiligheidskenmerke is darem standaard in die E-Klas ingebou. Tans is daar nie eintlik ‘n mededinger vir die Merc nie, maar dalk kan die BMW 5 Reeks Touring net die regte ding wees.

пародонтолог москва отзывылобановский депутат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.