Renault stel nuwe model in Rusland bekend

Deel op

Hier is ‘n kort oorsig van die afgelope week se motornuus, van nuwe vrystellings tot ontwikkelings op die gebied van brandstofekonomie en uitlaatgasse.

Renault

Die internasionale motorskou in Moskou, Rusland het die platvorm geskep vir die wêreldwye bekendstelling van die nuwe Renault Latitude. Die motor is die nuwe besigheidsklas-verteenwoordiger van Renault. Volgens Renault is die Latitude net die motor vir mense wat van die fyner dinge in die lewe hou. Die motor is deurspek van hoëgehaltemateriaal en premium detail wat gewoonlik net in baie meer eklusiewe rygoed beskikbaar is. Die Latitude is daarop gemik om die vlagskip van die Renault-reeks te wees.

Rusland is die eerste land waar die motor vrygestel word en sal dan ook in 50 ander motormarkte bekend gestel word om as die voorloper van die Renault-reeks te dien. Renault het die Latitude vol luukses soos ‘n masseerder vir die bestuurders sitplek, ‘n driedubbele klimaatbeheerstelsel met lugkwaliteitsbeheer. Die Latitude is die enigste motor met dié soort stelsel in sy klas. Daar is ook ‘n sleutellose toegangsbeheerstelsel, Bi-Xenon-hoofligte, ‘n hele klomp opsies vir die klankstelsel, waaronder ‘n 3D  Arkamys®” en ‘n “Bose® Premium”-klank stelsel met digitale koppeling. Die nuwe navigasiestelsel wat in samewerking met Tom Tom ontwikkel is, is ook standaard.

Die Latitude word toegerus met twee petrolenjins, onderskeidelik ‘n 2.0L-viersilindereenheid met aanhoudende klepreëling en ‘n 2,5L-sessilinder, asook 3,5L-sessilindereenheid met ‘n 6-Spoed outomatiese ratkas. Daar is ook ‘n 2,0liter-dieselenjin beskikbaar met of 110 Kw vir die laedrukeenheid of 127 Kw vir die hoëdrukeenheid.

Die Latitude is ‘n groot motor met afmetings van byna 5 meter in lengte en 1,83 meter breed. Die bagasiebak kan ‘n enorme 477 liter se bagasie hou. Daar is ook ‘n panoramiese sondak en LED-liggies wat die motor ‘n baie moderne voorkoms gee. Die binneruim is vol chroominsetsels en leer in ‘n keuse van room of donkerbruin of swart. Natuurlik is die Latitude deurspek met veiligheidstelsels soos ABS en EBD vir die remme, ESC wat die stabaliteitsprogram is en 8 aanpasbare lugsakke. Die Latitude sal vanaf einde September in Rusland te koop wees en word by die Paryse motorkou aan Europa bekendgestel; ons verwag die Renault Latitude binnekort daarna in Suid-Afrika.

Citroën

Citroen se splinternuwe C4 het so pas ook die gesogte 5 sterre in die Euro N-Cap veiligheidstoetse behaal. Met ‘n telling van 97% het die C4 die hoogste telling ooit vir sy bystandstelsel ontvang. Een van die stelsels wat gesorg het dat die C4 so ‘n hoë telling kry, is die sogenaamde eTouch-stelsel wat die motor monitor en afhangende van die land ‘n 24-uurdiens lewer deur ‘n geïntegreerde SIM-kaart soortgelyk aan die een in jou selfoon. Die stelsel verseker spoedige bystand deur nooddienste deur presiese navigasie na die voertuig wanneer ‘n ongeluk of noodtoestand ontstaan of selfs wanneer die bestuurder ‘n ongeluk sien of ‘n noodtoestand sien gebeur. Of dit nou in ons ou landjie sal werk, sal net die vet ministers in hulle groot X5-we kan beantwoord.

Ford

Ford het die DSFL (Driving Skills For Life)-skema plaaslik van stapel gestuur. Die skema het ten doel om die padveiligheid op ons paaie te verbeter en sommer terselfdertyd die ekonomiese bestuurstegnieke aan motoriste oor te dra. Die kursus is ‘n vermenging van klasgebaseerde onderrig en praktiese tegnieke op die pad. Die program sal aanvanklik aan vlooteienaars, Ford-handelaars en Ford-werknemers beskikbaar wees en daarna aan die breë publiek. Baie ander soortgelyke bestuurskursusse bestaan met die verskil dat dit meer gemik is op werkverrigting en die veiligheid van die insittendes en nie soseer gaan oor die impak wat die bestuurder se bestuurstyl op die omgewing het nie. Die groot verskil tussen hierdie bestuurskursus en die ander is ook dat die Ford-kursus vir almal bekikbaar is; dit maak nie saak of jy ‘n Ford-eienaar is of nie. Mooi so Ford!

Ander nuus uit die Ford-stal is die bekendstelling van die lang verwagte Ford Focus RS. Die RS bou voort op ‘n byne 40-jaartradisie van RS-modelle. Hierdie is ‘n regte sakmissiel, met 224 KW se krag en 440Nm se wringkrag wat deur die 6-spoedhandratkas deur die voorwiele na die pad deurgegee word. Daar is min indien enige ander motors in sy klas wat naby aan die werkverrigting van die Fordjie kom. Die RS maak gebruik van ‘n 2,5L Duratec-enjin. Werkverrigting is 5,9 sekondes van rus tot 100 km/u en 263 km/u topspoed, eina! Net om ook omgewingskorrek te wees, behaal die RS 225 CO2 g/km. Daar is ‘n 5-jaardiensplan ingesluit by jou R479 000 wat jy sal moet opdok om die RS naby jou huis te bring.

Bentley

Bentley se manne in Crew, Engeland het so pas ‘n Afrikaweergawe van hulle Bentley Continental Flying Spur bekendgestel. Die motor is eklusief aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel. Daar sal ‘n totaal van 5 motors gebou word; dit is nou werklik eklusief hoor. Twee weergawes van die “Flying Spur Africa” sal beskikbaar wees. Die eerste is die Continental Flying Spur Africa en dan die Continental Flying Spur Speed Africa, nogal ‘n snaakse konsep as ‘n mens dink dat spoed en Afrika  nogal nie hand aan hand gaan nie. Die Speed-weergawe is amptelik die vinnigste vierdeursedanmotor ter wêreld. Al twee die Afrikamodelle sal onderskei word deur Afrikawapentjies buite en Afrikamotiewe binne, nog ‘n konsep wat moeilik is om te verstaan.

Die standard Flying Spur Africa word aangedryf deur ‘n W12-enjin van 6L wat die groot Bentley tot 312km/u kan aandryf, die Speed-weergawe kan selfs vinniger teen 322km/u. Die prys? Wel, soos hulle altyd sê, as jy die prys wil weet, kan jy hom nie bekostig nie. Volgens Rens Rademeyer, algemene bestuurder van Bentley in Suid Afrika is die motors spesiaal beskikbaar aan uitgesoekte sakelui wat die land se toekomstige pioniers is.

воронеж домкратыФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.