Van bobbejane en skape en die Vrystaatse middernagson

Die omvang van veediefstal in sekere dele van die land laat Herrie dink aan die boer wat moedeloos op sy stoep sit en ‘n stywe dop maak. Met dié trek daar ‘n trop bobbejane verby, die kieste bolgeprop van die boer se mielies.

“Ja!” skree hy vir die kese, “een van die dae het die plaas onder jul sekelsterte uitgesuip!”

Maar nou verstaan Herrie die mieliepryse is so laag die boere gaan verliese maak weens oorproduksie. Dus klink dit vir Herrie, hoe meer die Adonisse vaslê, hoe meer  spaar die boer.

Maar voor iemand hom nou op Herrie se syfers verlaat, Herrie het in matriek met ‘n tweede probeerslag darem ‘n F vir wiskunde losgeslaan. Volgens Einstein se relatiwiteitsteorie het Herrie relatief tot internasionale standaarde geen syferaanleg nie. Relatief tot ‘n grootbek snotkopleier, is Herrie ‘n syfergenie.

En dan het Herrie nogal nie twee linkerhande met houtwerk ook nie.

Ja nee, boere het dit nie altyd so maklik nie. Vir die boere bestaan daar ook ‘n middernagson. Ongelukkig ‘n onsigbare middernagson. Vir jare, as die veld in die middel van die nag aan die brand slaan, het die polisie vertel dis die son wat so op stukke glas skyn, en die droë gras laat vlamvat. Snaaks, hoe die son so in die middel van die nag die veld met sulke kort tussenposes op verskillende plekke aan die brand kan steek. Op die een of ander manier weet plaasaanvallers ook nou wanneer die son hierdie middernagtelike kaperjolle gaan uithaal, en is ‘n paar plaasmense al op hierdie manier uit hul huise gelok en vermoor.

Deesdae, so lyk dit vir Herrie, is die son minder dikwels skuldig en word meer gereeld bransdstigting vermoed. Minstens een brandstigter is ook al vanjaar gevang en gevonnis.

By Herrie se huis weet hy al lankal om na gereedskap as gereedskap te verwys, is min of meer soos om die dooilike hond in een van Jan Spies se stories Waaksaam te genoem het. Want by die Herries is dit eerder wegskap. Op plase, kry gereedskap self voete en dros. Skoonveldskap. Terwyl inbrake die Vrystaatse boere jaarliks sowat R7 miljoen kos, is die verliese aan skoonveldskap R44 miljoen. Dit is amper twee keer soveel as gesaaides wat deur hael en ander natuurrampe vernietig word. Maar die sowat R170 miljoen se veediefstalle en gewasdiefstalle deur die bobbejane en hul tweebenige maters maak dit heel duidelik hoekom die boer so moedeloos agter die bobbejane aangeroep het.

Kyk, deur genetiese verbetering is al groot verbeterings met mielies gemaak – mielies wat ‘n baie groter opbrengs met amper geen reën nie kan lewer. Maar met die mielies wat so mik-mik vir oorproduksie, kan die slim manne dalk hul talente spandeer om skape te teël wat veediewe aanval en verniel. Herrie meen ‘n boer sal skaars ‘n mooier gesig kan aanskou as ‘n veedief wat die rieme neerlê met ‘n skaap met yslike slagtande wat aan sy sitvlak hang.

детямлобановский александр дети

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.