Afrikanerbanke

As jy dit nog nie self ervaar het nie, het jy seker al meermale gehoor van vriende en kennisse met eindelose frustrasies by dié banke waarvan sommige eens groot Afrikanerinstellings was.

Ons het so gewoond begin raak om deur volksvreemdes bedien te word. Uit frustrasie praat ons soms maar Engels net om gedoen te kry wat gedoen moet word – en selfs dít maak dit nie altyd makliker nie. Die internet help gelukkig dat ons minder in toue hoef te staan, maar soms moet ons tog iemand gaan spreek by ‘n bank. Daarvoor moet daar dan eers die nodige moed bymekaar geskraap word, want ons weet al watter avontuur wag. Om net oor te dra wat jou behoefte is (veral as dit nie deur die standaarddiens bevredig kan word nie), is meermale ‘n proses wat kreatiwiteit en deursettingsvermoë verg.

Ek hoor stemme opgaan wat sê: “Ons moet ons voet neersit en eis dat ons in ons eie taal bedien word.” Waarom? Wil ons altyd aan ander dienswillig bly? Waarom wil ons vashou aan instellings wat lankal nie meer aan ons behoort nie? Wil ons dít wat ons bymekaar kon maak nog langer onder die beheer plaas van persone en instellings wat, op hul beste, nie ons belange op die hart dra nie en nog meer geld in hulle sakke steek? Kon die Afrikaner nie in die verlede (al is dit ‘n geslag voor die meeste van ons) dit regkry om reuse-instellings op die been te bring nie? Ons het die vermoë. Ons het dit eenmaal gedoen en ons kan dit weer doen.

Net soos daar op alle ander terreine van ons volk se lewe na eie strukture gestrewe moet word (soms met innoverende idees), moet daar ook gestrewe word na instellings wat bankdienste aan, deur en terwille van die Afrikaner kan lewer. Deur verskillende entiteite wat outonoom funksioneer, word die risiko van ‘n oorname van ‘n groot suksesvolle instelling deur vyandige of gierige partye drasties verminder.

Daar het reeds drie “Afrikanerbanke” die lig gesien wat besig is om te groei en die pad voor te berei. Hierdie instellings werk met mekaar saam ten einde ‘n relevante bydrae te lewer tot die daarstel van ‘n groterwordende Volksekonomie.

Die drie instellings: Kleinfontein Spaar en Krediet Koöperatief, Orania Spaar en Krediet Koöperatief en Oranjekas, is spaar- en kredietkoöperasies wat in die proses is om om te skakel na koöperatiewe banke. In hierdie instellings en andere wat mag volg, lê die vermoë om die fondse van Afrikaners wat tans deur vreemde instellings beheer word vir eie gewin, oor te neem, te bestuur en fondse te genereer wat gebruik kan word om die belange (waaronder die strewe na selfbeskikking) van die Afrikaner te bevorder.

Uit die aard van die saak moet dit instellings wees wat in eie reg finansieel kan bestaan en kan die implementering daarvan nie met ‘n enkele daad afgehandel word nie. Daarom sal dit ‘n proses wees om te beweeg van die eerste basiese dienste na volledige bankdienste aan die volk.

Die drie instellings wat ek genoem het, is pioniers in die aanspreek van hierdie behoefte en het reeds ver gevorder in die realisering daarvan. Die basiese dienste van beleggings, lenings en spaarrekeninge (met beperkte toegang) kan reeds gedoen word, maar onderhandelinge is al goed op dreef om binnekort kaartfasiliteite en internettoegang beskikbaar te stel.

Die nasionale en selfs internasionale ondersteuning deur die vryheidsliewende Afrikaner van hierdie instellings en die oprig van nuwes kan ‘n tydvak van ‘n nuwe ekonomiese opbloei vir die Afrikaner inlei.

все персонажи мультфильмовпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.