Zuma: Bly hy of gly hy?

Deel op

Vir ongeveer ‘n jaar lank verskil meningsvormers en kommentators oor die vraag: Is pres. Jacob Zuma se kierankies besig om uit te braai, of nie?

Hieroor sal nog kopstukke kopgestamp word.

In die een hoek is mense wat stewige argumente opper oor waarom die eindfluitjie besig is om vir Zuma te blaas. Die argumente is so geldig soos toe Willem Jordaan, adjunk-redakteur van Die Burger, die eerste keer hieroor geskryf het.

Diegene wat meen daar is nog ‘n tweede termyn vir Zuma in die vooruitsig, meen sy doemprofete pas westerse maatstawwe op Suid-Afrika toe. Hierdie argumente blyk ook in die kol te wees soos meningspeilings wat op groot gewildheid vir die president dui.

Min mense, enige plek ter wêreld, sou daarin kon slaag om as effektief ongeletterde, met ‘n geskiedenis van ernstige hofsake agter die blad, tot president te vorder.

Zuma se grootste bate, so blyk dit, is om alles aan almal te belowe, en daarmee geloofwaardigheid te behou, al bots die beloftes ook hoe erg. Uit die ou stamtradisie is ‘n hoofman as ‘n goeie hoofman beskou as hy saans van familievuurtjie tot familievuurtjie beweeg en aan die uitgebreide families vertel wat hulle wil hoor. Die afwesigheid van ‘n media wat oor alles berig wat die hoofman sê, het daartoe bygedra dat almal gelukkig kon wees, al het die hoofman in sy rondte ook erge teenstrydighede kwytgeraak.

Zuma het nie dié luukse nie – of het dit nog nie. Maar hy sal steeds by Julius Malema se geboortedorp aan die mense vertel Malema is ‘n toekomstige president van die land, en by Bultfontein se boertjiefees heerlik saamkuier en aandui dié geleentheid sal jaarliks deel van sy dagboek uitmaak.

Op RSG se program, Kommentaar, het die jongste groep deelnemers egter by voorbaat skeptisisme uitgespreek of dit wat Zuma met die mond beloof, in ooreenstemmende dade van sy ministers en amptenare gaan neerslag vind.

Zuma se mediavakansie is verby, iets waarvoor hy ook grootliks net homself kan blameer deur die ANC se mediabeperkingsplanne. Hy kan nou nie meer op ‘n media reken wat politiek korrek sal swyg wanneer teenstrydighede en verbreekte beloftes sou blyk nie.

As iemand nog getwyfel het oor of Zuma hoegenaamd in ‘n tweede termyn sou belangstel, dan het pogings om hom opnuut oor sy Shaik-bande te laat vervolg en sy reaksie daarop alle twyfel uit die weg geruim. Sy presidentskap word in effek as vernaamste verweer geopper oor hoekom die saak nie heropen moet word nie. Hoe langer hy in die stoel bly, en daarna dalk selfs ‘n poppemeester vanuit Lethuli-huis die septer swaai, hoe skraler word sy kanse om sy dag in die hof te kry. Daar is immers reeds ‘n groot magsoordrag van regeringsake na Lethuli-huis aan die gang.

Of die teenspoed Zuma se einde sal beteken of verhaas, sal die tyd leer. Een van die probleme waarmee Zuma se teenstanders te kampe het, is dat Zuma tipies van outokratiese leiers nie toelaat dat bekwame en dinamiese leiers in sy skadu groei nie. Niemand staan nou werklik uit as ‘n lewensvatbare alternatief nie.

Kommentators wys wel daarop dat adjunk-president Kgalema Motlanthe opnuut besig is om presidensieël op te tree. Sy naam duik ook al hoe meer in die media op as die man wat die land de facto, veral vanuit die parlement bestuur. Oor hoe goed hy in Lethuli-huis ingegrawe is, is egter minder duidelikheid.

гидроаккумулятор киевлобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.