Die vreemde geval Bees Roux

Deel op

Daar is ‘n groot, groot slang in die gras met die vermeende aanval op die metropolisielid deur die Blou Bul-speler, Bees Roux.

Schoemanstraat in Pretoria, vir diegene wat nie weet nie, is ‘n eenrigting van wes na oos weg van die middestad. Roux is op die hoek van Festival- en Schoemanstraat voorgekeer agv beweerde dronkbestuur. Die vermeende aanval op die metropolisie-lid is ‘n paar blokke verder uitgevoer, op die hoek van Richard- en Schoemanstraat. Duncanweg, ‘n groot verkeersaar, is egter ná Festival, maar voor Richard.  Duncan is die voor-die-hand-liggende plek om regs te draai om by die naaste polisiekantoor uit te kom. Draai jy regs uit Schoeman in Duncan, en later weer regs, kom jy by die Brooklynse polisiekantoor uit, wat die naaste polisiekantoor is aan die oorspronklike vermeende dronkbestuur-voorval. Om by die Sunnyside-polisiekantoor uit te kom,  waar Roux uiteindelik aangehou is, moet jy links draai uit Schoeman uit en weer links in Pretorius om terug te keer stad toe. Jy kan dit op verskeie dwarsstrate, voor Richardstraat, doen. Roux en sy vermeende slagoffer was gevolglik op die oog af allermins oppad Sunnyside of Brooklyn toe, want anders sou hulle vroeër afgedraai het.

Soos ek die ding verstaan, moet die polisie in terme van hul eie prosedures jou onmiddelik na die naaste hetsy polisiekantoor, dws Brooklyn of Sunnyside neem, hetsy na die naaste getuienissentrum vir bloedtoetse, wat in die middestad is. Dis nie waarheen Schoemanstraat gaan nie.  Dit gaan na die N4 snelweg en Pretoria-Oos se kant toe. Roux bly daardie kant toe, en die metropolisie maak dan ook die belaglike aanspraak dat die beampte glo op pad was om vir Roux huistoe te neem. Laasgenoemde is so goed soos ‘n bekentenis dat hier een of ander gekonkel aan die gang was, want die reëls verplig hulle om hom na die naaste polisiestasie te neem. Jy mag nie ‘n dronke net huistoe neem nie.

Waarheen was die polisielid dus met Roux onderweg? Wou hy hom neem om ‘n omkoopgeldjie by die bank te gaan kollekteer? Net ná  Richardstraat, steeds in Schoemanstraat, is daar ‘n immers ‘n winkelsentrum met ‘n kitsbank of twee.  Wat het van die twee kollegas van die polisieman geword in die hele proses? Hulle beweer hulle het nie die voorval gesien nie, en dus moet mens aflei hulle het Roux-hulle nie gevolg nie. Hoe sou die polisiebeampte wat dood is egter van Roux se huis af weer terugkom by sy patrollie-motor as die ander twee hulle nie gevolg het na Roux se huis toe nie nie? As hulle Roux wel gevolg het huistoe ipv polisiestasie toe, sou hulle terloops ook self aan ‘n misdryf skuldig gewees het.

Selfs nog meer verdoemend is die feit dat Roux se kredietkaart na bewering by die KFC (waar anders?) gebruik is, nadat hy reeds in aanhouding by die Sunnyside-polisiestasie was. Het die dooie polisieman se makkers Roux se beursie getransformeer en in terme van ‘n doen-dit-self SEB-transaksie vir hulle gaan KFC koop? Praat van gevoelloos, indien dit wel die geval was. Jou makker is pas dood maar jy gaan vier dit met ‘n “barrel” KFC sodat jou gevreet blink van die hoendervet. Gegewe die uiters swak reputasie van al wat ‘n metropolisiemag is vir korrupsie en misdadigheid in eie geledere, sou dit my egter geensins verbaas nie. ‘n Groot aantal van hulle is blote kriminele op motorfietse met blou ligte.

Ten spyte van die hoogs verdagte aard van die gebeure is die anti-blanke vooroordeel teen Roux egter alreeds sigbaar. Eugene Terre’Blanche se moordenaar, wat verdink word daarvan dat hy ‘n Zimbabwiër is en dus wel ‘n vlugrisiko is, word op R5000 se borgtog vrygelaat. Roux, ‘n Suid-Afrikaanse burger, moes egter R100,000 betaal.

внутри фотоФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.