Is die staking deel van ‘n rewolusie of eerder anargie?

Deel op

Die Potchefstroomse akademikus, prof. André Duvenhage,  verwys gereeld na die ANC se program van ‘n nasionale demokratiese rewolusie. Hy meen ook dat denkraamwerk hieragter in werklikheid in stryd is met baie van die wese en voortbestaan van die grondwet.

Die burgerregteorganisasie, Afriforum wat gereeld deur hofsake orde bring, is onder meer ook as vyand van die rewolusie beskryf. Julius Malema het onlangs vir die beplande mediatribunaal in die bresse getree deur te sê die media ondersteun nie die voortgesette rewolusie nie. Onlangs het ‘n stakerdrywer in ‘n TV-program gesê die staking sal nie gestop word nie omdat dit deel van die rewolusie is.

Maar voldoen die staking en die regering se reaksie daarop werklik aan die definisie van rewolusie, of het dit meer kenmerke van anargie? Anargie word in verskillende definisies onder meer beskryf as ‘n toestand van wetteloosheid en wanorde, dikwels as gevolg van ‘n mislukte regering. Ander beskryf dit as ‘n toestand van ‘n afwesigheid van politieke gesag, wanorde wat heers en die afwesigheid van ‘n gemeenskaplike doelwit soos die daarstelling van eenvormige standaarde.

Met mense, veral babas, wat selfs in hospitale sterf as gevolg van die staking, die vlakke van intimidasie en geweld, en ‘n uiters lomp regeringsrespons is baie elemente van anargie in werklikheid teenwoordig.

Met pres. Jacob Zuma en ‘n groot afvaardiging se besoek aan China te midde van die krisis is die boodskap boonop uitgedra van ‘n afwesige president en regering. Selfs uit die ANC word nou weens die vlakke van korrupsie en nepotisme na Suid-Afrika as ‘n roofdierstaat verwys.

Terwyl die regering nie daarin slaag om regeringsprogramme behoorlik te sinchroniseer en uit te voer nie, is dit blykbaar deur sy mediaplanne en verdere inkorting van deursigtigheid vas van plan om ongehinderd die persepsie dat hy dit wel vermag, deur te voer.

Die feit dat die soustreinryers, en die werkers wat die land se strategiese belange bedreig het deur voor die wêreldbekersokkertoernooi te staak of te dreig om te staak, ruim slarisverhogings ontvang het, maar dat dié wat lojaal aan regeringsoproepe gebly het om daarmee te wag tot na die staking hulle nou in ‘n veel toeër hand vasloop, dui ook op elemente van die afwesigheid van strategiese beplanning. Die staatskas het gewoon nie die geld om die verhogings waarop aangedring word, toe te staan nie.

Trouens, onder dekking van die sokkereuforie is blatant voortgegaan om kaders wat te erg vasgebrand het, bloot elders in soortgelyke posisies te ontplooi. Hiermee word administratiewe anargie bykans gewaarborg.

Die vraag is nie of die land elemente van anargie, eerder as rewolusie beleef nie. Die vraag is veel eerder waar dit vandaan kom, en of dit gaan eskaleer.

Op sy eenvoudigste gestel, kan dit moontlik daarna herlei word dat pres. Zuma in sy veldtog om die hoogste sport te bereik, aan almal wat bereid was om hom te steun, beloof het wat hulle vra. Na hy verkies is, het hy voortgegaan om by elke belangegroep se vuurtjie mooi broodjies te bak, soos om in Julius Malema se geboortedorp na dié breedsprakige jongman as ‘n toekomstige president van die land te verwys. In die proses het die media gesorg dat wat vir spesifieke groepe se ore bedoel was, ook die ore van ander bereik. Dié manier van doen was dus nie net nie volhoubaar nie, maar boemerang. Dit skep die indruk van ‘n jabroer wat nie leiding kan neem nie, en wanneer hy wél ferm oorkom, soos om stakers met afdanking te dreig, bloot petrol op die vuur te gooi.

Intussen meen sommige ekonome die staking kos die land in die orde van ‘n R1 miljard per dag, terwyl ander dit veel hoër skat.

Intussen is lanklaas van die president se beplanningskommissie gehoor. Te veel drade hang los om anargie in die bek te ruk, en persepsies oor aanvaarbare standaarde vir dienslewering verskil te veel om na ‘n nasionale kohesie en gemeenskaplike visie vir die land te verwys. Die afwesigheid van enige ministers by ‘n pas-afgelope Afrikaanse taalberaad voed boonop die persepsie dat minderheidsregte vertrap word. Selfs die Wes-Kaapse onderwysminister het luidens ‘n berig van Rapport nie op die uitnodiging gereageer nie.

Blood Suckerstopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.