ANC se revolusie verloop volgens plan

Deel op

‘n Mens kan nie anders as om ‘n bewondering vir die ANC en SAKP te hê om te sien hoe hul revolusie, wat jare lank in Moskou, Londen, Oos-Berlyn en ander stede beplan is, stap vir stap geïmplementeer word nie. Wie sou kon dink dat die blanke Afrikaanse skole uiteindelik gedwing gaan word om ook te staak soos die gebruik in die swart woonbuurte is? Maar die gedwonge sluiting van ons skole is maar een revolusionêre simptoom van vele.

Ander simptome van revolusionêre vordering deur die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie is grondhervorming en boere wat binnekort vyftig persent van hul bates en inkomste met hul werkers sal moet deel, die verdieping van regstellende aksie en swart bemagtiging, die gebruik van geweldsmisdaad om ons mense te laat uitmoor en oorsee te verdryf, asook ‘n nasionale dienspligstelsel wat bedoel is om die vrugte van die revolusie met geweld te kan verdedig.

Daagliks staan ‘n mens verstom oor die ongelooflike naïwiteit van die destydse Afrikanerleierskap wat sonder slag of stoot die hele land en infrastruktuur aan ‘n revolusionêre bende ballinge vanuit Londen en Oos-Europa oorhandig het. Maar ook die gewone Afrikaner wat vandag skynbaar sy oë sluit vir die revolusie wat in radikalisme en intensiteit toeneem, ontken die werklikheid wat hom as’t ware elke dag oor die kop slaan. Soos die spreekwoordelike potpadda waarvan die water gaandeweg al hoe warmer word, sit almal en wag dat die volgende fase van die revolusie oor hulle spoel.

Wat moet nog gebeur vir mense om wakker te skrik? Moet daar Rooi Wagte soos tydens Mao se kulturele revolusie by elke skool opdaag – eintlik gebeur dit reeds – om ons kinders as kanonvoer vir die revolusie weg te voer? Moet plase een vir een beset word en die eienaars onder bestuur van die revolusionêre staat geplaas word? Moet die hamer en sekel op die sewe-uurnuus op TV gehys word? Eintlik is ons mense al so gekondisioneer en so gewoond aan die hamer en sekel dat hulle skaars agterkom hoeveel dit in die massamedia vertoon word.

Die huidige landwye staking van staatsdienswerkers wat binnekort deur Cosatu se lede in die privaatsektor aangevul gaan word, verteenwoordig nog ‘n klassieke simptoom van oplaaiende revolusionêre energie. Die linkse leiers van die vakbonde – Cosatu en ander se bande met die SAKP is oorbekend – kry tereg die indruk dat hul mag besig is om toe te neem. Hulle wil die meer gematigde elemente in die ANC dwing om groter salarisverhogings toe te staan, asook ‘n meer linkse beleid oor die algemeen toe te pas.

Die Afrikaner is met sy rug teen die muur. Ons sal moet besef dat die veranderingsproses, die “transformasie” (wat al jare lank ‘n eufemisme vir revolusie is), reeds veels te ver gevoer is. Onder die huidige omstandighede gaan ons nie kan oorleef nie. Die honderdduisende blanke en Afrikanerwerkloses, waarvan vele reeds in plakkerskampe woon, is die stille getuienis van die revolusie wat ons stuk vir stuk van ons ekonomiese kanse en menswaardigheid ontneem.

Die revolusionêre van die ANC/SAKP weet baie goed dat ons hulle vyand is. Hulle gebruik oor en oor die term “vyand”. Danksy sy leierloosheid, gebrek aan eerlike media en verskynsels soos Angus Buchan wat mense in godsdienstige euforie dompel, is die Afrikanervolk vandag so werklikheidsvreemd dat hy nie agterkom dat sy vyand besig is om hom stelselmatig te vernietig nie.

Die hoop beskaam egter nie dat mense deur die toenemende wanorde gaan agterkom dat “alles nie pluis is nie”. In die destydse kommunistiese Oos-Europa het ons gesien hoe mense se denkbeelde volledig deur die revolusionêre bepaal kan word wat die media, skole en universiteite beheer, maar dat gesonde verstand tog iewers die individu soos ‘n klein stemmetjie in sy agterkop begin pla.

Indien u vandag wonder waarom ons skole vir die eerste keer in die geskiedenis nie funksioneer nie en wat presies die betekenis van ‘n “algemene staking” in die geskiedenis van linkse revolusies is, dan is daardie stemmetjie in u agterkop besig om met u te praat.

Dit is so belangrik dat elkeen van ons wat aan die breinspoeling van die afgelope anderhalf dekade ontkom het en helder kan sien wat gebeur, met mekaar moet kommunikeer en ook moet organiseer om die aftakelingsproses te stuit.

Alvorens dit heeltemal te laat is.

игры девочкамАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.