‘n Alternatiewe politieke stelsel vir multi-samelewings

Deel op

Die doel van hierdie rubriek is om breë riglyne te ontwerp vir die bestuur van multi-samelewings.  Die artikel veronderstel dus dat die liberaal-demokratiese model vir multi-samelewings uitgedien is. Multi-samelewings verwys na samelewings wat gekenmerk word deur:

*    ‘n ontwikkelingsprobleem (ryk, arm)
*    ideologiese konflikte (Sosialisme versus kapitalisme, versus
nie-kapitalistiese vryemark ekonomiese stelsel),
*    ‘n onderliggende beskawingskonflik (Oosters, Westers, Afrika),
*    Rasseverskille (Kaukasies, Negroïed, Mongoloïed)
*    Religieuse differensiasie (Christendom, Islam, Judaïsme, Afrika)

Die agenda is om te fokus op ‘n hipotese in sake die wenslikheid van ‘n nuwe orde, om te wys op die nadele verbonde aan die liberale veelpartystelsel, om die voordele van ‘n partylose direkte plurale demokrasie aan te stip en om die prosesse onderliggend aan laasgenoemde aan te dui.

Van die hipotese word uitgegaan dat ‘n regverdige staat wat volgens geregtigheid regeer al die natuurlike differensiasies (ryk/arm, sosialisme/kapitalisme, Oosters/Westers/Afrika, Christen/Islam/Afrikareligie, Wit/Swart/Geel) in die samelewing verdiskonteer. Verdiskonteer beteken om daarmee rekening te hou en die onderlinge belange van elk met die res uit te balanseer. ‘n Verdere element van die hipotese is dat die liberale demokrasie uitgedien is en lei tot die magstaat.  Afrika se opeenvolgende mislukkings met die liberale demokrasie word treffend  deur Martin Meredith in sy “The History of Africa” (Jonathan Ball Publishers, 2005) uiteen gesit.

Die feitelike stand van sake is dat die koloniale moondhede (die Verenigde Koninkryk in die geval van SA) territoriale grense getrek het, sonder inagneming van die  bg. grense.

Die volgende gebreke in die liberale demokrasie word kortliks aangestip:

*    Partye ideologiseer die samelewing met die invoering van ideologiee wat vreemd is aan die mense (sosialisme, kommunisme, materialisme, individualisme)
*    ‘n Dominante party gryp alle mag vir homself en kontinueer sy mag met opeenvolgende korrupte verkiesings (Zimbabwe as voorbeeld).
*    Liberalisme lei dikwels tot totalitarisme (soos die wegroep dat die ANC tot, met en na die Wederkoms sal regeer).
*    Die geregtigheidsvraag in die algemene belang lei tot die diktatuur van getallemeerderhede.
*    Organe van die burgerlike samelewing word onderspeel, vervaag en verdwyn en tradisionele leierskap gemarginaliseer (bv. die rol van die Zoeloekoning).
*    Menseregte-aktes wat gemeenskapsregte en godsdiensregte moes insluit word tot liberale/individuele regte verskraal.
*    Die stelsel van proporsionele verteenwoordiging word sodanig verkrag dat die groot partye deur die staat met massale fondse gesubsidieer word en kleiner partye bykans geen kans kry om in die wetegewende liggame op ‘n gelyke basis te debatteer nie (dikwels kry ‘n klein party soos die VF+ twee minute om ‘n komplekse saak te stel).
*    Die sterker groeperinge word deur die staat aangehelp om sterker te word en die kleiner partye uitgewis (bv. deur die verlies van deposito’s in verkiesings).   

Die voordele verbonde aan ‘n partylose plurale demokratiese regstaat is dat:

*    Die natuurlike differensiasies verdiskonteer word.
*    Gemeenskapsregte ingebou word.
*    Die onderliggende beskawingsprobleem tot sy reg kom.
*    Die rol van die staat geminimaliseer word tot die skep van juridiese ruimtes waarbinne die natuurlike differensiasies hulleself kan afspeel.
*    Die rol van instellinge van die burgerlike samelewing (godsdiens-, kultuur-, ekonomiese instellinge, ens.) direkte inspraak in die besluitnemingsprosesse kry.

Die struktuur van ‘n partylose plurale alternatiewe model word van onderaf na bo soos volg ingestel. Georganiseerde en gestruktureerde organe van die burgerlike samelewing word versoek om, al na gelang van behoefte, die volgende koukusse om die sentrale unieke bestaansrede van elk te vorm. Dit sluit in instellnige soos volg:

*    Ekonomiese instellinge (soos besigheidsinstellinge).
*    Juridiese instellinge (soos prokureursordes, regsfakulteite, ens.
*    Landbou-instellinge (soos die georganiseerde unies).
*    Finansiële instellinge (soos die Banke, met insluiting van die Reserwebank en fakulteite aan hoër onderwysinstellings).
*    Vakbonde.
*    Werkgewersorganisasies
*    Opvoedkundige instellinge.
*    Ens.

Die staat voorsien aan elke koukus per gebiedsfeer ‘n administratiewe hulpdepartement. Elke koukus skryf ‘n strategie vir die maksimalisering van sy funksies en ter maksimale ontplooiing van sy vermoëns. ‘n Koukus oorweeg alle voorafgaande wetgewing wat hindernisse is op die weg na sukses.  Elke koukus formuleer konsepwetgewing ter strukturering van die bedryf daarvan. Elke koukus kies al na gelang van behoefte en bekwaamheid sy leierskap.  Die voorsitter van ‘n koukus word die Minister in die kabinet van ‘n uitvoerende president. Die ministers/voorsitters van die verskillende koukusse vorm ‘n kabinet. Die kabinet kies sy voorsitter wat as eerste minister of president dien.

Die president en kabinet bring die volgende regeringsinstellinge tot stand:

*    ‘n Wetgewende liggaam van juriste op die verskillende gebiede en sfere wat alle voorgestelde wetgewing deur koukusse bestudeer, in balans bring met alle ander sfere.
*    ‘n Huis van tradisionele leiers wat saamgestel word uit ‘n veelvoud van statutêre godsdiens-, taal- en kultuurrade (analoog aan artikel 185 van die huidige grondwet) en hulle werksaamhede verrig aan die hand van ‘n grondwetlike akte vir godsdiens-, taal- en kultuurregte.
*    ‘n President wat wetgewing teken en aan die hoof staan van internasionale verhoudinge (uitstuur en akkreditasie van ambassadeurs en gevolmagtiges.
*    Die fiskus in en voorsien die fondse vir die bedryf van die staat.

Die onderliggende administratiewe funksionering en staatsprosesse geskied, min of meer, soos volg:

*    Die formasie van koukusse per terrein van die samelewing en verkiesing van leierskap aan die hand van vermoëns en vakkundige bekwaamheid.
*    Die daarstelling van ‘n kabinet bestaande uit die voorsitters van die onderskeie koukusse.
*    Die aanwysing van ‘n president of eerste minister.
*    Die hersiening van wetgewing deur koukusse.
*    Die daarstelling van alternatiewe wetgewing.
*    Konsultasie tussen koukusse.
*    Verwysing van wetgewing na die juridiese liggaam vir verfyning en finalisering.
*    Beoordeling van wetgewing deur die huis van tradisionele (volks)leiers in die mate waarin wetgewing ‘n inpak het op die godsdiens- en kultuurlewe van die land.
*    Verwysing na die kabinet vir bespreking en moontlike terugverwysing na ‘n koukus ter hersiening van ‘n maatreel wat nie in die algemene belang is nie.
*    Promulgasie van wetgewing deur die president.
*    Afdwinging van wetgewing deur die administratiewe komponent onderliggend aan elke koukus.

Die voorgestelde staatkundige model ken net twee sfere:  plaaslike selfbesturende owerhede (wat volgend die bg. model in die kleine gestruktureer en bestuur word), en die nasionale sfeer, soos verduidelik. Geografiese ruimtes sal de jure erken word en wat de facto deur gemeenskappe self geskep is, as hartlande vir verskillende gemeenskappe.

Die neutrale swaardmagte (polisie en weermag) is instellinge wat vanuit die kabinet geadministreer word.

Kortom:  die voorgestelde regeringstelsel vervang ‘n klomp praatsieke ideologies gemotiveerde partypolitieke leiers in die huidige geldmorsende wetgewende liggame met bevoegde persone wat volgens meriete en vakkundige bekwaamheid deur die burgerlike samelewing daargestel is. Hierdie stelsel gee direkte inspraak aan georganiseerde en gestruktureerde belange-groeperinge. Die individu het direkte inspraak by ‘n gestruktureerde belange-groepering.

Wie stel belang om so ‘n party tot stand te bring?

тумба светильникАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.