Wat beteken selfbeskikking in die praktyk?

Deel op
Die volgende klink na ‘n dom vraag: Waarom moet Afrikaners selfbeskikking verkry? Die antwoord is immers voor-die-hand-liggend, nie waar nie? Dit is omdat Afrikaners ‘n soewereine volk is, en omdat daar ‘n internasionaal-erkende reg is vir soewereine volke om oor hul eie lot te kan beskik.

Bostaande is egter myns insiens nie heeltemal so voor-die-hand-liggend nie. Daar was byvoorbeeld min mense wat in die vorige bedeling geagiteer het vir ‘n skeiding tussen Engelssprekende blankes en Afrikaners. Ons was skynbaar heel gelukkig om ons land met die Engelssprekendes te deel. Dit sou moeilik wees om te argumenteer dat ‘n Engelssprekende blanke Suid-Afrikaner deel van ons volk is. Miskien is blote nasionalisme nie ‘n volledige verklaring vir die drang om oor onsself te kan beskik nie.

So ook het daar reeds sedert 1994 ‘n miljoen blankes, waaronder sekerlik ‘n halfmiljoen of meer Afrikaners, na lande soos die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland geëmigreer. Vir hierdie halfmiljoen Afrikaners was hul volksstatus skynbaar van sekondêre belang, omdat hulle hulself meestal in Engelssprekende lande gaan vestig het, wat ‘n heel verskillende kultuur en taal het.

Die sleutel lê in die term “oor hul eie lot te kan beskik.” Wat beteken dit in die praktyk, en waarom voel baie van ons dat ons daardie reg verloor het in 1994? Hunker ons byvoorbeeld na die ou bedeling se gedagtebeheer, klem op Christelik-Nasionale onderwys of na klein apartheid? Wil ons volkspele en jukskei op die TV sien? Soek ons na die tradisionele, behoudende waardes van ons ouers, toe die Broederbond en NG Kerk oppermagtig was?

Dit lyk nie so nie. Die halfmiljoen emigrante het immers nie na Orania (slegs 700 inwoners), Amisj-gemeenskappe in Pennsylvanië of na Iran gestroom nie, maar na moderne, Westerse lande wat bykans sonder uitsondering sekulêre liberale demokrasieë is. Die gedeelde kenmerk van Australië, die VK, Nieu-Seeland, die VSA en Kanada is wel dat blankes ‘n meerderheid daar is, en hier is ons eerste leidraad. Die emigrante het wel gehunker daarna om tussen mense van hul eie velkleur te verkeer.

Waarom sou dit wees? Is hierdie halfmiljoen verloopte Afrikaners almal gebore, onkorrigeerbare rassiste? Haat hulle swartmense? Dit vind ek moeilik om te glo, omdat die religie van nie-rassigheid en politieke korrektheid hoogty vier in die lande waarheen hulle vertrek het. Nee; dit is omdat die emigrante instinktief besef het dat die belange van swartes en blankes eenvoudig onversoenbaar is. Miskien het hulle dit nie verwoord nie, maar mens kan dié botsende belange selfs verder vereenvoudig: Die grondliggende rede waarom hulle geëmigreer het, is belasting, en spesifiek die mag om te bepaal hoe die belasting wat ek betaal, spandeer word.

Belasting is die rede waarom ons selfbeskikking moet verkry.

Dis ‘n vreemde gedagte, nie waar nie? Dit stuit jou amper teen die bors om te dink dit gaan oor belasting. Wat dan van ons kultuur, taal en al daardie mooi dinge? Ja, hulle is belangrik, maar sonder die seggenskap oor ons eie belasting, is ons kultuur en taal in ieder geval gedoem. In Suid-Afrika betaal ons belasting maar die regime gebruik ons eie belasting om hofsake teen Hoërskool Ermelo te voer, ten einde ons taal te vermoor. Standerton se ANC-stadsraad het die blankes se belasting gebruik om ‘n monument, ons kulturele erfenis, op die dorp te vernietig. Aapstat se ANC-stadsraad gebruik eweneens my as inwoner se belastinggeld om my historiese erfenis uit te wis en Pretoria na ‘n imaginêre stamhoof te herdoop.

Dit is ook nie so vreemd as mens in ag neem dat een van die sleutelfaktore wat aanleiding gegee het tot die Amerikaanse Rewolusie belasting was. Die Bostonse Teepartytjie, ‘n voorspel tot dié rewolusie, het oor Amerikaners se belasting wat aan ‘n vreemde volk, die Britte, gegaan het, plaasgevind. Vandag is daar weer burgerlike verset in die VSA teen die regering, en hierdie verset gaan oor…ja, reg geraai – belasting. Die Amerikaners is kwaad vir die Obama-regering en wat hulle sien as sy verkwisting van hul belastinggeld. Die versetbeweging noem homself die Tea Party-beweging. Sarah Palin, wat baie as ‘n fundamentalistiese Christen sou sien, is polities-intelligent genoeg om die belang hiervan in te sien, en haar by die Tea Party-beweging te skaar.

Dit is presies om hierdie rede dat verdere deelname aan die Nuwe Suid-Afrika vir Afrikaners nie wenslik is nie: Diegene wat die meerderheid belasting betaal en die staat befonds, ons, die blankes, het geen seggenskap oor hoe dit spandeer word nie, omdat ons demografies verswelg word deur diegene wie se belange lynreg met ons s’n bots. Die naamverandering van Pretoria is nie in my belang nie maar eerder in die ANC en sy kiesers s’n.

Dit is waarom die halfmiljoen emigrante na lande soos Australië uitgewyk het: Omdat hul belange versoenbaar is met die ander blanke Australiërs s’n; omdat die belasting wat ‘n immigrant daar betaal, op sý en mense soos sy, die ander blankes in daardie lande, se belange bestee word, en nie op ‘n massa vreemdes se belange nie.

Daardie reg om te bepaal hoe ons eie belasting spandeer word, is myns insiens die sleutel tot selfbeskikking. Kry ons dit terug, verdwyn al die ander probleme wat ons tans beleef grootliks soos mis voor die son. As Afrikaners ons eie belasting op ons belange kan spandeer, sal ons ‘n polisiemag kan skep wat misdaad uit ons gebiede kan hou. Die taalstryd by die Universiteit van Stalinbos sal nie meer ‘n faktor wees nie, want ons sal met ons belasting ons eie universiteite kan stig.

Die stryd om selfbeskikking beteken in die praktyk ‘n stryd om die reg om te bepaal hoe ons eie belasting spandeer word, terug te kry.

пасты для пломбирования корневых каналовtopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.