Deursigtigheid toegewasem

Die besluit van die ANC en die IVP om ‘n vergadering tussen die SABC-raad en die parlementêre portefeuljekomitee te verdaag nadat ‘n hofbevel verkry is om dit vir die media oop te stel, laat net meer vrae ontstaan oor hoe die ANC die pad vorentoe sien met sekere grondwetlike waarborge oor meningsuiting en die reg om inligting wat jou regte raak te bekom.

Omdat die SABC ‘n statutêre openbare uitsaaier is wat gereeld vanuit die staatskas met ‘n reddingsboei uit die sop gehelp word, is elke burger van die land ‘n aandeelhouer en het op die een of ander wyse ‘n belang daarby. Dit sluit in die reg om verseker te wees dat die openbare uitsaaier nie as ‘n propaganda-arm vir die regerende party aangewend word nie.

Ook nie probeer verdoesel waar sekere programme op veral die SABC se radiostasies as weerligafleiers gebruik word terwyl ‘n spesifieke agenda op die oorhoofse vlak voltrek word nie.

Daar is begrip voor dat ‘n werkgewer sekere kwessies, veral personeelkwessies, as sensitief sal beskou en nie graag dié onderkleertjies op die wasgoeddraad langs die hoofweg opgehang sal wil sien nie. Die teenargument is dat as ‘n mens vir ‘n openbare uitsaaier wil werk, moet ‘n mens sorg dat jou neus te alle tye skoon is, veral waar dit die belange van die publiek raak.

Boonop het privaat en gemeenskapsradiostasies nie die luukse van vertroulikheid wanneer OKOSA oor hul lisensie-aansoeke besin nie. Logieserwys sou verwag word dat die skoen eerder aan die ander voet moet sit.

Soos die vereniging van parlementêre verslaggewers uitgewys het, staan dit egter ook teen die agtergrond van beoogde nuwe wetgewing wat onder meer mediavryheid ernstig bedreig en ‘n mediatribunaal.

Soos wat die wêreldsokkerbekertoernooi vir Suid-Afrika baie positiewe publisiteit besorg het, sorg veral die intimidasie en geweld wat nou met die staking gepaard gaan, dat die land erg in die buitelandse pers deurloop wat onthuts is oor die regering se mediaplanne.

Die kern van die probleem wat nou met die SABC se verskyning voor die parlementêre komitee ervaar word, is dat dit moeilik is om ‘n reuse liggaam se neus skoon te kry na daar so lank politieke inmenging en politieke aanstellings was, en meriete nie altyd die swaarste geweeg het nie.

Op die duur werk ‘n ontleedmes en chirurgie beter as om septiese wonde onder pleistertjies toe te maak. Kort voor lank is deursigtigheid, een van die pilare van verantwoordbare regering, nie net toegewasem nie, maar toegemessel.

027уФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.