Romanisering van die Christelike godsdiens in die periode 325 tot 380 nC

Deel op

In vorige artikels het lesers van Praag hulle uitgelaat oor kerk-staatverhoudinge en die wedersydse beïnvloeding van godsdiens en politiek op mekaar.

Die Christelike godsdiens het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan in die periode 325 tot 380 nC en daarna. Met Romanisering word bedoel dat hoofsaaklik twee keisers ‘n uniforme dogma op die kerk afgedwing het en ‘n aantal biskoppe die dogmas van die kerk met die Griekse filosofie versoen het. Teen 380 nC het keiser Theodosius ‘n interdik afgekondig dat burgers van die hoofstad Konstantinopel voortaan in een godsidee bestaande uit die Vader, die Seun en die Heilige Gees sou glo.

Dit is die oordeel van Charles Freeman in sy A New History of Early Christianity (2009) 377 paginas.

Die teologie van die vroegste kerk nC het die subordinasie van Jesus aan God onderskryf (239p.) Jesus het homself hiervolgens oor sy verhouding tot die Vader uitgespreek. Die Vader is groter as die Seun. Voorstanders van hierdie standpunt was biskop Sirmium van die Balkan. Veel later, het ook die kleinseuns van Konstantyn – Konstantyn II, Konstantius en Konstans – aan die onderhorigheid van Jesus aan die Vader geglo.

Transformasie van die godsdiens

In die genoemde periode het Romeinse keisers inhoud aan kerklike dogma gegee. Biskoppe is deur keisers aangestel wat die keiserlike voorskrifte en dekrete in sake die godsdiens nougeset gevolg het (226p.). Die veelvormigheid van die kerk is tot uniformiteit verander. Die kerk is weggestuur van die Judaïstiese oorsprong daarvan.

As teenprestasie is biskoppe met kerklike en selfs politieke magte beklee. Groot kerklike strukture is daargestel (236p.).

Konstantyn die Grote

Die eerste keiser wat ‘n belangrike eerste inset tot die Romanisering van die Christelike godsdiens gemaak het, was keiser Konstantyn. In 313 kondig hy in Milaan, en in samewerking met Licinius, namens die Oos- en Wesryke, ‘n Edik van Verdraagsaamheid af, wat die einde van die vervolging van Christene was. Op hierdie stadium was dit nie die bevoorregting van die Christelike godsdiens bo ander godsdienste nie. ‘n Belangrike politieke oogmerk was om die gode aan sy kant te kry (325 p.). Hy het verskillende visioene gehad, wat hy geïnterpreteer het as goddelike insette. Volgens Konstantyn het:

* die songod Apollo aan Konstantyn belowe het dat hy vir dertig jaar ononderbroke sou regeer.
* die teken van die Alfa en die Omega, verbind aan die woorde “deur hierdie teken sal jy oorwin”, het militêre oorwinnings meegebring.

Konstantyn het die woorde Alfa en Omega op die skilde van sy krygers laat aanbring, wat gelei het tot etlike oorwinnings (326 p.).

In sy Rede in sake die Heiliges bevorder hy die monoteïsme(228 p.). Politeïsme is dikwels die rede vir openbare geweld. Die idee van een God is ‘n meer effektiewe simbool van eenheid en van gesag.

Daar is twyfel of Konstantyn ooit werklik ‘n Christen was. Die godsdiens van sy krygers was geloof in die songod, die sol invictus. Die kop van Apollo was nog steeds teen 320 nC op sy muntstukke gedruk. Konstantyn is eers op sy sterfbed, klaarblyklik toe reeds in ‘n koma, gedoop (326p.).

In die soeke na uniformiteit is Konstantyn met twee mekaaruitsluitende standpunte gekonfronteer, wat die geestelikes in twee kampe gejaag het. Dit is onderskeidelik dié van Athanasius en Arius en wel oor die verhouding van Jesus tot die Vader. Aanvanklik het hy sy gewig by die standpunt van Athanasius ingegooi. Arius is gemarginaliseer. Later het Konstantyn gepoog om die eer en status van Arius te herstel. Athanasius wou hieroor nie kopgee nie.

Derhalwe is Athanasius gevolglik ook verban (234 p.).

Athanasius

Athanasius was van oordeel dat die verhouding tussen die Seun en die Vader nie in woorde uitgedruk en ook nie verduidelik kon word nie. Hy het geredeneer dat die Seun van altyd af deel van die Godheid was. Jesus het dus ‘n voorgeboortelike voorafbestaan geken.

Volgens Freeman was Athanasius nie juis veel van ‘n akademikus en intellektueel nie (242 p.). Sy strategie was eerder een van aanval as verdedig. Diegene wat nie met sy standpunt akkoord gegaan het nie is as napraters van Arius afgemaak. Sy teologie was ingebed in die idee van die radikale verdorwenheid van die mens. Daarom moes God ‘n afskynsel van Homself na die aarde in die persoon van die Seun stuur. Een van die weinige tekste waarop Athanasius kon steun was Johannes 10:30 waar Jesus die woorde uiter dat hy en die Vader Een is.

Die standpunt van Athanasius is by die sinode van Nicaea onder invloed van keiser Konstantyn gehandhaaf. Onder die keiserskap van Konstantius, die kleinseun van Konstantyn, is Athanasius egter verban, omdat hy geweier het om hom by die standpunt van die onderhorigheid van Jesus aan die Vader neer te lê.

Arius

Arius, daarenteen, word as ‘n charismatiese leier getipeer (230 p.). Hy was populêr onder die kerkleiers.

In navolging van Sibellius was Jesus volgens Arius ‘n latere maar belangrike skepping van God (230 p.). God se majesteit kan nie deur ‘n geskape persoon gedeel word nie. God is groter as Sy skepping. Arius wys daarop dat Jesus self verklaar het dat hy net die wil van die Vader doen.

Arius is ondersteun deur Eusebius, die biskop van Nikomedia (230 p.). Omdat Arius nie die status van ‘n biskop gehad het nie, is die standpunt van Arius by die sinode van Nicaea deur Eusebius gestel.

Nadat Arius deur Konstantyn verban is het Konstantyn wel later besluit om Arius se eer te herstel. Arius is op weg na die plegtigheid dood.

Sinode van Nicaea

Die mekaaruitsluitende standpunte tussen Athanasius en Arius is op die Sinode van Nicaea in 325 nC onder invloed van keiser Konstantyn besleg. Die keiser was die voorsitter. Gevolglik was hy in staat om die gang van die besluite te beïnvloed (232 p.).

Tussen 200 en 250 biskoppe is deur Konstantyn byeen gebring. Daar was klaarblyklik weinig, indien enige afgevaardigdes, uit Wes-Europa teenwoordig.

Die doelwit van Konstantyn was om teologiese konsensus by die Sinode te verkry (232 p.). Hoog op die agenda was die verhouding van die Seun tot die Vader. Vir hierdie doel is die nie-Bybelse konsep van homoousios as uitdrukking van die Vader/Seun-verhouding te tipeer. Vader en Seun was dus in wese Een. Jesus was nie ‘n skepping van God nie. Jesus was net ‘n ander substansie as God. Oor die verhouding van die Heilige Gees tot die Vader en die Seun is daar nie besluit nie.

Die begrip dat Jesus gegeneer (“begotten”) is, is ewe kontroversieel. Die begrip generasie verwys ewe eens na ‘n onafhanklike skeppingsdaad (233 p.).

Die implikasie van die kanonisering van homoousios was die afsnyding (ekskommunikasie) van Arius en twee ander Biskoppe (233 p.).

Theodosius

Keiser Theodosius was die Keiser van die Oosryk (379 nC). Op voetspoor van keiser Konstantyn het Theodosius ‘n beleid deurgevoer om doktrinêre uniformiteit op die kerk af te forseer (248 p.). Kerkleiers wat ‘n ander standpunt ingeneem het, is gewoon van hulle ampte onthef. Biskop Demophilus was genoodsaak om die leer in sake die onderhorigheid van die Seun aan die Vader af te sweer. Vader en Seun was van gelyke majesteit. Toe die Biskop weier is hy as biskop van Konstantinopel afgesit.

Theodosius het net biskoppe aangestel wat die Orde van Nicaea gevolg het. Diegene wat afwykende standpunte gehuldig het is as “van lotjie getik”(insane) afgemaak. Theodosius het die afgestorwe voorsitter van die Raad van Konstantinopel met ‘n politieke senator (Nektarius) vervang (250 p.). Daarmee het Theodosius die onderskeid tussen staats- en godsdiensfunksies en -ampte opgehef.

Raad van Konstantinopel

Die byeenbring van die Raad van Konstantinopel (381 nC) was gewoon om die besluite van Nicaea te herbevestig (249 p.). Wie daarvan afgewyk het is gedissiplineer. Die dogma van Nicaea is opnuut uitgevaardig en staan bekend as die deklarasie van die Raad van Chalcedoon (451 p.).

Na die kortstondige byeenkoms van die Raad van Konstantinopel het Theodosius ‘n nuwe stel reëls (epistulae) vir kerklike ampte uitgevaardig (251 p.). Hy het vir elke biskoppegebied net biskoppe aangestel wat die Geloofsbelydenis van Nicaea onderskryf het. Biskoppe het ook die mag verkry om sertifikate van meriete aan diegene uit te reik wat die ortodokse standpunte onderskryf het.

Meningsvormende teoloë

Die belangrikste meningsvormende teoloe wat in ongeveer 380 nC die Belydenis van Nicaea bevorder het, het ingesluit:

* Die Kappadosiese Vaders wat navolgers van die Griekse Neoplatonisme was (246 p.).
* Gregorius van Naziansus wat ‘n student van Philo en van Origen was.
* Basil van Caesarea en sy broer Gregorius van Nyssa.

Uit die pen van Basil is ‘n traktaat geskryf wat daarop aandring dat teoloë van daardie tyd eers die Griekse filosofie moes bemeester, alvorens hulle die heilige skrifte van die Christelike godsdiens aangepak het.

Gebaseer op die Ideëleer van Plato, ingevolge waarvan konkrete dinge net afskynsels van ewige goddelike vorme is, is die leer aangaande die drie-eenheid geformuleer.

Gevolgtrekking

Konstantyn se rol om ‘n uniforme dogma op die Christelike godsdiens af te forseer, is tot vandag toe deurslaggewend (226 p.). Opposisie daarteen word as opstand teen God gesien.

Die gevolgtrekking waartoe Freeman kom is dat die kerk nie in staat is om die geloofsbelydenis van Nicaea op skriftuurlike gronde te onderskryf nie. Nicaea word gesien as die manifestasie van die misterie van geloof wat nie net op verstandelike gronde berus nie.

Die begrip homoousios het volgens Freeman nie die oplossing gebied op die vraag hoedat Vader en Seun een substansie , maar tog twee afsonderlike persoonlikhede kan wees nie.

Freeman haal Richard Hanson aan dat die belydenis van Nicaea ‘n mynveld van onoplosbare verwarring is (“The Search for the Christian Doctrine of God”, 1988 (168 p.).

Athanasius se afdwinging van die Geloofsleer van Nicaea is deur beide die politiek en die gangbare dogma van die tyd daargestel.

Binne die kerklike sfeer het die Platonisme die wysgerige fundering van die Romaanse teologie geword (239 p.).

такое справкаФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.