By die uitspanplek

Deel op

Die trekkers het volgens Op Trek (deur J. Celestine Pretorius, redakteur, André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, H.S. (Tia) Hugo en J.F. (Joey) Wilmans) in groepies getrek en gekampeer omdat daar nie weiding vir almal se vee was nie. Sulke groepe het oor en weer gekuier, koffie gedrink en soms saamgeëet, soos op Nuwejaar.

Wanneer gevaar dreig, het die geselskappe gekonsolideer. Die meeste trekkers wat in vyandelikhede dood is, se waens was in klein groepies uitgespan en nie in ‘n laer saamgetrek nie. Tog was daar hardkoppiges wat nie in groot laers wou saamtrek nie. Die klassieke vorm vir die walaer was die sirkel, met soms ‘n kleiner sirkel binnekant vir beskerming van die vroue en kinders.

Omdat hulle goeie jagters was, was daar altyd vleis, maar dit moes gesout of gepekel word om te hou. Een resep vir pekel was 6 bottels water, 1½ pond sout, ½ pond bruin suiker, ½ ons salpeter, ½ ons potas wat saamgekook word, en dan nog speserye na smaak.

Ander kos was moeiliker bekombaar. Middele soos meel, koffie, tee, suiker en rys is wel saamgeneem, maar rys en brood is later net vir siekes gegee. Soms is lank genoeg oorgestaan om landerye te begin, want behalwe die implemente het saad, stiggies en moere saamgereis. Ook is koring, mielies, soetriet, piesangs, patats, heuning en pampoene van swart mense geruil. By laasgenoemde het hulle sorghum leer eet.

Sout was skaars en wanneer hulle by ‘n soutpan verby is, is ‘n groot voorraad opgelaai. Koffie en tee is algemeen gedrink; die koffiebone is by smouse gekoop. Vir vuurmaak is ‘n tonteldoos gebruik, want vuurhoutjies was daar nog nie. Ook is bietjie kruit op ‘n droë lappie gegooi en ‘n klip gebruik om ‘n vonk mee te slaan.

Onontbeerlik vir die vroue was die wit kappies met gestyfde rande wat hulle teen die son, wind en weer moes beskerm. Dit was byna ‘n skande om deur die son verbrand te wees. Kappies maak was ‘n fyn kuns; vir die rande was sulke fyn stekies nodig dat die vroue buite in die son moes sit en werk. Die rokke was lank en het net bokant die grond gehang.

Naalde was kosbaar. Soms is ure gesoek na ‘n naald wat geval het. As die punt afbreek, moes ‘n nuwe punt op ‘n klip geslyp word. Mooi borduurwerk is soms gedoen. Verder is kerse gemaak, seep gekook, velle gelooi, rieme gebrei, velskoene gemaak en swepe gevleg. Swepe, sambokke en rieme moes snags weggebêre word anders het hiëna’s nadergesluip en dit opgevreet!

In groot laers was die omstandighede soms haglik. Weens diefstalgevaar moes die trekkers die vee partykeer in die laer injaag, wat die ongerief vererger het. By die laers en uitspanplekke was daar streng maatreëls vir sanitasie, verwydering van afval en die voorsiening van skoon water.

Die meeste trekkers het hul eie “huisapteke” saamgeneem. Hulle het groot waarde geheg aan wit-, rooi- en bruindulsies wat hoofsaaklik uit ‘n alkoholoplossing van kaliumasetaat bestaan het. Ander middels was kasterolie vir ‘n ongestelde maag, wonderessens vir slegte spysvertering, Hoffmans- Haarlemmer- en versterkdruppels, soetolie en dergelike meer. Baie van die middels was net ‘n troos. As een middel nie help nie, is maar ‘n volgende ingegee. Die siektes wat die meeste voorgekom het, was masels en “koors”.

свет в спальнетопкарго отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.