Die Afrikaner se bankrotskap en rehabilitasie

Deel op

Die Afrikaner is bankrot, en soos almal weet, verloor jy al jou bates as jy bankrot verklaar word. As straf moet jy dan eers vir ‘n aantal jare in die handelswoestyn gaan leef voor jy ‘n regter vra om jou status te herstel, en jy dan stadig en pynlik van voor af weer bates kan bymekaar maak.

Daar kan natuurlik vele oorsake wees vir bankrotskap, en die gewilde verskoning is dat een of ander vennoot of sakekennis jou verneuk het – dit is altyd iemand anders se skuld. Maar die pynlike waarheid is dat dit altyd te wyte was aan verkeerde besluite wat jy geneem het, of jou gebrek aan aksie om op te tree toe die tekens van agteruitgang begin wys het.

Die vraag wat natuurlik onstaan, is: Waar het die Afrikaner se bankrotskap begin en wat het dit aangehelp? Met ander woorde wat is die rede(s) vir ons bankrotskap? Dit sou maklik wees om FW de Klerk en sy Liegbekministers verantwoordelik te hou, mar ongelukig was dit die Afrikaner se eie skuld.

Daar is ‘n hele paar redes, waarvan net een nie aan onsself toegewys kan word nie, en dan is daar  twee eienskappe, eie aan ons wat ‘n groot rol gespeel het, en ‘n hele paar gebeurtenisse waar ons die verkeerde besluit(e) geneem het.

Die pad tot by likwidasie

Die eerste eienskap, wat soos ‘n paal bo water staan en soos ‘n draad deur ons geskiedenis loop, is ons onvermoë om saam te staan en ons onderlinge twisgierigheid. Vanaf die Voortrekkers tot vandag toe hang daardie swak eienskap soos ‘n meulsteen om die Afrikaner se nek, soos ‘n slegte reuk wat net nie wil weggaan nie. Dit is ‘n verlammende en verdelende eienskap, en dit is ‘n eienskap wat ons tot verleentheid is. As dit voortduur, gaan dit ons vernietig.

Die tweede is ons gebrek aan insig in a) risiko’s teenoor ons status quo, en b) om die veranderlikes wat ons bestaan bedreig, of kan verseker, te identifiseer en sinvol daarop te reageer. Ons raak te gou in ‘n valse gevoel van gemak en selfvoldaanheid vasgevang. Ons begin te gou ontspan en dink alles gaan goed en sal vorentoe ook goed gaan.

Die invloed van hierdie twee eienskappe kan duidelik gesien word in die verkeerde besluite wat die Afrikaner in sy bestaansgeskiedenis geneem het, en sy gebrek aan vroegtydige of enige optrede, toe omstandigehede daarna gevra het.

Ek het die voorreg gehad om hierdie selfde tema in gesprek met Danie Goosen en Koos Malan te bespreek, en die volgende het na vore gekom. Die gebeurtenisse wat aanleiding tot ons proses van bankrotskap gegee het, is soos volg:

  1. In die agttiende eeu het die VOIC, ná die instelling van die heemrade, aan die vryburgers voorgestel dat nog mense in Europa gewerf en na die Kaap gebring word, om die bevolking uit te brei, en die oosgrens te versterk. Die burgers het toe besluit, daar is nie genoeg weiding vir nog beeste nie (dis waar) en die voorstel teengestaan.
  2. Die Voortrekkers kon nie die sin van eenheid en saamstaan insien in die barre gevaarlike nuwe land wat hulle intrek nie. Baie meer kon die trek oorleef het, as hulle saamgestaan het, en dit sou moontlik wees om vroeër een sterk republiek te vestig, eerder as eers die verskillende klein mislukte pogings en later twee susterrepublieke.
  3. As dit nie vir die Vrystaters was wat die Transvalers gaan ompraat het om voort te gaan met die oorlog teen Engeland nie, sou ons daardie tyd al ons land sonder slag of stoot weggegee het. Maar ons het darem eervol uit daardie stryd getree, en dit is hier waar Engeland verantwoordelik was vir die dood van 26 000 vrouens en kinders, wat ons bankrotskap aangehelp het – die enigste eksterne faktor.
  4. Met die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het ons weereens ons swak oordeel gewys toe te veel van ons mense hulle aan die kant van ons eertydse vyand geskaar het. Dit het bitter tweespalt in ons geledere veroorsaak, wat verreikende gevolge deur die geskiedenis sou hê.
  5. Toe genl. JBM Hertzog in die dertigerjare waarsku dat Suid Afrika se grootste uitdaging die aspirasies van die swartmense is, het daar weereens ‘n groot deel van die Afrikaners agter Smuts en sy Jingo’s aangestap. As ons daardie tyd op hierdie grootste van Afrikaners se woorde en insig ag geslaan het, kon ons die probleem al in daardie tyd vodoende aangespreek het. Ons het egter nie die insig gehad om die probleem raak te sien nie.
  6. In die sestigerjare, toe Europa en Amerika se “winde van verandering” oor die Weste met wie ons ons geassosieer het, begin waai, en Harold McMillan op 3 Februarie 1960 in sy toespraak voor die parlement ons eintlik gewaarsku het om saam te verander, het ons nie die insig gehad om te besef ons moet ons posisie in Afrika verskans, en aandag gee aan swart aspirasies nie.
  7. Met John Vorster se verandering in beleid, het die Afrikaner soos slagvee agter die “Party” aangestap, en algaande die weg gebaan vir vandag se gemors. Oor ‘n periode van veertig jaar, kon die meerderheid Afrikaners nie die insig toon om die Nasionale Party te onttroon as die regering nie.
  8. Deur die sewentiger- en tagtigerjare het die meeste Afrikaners die Nasionale Party se politici se leuens en jakkalsdraaie naïef geglo en hulle blindelings gevolg en vertrou. Hulle kon nie sien waarna daardie leiers hulle lei nie.
  9. Toe die geleentheid hom voordoen met die stigting van die KP, kon die HNP en KP saam ‘n beduidende invloed gehad het op die krag van die NP, maar hulle het besluit om die Afrikaner verdeel te hou, elke groep naïef oortuig van sy eie vermoëns en “gawe vir die waarheid”.
  10. Met die referendum in 1992 het die Afrikaner oorweldigend “ja” gestem vir sy eie ondergang, en die deure vir die finale bankrotskapbevel oopgemaak.
  11. Oor die meriete van die Nasionale Party om Suid-Afrika in die moderne tyd in te sleep, op hulle eie agendas en aannames, kan daar lank gedebatteer word, maar die gemors wat hulle gemaak het van die onderhandelings met die ANC sal altyd vir die Afrikaner ‘n verleentheid wees.
  12. Oor die onderhandelings gepraat – daar het die Afrikaner met ‘n gevoel van meerderwaardigheid, nie die realiteit ingesien en vir homself gaan beding nie. Ons het nie die insig gehad om te besef dat dit die plek is waar die finale hofbevel vir likwidasie gemaak sal word nie, en het dus nie met die “regter” gaan onderhandel om iets van ons bates te red nie.

Deur ons stilswye en afwesigheid, het onsself die aansoek vir likwidasie gebring en daar het ons die finale versuim gepleeg as gevolg van ‘n gebrek aan insig.  En ja, dit is waar – deur ons versuim het ons die status van die ANC verhoog tot dié van regter in ons saak.

Die gevolg van bankrotskap

Nadat daardie hamer geval het, het die Afrikaner aan skok gelei, en gaandeweg het die besef tot ons deurgedring wat ons alles verloor het. En soos jy op die plaas rondstap wat jou vyand op jou bankrotveiling gekoop het, stap ons nou nog in “ons” land rond wat nou “hulle” land geword het.

Bankrotskap is nie lekker nie, en dit bied nie pret in enige vorm aan die slagoffer daarvan nie. Die gevolge gaan nog vir geslagte met ons wees, en ons gaan vir etlike dekades die uitwerking voel van al die Afrikaners wat in ander lande gaan bly het, wat nou hulle intellektuele bydrae aan ‘n ander land se mense en ekonomie lewer. Daarby is daar ‘n geslag jongmense wat skaam grootgeword het vir hulle eie mense, twee geslagte kinders wat met sub-standaardonderwys die lewe moet aanvat, en vele van ons mense wat arm en sonder toekomshoop in wit plakkerskampe bly.  Kortom, ons het miskien individueel eiendomsreg op ons huise, erwe of plase behou, maar as volk het ons die totale kaart en transport op ons land verloor.

Die vraag wat na vore kom, is: Het ons die nodige lesse uit die verlede geleer? Gelukkig is daar die gesegde wat sê “Nabetragting is ‘n presiese wetenskap” waar, en kan ons nou by nabaat die bogenoemde waarhede uithaal, al is dit hoe swaar om dit te erken.

Rehabilitasie

Die Afrikaner moet, met sy een taal en sy warboel van waardes en ideologieë, velskoene, Toyota-bakkies en al binne in die een-en-twintigste eeu inklim, en die geleentheid aangryp om die modernste staat in die wêreld tot stand te bring. Min volke kry daardie geleentheid.

Daarom moet ons saamstaan, en baie slim binne die moderne idioom en reëls optree om weer ‘n stuk van ons land op te eis vir die rehabilitasieproses. Dit is ons reg, en ons moenie bang wees nie. Dit gaan yslike groot ghoene van staal vat, maar deur gebruik te maak van moderne metodes en strategieë, kan ons weer ‘n gebied kry en begin bou aan die bates en waarde van die nuwe Afrikaner.  Maar, as ons nie daardie swakpunte wat ons in die eerste plek bankrot gemaak het besef en verander nie, sal ons nie suksesvol wees nie, en weer dieselfde foute maak – soos ‘n gewoonte verkwister. Dan stuur ons maar net op ons volgende bankrotskap af. Solank as wat die Afrikaner in homself verdeeld is, sal hy hom kwesbaar maak om deur ander volke oorheers en vertrap te word.

Maar die tyd van die Gesprek is verby. Ons weet wat ons moet doen; ons moet dit net doen. Individue of groepe sal self moet besluit of hulle deel van die rehabilitasieproses wil wees of nie, en daardie deelname of versuim sal deur die geskiedenis beoordeel word.

болит зуб без нерваФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.