Kom ons veg vir vryheid

Dan Roodt
Deel op

Hoe toegewyd is u aan die saak van Afrikanervryheid? Is u soos Nelson Mandela bereid om tronk toe gaan daarvoor? Sal u soos 4500 Boere en 27 000 vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog sterf daarvoor?

Ná my onlangse besoek aan Israel het ek ‘n brief daaroor aan ‘n vermaarde Afrikaanse akademikus geskryf. In antwoord vertel hy my van wat ‘n vorige Israelse minister, Salman, op 29 April 1960 net ná Sharpeville aan die koerantman Piet Cillié gesê het. Hy het gesê daar is net twee alternatiewe – Afrikanernasionalisme of swart nasionalisme. Daar is geen Suid-Afrikaners nie en die Engelse tel nie. Maar sal Afrikanernasionalisme dit haal? Salman het Cillié “vorsend aangekyk” en gesê: “My volk is ‘n toegewyde volk. Kan u sê dat u volk ook ‘n toegewyde volk is?”

Terwyl ek in Israel heen en weer tussen Tel Aviv en Jerusalem gereis het en oral baie vriendelik en goed ontvang is, het ek onder die indruk gekom dat die Israeli’s vandag steeds ‘n toegewyde volk is wat téén die wêreldmening in hul voorbestaan en soewereiniteit verdedig.

Maar net soos in 1960 moet ons vandag aan onsself vra: “Is die Afrikanervolk vandag ‘n toegewyde volk?” En dan die persoonlike vraag wat elkeen van ons aan hom- of haarself kan stel: “Is ek ‘n toegewyde Afrikaner wat vir vryheid werk of veg?”

In sy brief aan my skryf die Afrikaanse akademikus: “So dikwels kan ’n mens wel vra of dit nie aan toewyding by ons skort nie. Die bittereinders van die Tweede Vryheidsoorlog was so toegewyd, die GRA-mense en van die latere taalstryders en Afrikaner-nasionaliste, en deesdae mense soos jy – maar dikwels is ons net ’n rukkie lank geesdriftig.”

Dis vir my ‘n besondere pluimpie dat hierdie bekende en geliefde navorser, skrywer van tientalle boeke, my in sy brief by die groep van toegewyde Afrikaners inreken. Hoewel ek my geensins vir ‘n groot Afrikaner wil uitgee nie, kan ek tog op grond van iemand anders se deskundige oordeel vandag die vraag aan ander vra: “Is u ‘n toegewyde Afrikaner?” Want sonder toegewyde Afrikaners en mense wat vir vryheid sal opoffer, sal ons nooit weer vry wees nie.

Die Afrikaner het vandag alles om vry te wees: ons het geld, ons het kundigheid, ons is opgelei, ons het organisasievermoë en logistiek, ons besit grond. Al wat by ons ontbreek is die wíl om vry te wees. En natuurlik: die toewyding.

Wat ons te doen staan, is baie helder. Die nuwe Suid-Afrika stort feitlik vanself in duie, vanweë korrupsie, misdaad, instroming oor ons landsgrense, diskriminasie teen blankes en wat nog. Hierdie orde wankel reeds; al wat nodig is, is ‘n goeie stamp vir hom om tot ‘n val te kom.

In die eerste plek moet alle Afrikaners daarvan oortuig word dat die huidige stelsel nie meer legitiem is nie en vervang moet word. Daarvoor kan ons die tegnologie en veral die internet, die Praagwebwerf en Facebook, gebruik. Maar nogtans het ons geld daarvoor nodig.

Soveel kere was ek in die onlangse tyd al by ryk Afrikaners. Suksesvolle mense, met groot en duur motors, ‘n huis in die stad, ‘n huis by die see, dalk ‘n plaas, selfs woonstelle in die buiteland. Die man verdien een miljoen, selfs twee miljoen rand per maand. Maar as jy hom vir R1000 per maand vir ons stryd vra, dan moet hy eers bietjie gaan nadink. Dan vra jy hom vir R500 of nog minder. Maar selfs R50 per maand is vir hom te veel, want hy is tevrede om onder ‘n vreemde regering bloot geld te maak en die feit dat honderde duisende van sy volksgenote nie so gelukkig is nie en onder die ANC krepeer, skeel hom min.

So ‘n man is wel toegewyd aan homself, moontlik aan sy gesin, maar hy is geen toegewyde Afrikaner nie.

Ek wil u nou vra om saam met my te begin veg vir vryheid. Nooit sal ek aanvaar dat ons vir altyd onder ‘n vreemde regering moet dien en nie onsself kan regeer nie. Dis ‘n basiese mensereg, iets wat die meeste volke op aarde as ‘n gegewe beskou. Maar daardie fundamentele vryheid word van ons weerhou.

Word saam met my ‘n toegewyde Afrikaner. U kan baie doen, u kan min doen, maar doen iets! U kan R100 000 per maand bydra of u kan R10 bydra. Maar dra iets by! Moenie net ‘n passasier wees nie. Moenie net op die kantlyn staan en kyk hoe ons toegewyde Afrikaners dag vir dag ons almal se vryheid probeer herwin nie.

Daar is ‘n ou spreuk wat lui: ons veg een vir een, maar ons word sáám oorwin. Dis nie nodig dat alle Afrikaners of selfs die meerderheid vryheid nastreef nie. Maar ‘n beduidende groep sal wel toegewyd aan die saak van vryheid moet raak.

Is u een van hulle?

Raak betrokke!

Klik hier om by Praag aan te sluit.

free slots no download no registration with bonusтопкарго развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.