Die Vryheidsideaal van die Afrikaner lê nie in ‘n Teokratiese Model nie

Deel op

Dit lê in inklusiewe diversiteit, en dit is met groot kommer dat ek die besluite van die Volksvergadering lees soos uitgelig deur Antón Barnard. As die denkrigting in sekere Afrikanergroepe in die rigting van ‘n teokrasie lê, en in die opsig ten doel het om eksklusief te wees teenoor ander vryheidsstrewende Afrikaners, is die vryheidsideaal grotendeels verby, en sal ons in der ewigheid nooit Afrikaner eenheid en/of vryheid kan bereik nie. Dieselfde argument is ook van toepassing waar een groep vryheid nastreef sonder om voorsiening te maak vir die diep godsdienstige volksgenote aan die ander kant van die spektrum.

Om die hele idee van Vryheid en “’n onafhanklike lewe binne ons eie kultuur” se toekoms op ‘n staatsvorm van teokrasie te skoei, is om nou al voorsiening te maak dat geen land of regering in die wêreld die Afrikaner se vryheidsstrewe en ‘n moontlike onafhanklike volkstaat gaan ernstig opneem nie, en dus sal daar nooit enige erkenning van daardie staat wees nie. Gevolglik sal ons slawe bly.

Onderstueners van die teokratiese staatsmodel is eintlik niks anders as fundamentalisme nie, en dit bring skrikwekkende beelde na vore van die tipiese Moslemstaat, die Europa van ouds soos regeer deur die Pous uit Rome, of dan verder terug, Egipte, waar die priesterorde agter die skerms regeer het, en selfs pharao’s laat vermoor het indien hulle ‘n bedreiging sou blyk vir die “mag van die geloof”. Die teokrasie veronderstel dat die hoofde van die staat, direk met God (‘n god) kommunikeer, en in alle besluite direk dan Sy “mening” of “besluit” kan ontvang en implementeer, soos die Rooms Katolieke kerk glo die Pous kan doen, of soos die egiptiese priesters geglo het hulle kry direk opdragte van hulle afgode. Elke regdenkende mens of christen weet dat dit nie bestaan nie, en dat die “besluite” maar net deur mense geneem word wat glo hulle is die enigste wat God se woord kan interpreteer.

Ek hoop, soos Anton, dat die mense by die Volksvergadering nie mooi die term “teokrasie” verstaan het nie, want dit is maklik om die begrippe staatsgodsdiens en godsdiensstaat te verwar. Die verskille tussen die twee is vanselfsprekend, maar selfs, as die gedagte ‘n staatsgodsdiens is, wat afdwingbaar is op burgers, of ‘n voorvereiste is vir burgerskap van daardie staat, is dit nog steeds, saam met die hele konsep van ‘n godsdiensstaat (teokrasie) ‘n skrikwekkende gedagte.

Die Afrikaners is wêreldwyd bekend vir hulle interne wederstrewigheid, dwarstrekkery en groepvorming. Hierdie karaktereienskap van die Afrikaner is die onderwerp van die volgende welbekende grappie: Wat gebeur as twee Amerikaners op ‘n verlate eiland uitspoel? Elkeen stig sy eie maatskappy en hulle maak geld uit mekaar. Wat gebeur as twee Engelsmanne uitspoel? Hulle stig ‘n klub, speel teen mekaar krieket en drink elke aand saam. Wat gebeur as twee Afrikane uitspoel? Een verklaar homself president, en die ander word ‘n terroris in die bosse wat die mag probeer oorneem. Wat gebeur as twee Afrikaners uitspoel? Elkeen stig sy eie party, en elkeen stig sy eie kerk. (En hulle praat net met mekaar as hulle stry en aan mekaar uitwys hoe hulle van mekaar verskil.)

Daar is met ander woorde ‘n diepgewortelde kinderagtige streek in die Afrikaner waarvan ons moet ontslae raak, en wat ons deur die geskiedenis van ons volk duur te staan gekom het. Die gesegde: “Verdeel en heers”, hoef nie deur ‘n opponent op ons toegepas te word nie, want ons doen dit self uitmuntend. Deur ons verdeeldheid, laat ons ons oorheers. Enige groep met ‘n bietjie mag kan ons oorheers, en dit is hoekom ons na honderd en vyftig jaar nog steeds nie ons eie vrye Afrikanerrepubliek het nie.

In hierdie opsig word ons in die skande gesteek deur die ANC, en die vryheidsbewussyn en strewe van die swartmense van Afrika. In die ontstaan van die Afrika vryheidsstrewe, het Pixley Ka Seme, ‘n swart advokaat wat op Oxford en Columbia Universiteite gestudeer het, besef dat nie net sy eie Zoeloe volk onder wit oorheersing ly nie, maar so ook al die swart etniese volke in Suid Afrika. Nadat hy van oorsee af teruggekom het, het hy besef dat die enigste metode om vryheid vir swartmense te bewerkstellig is om al die verskillende swart volke saam te snoer in eenheid. Op 8 Januarie 1912, het hy al die stamhoofde en prominente geleerde swartmense in Bloemfontein bymekaar gekry, en hulle oor sy visie van ‘n unie van swart volke, met die doel om hulle kollektiewe vryheid en regte te bewerkstellig. Al die hoofde het saamgestem om ‘n verenigde organisasie te skep en het op daardie stadium die “South African Native National Congress” gestig, wat die voorloper van die ANC was. Daardie verenigde front het hulle geskiedkundige verskille en etniese diversiteit in ordergeskikte rol, tweede geplaas teenoor hulle strewe na vryheid. ‘n Unie wat nou al agt en negentig jaar in stand gehou word.

Dit is tyd dat ons as Afrikaners wasdom bereik en grootword, en besef dat die begrip “Vryheid” baie groter is as enige individu of klein groepie binne die volk. Dit plaas ‘n yslike verantwoordelikheid op ons om alle Afrikaners sinvol te kan akkomodeer, en te bestuur tot voordeel en welvaart van almal wat hulleself met Afrikanerskap of die Afrikanervolk vereenselwig. Die oplossing waarna ons moet streef is inklusiewe diversiteit.

Eerstens moet ons besef dat Vryheid die grootste ideal is en ten koste van alle verskille nagestreef moet word. Tweedens moet ons aanvaar dat ons nie almal dieselfde dink nie. Derdens moet ons besef dat daar mag in eenheid is. Vierdens moet ons ooreenkom dat daar binne die doelwit Vryheidsstaat, plek moet wees vir al ons ideologieë en godsdienssieninge.

Daar is ‘n groot gevaar as almal dieselfde dink, en niemand ooit die status quo of heersende denke binne ‘n groep bevraagteken nie. Dit lei tot stagnante denke en dit verhoed vooruitgang en ontwikkeling. Maar sodanige toestand waar ons in eenheid met mekaar verskil, kan net bewerkstellig word as Vryheid (en vrede) die hoofdoel van almal bly.

Ek wil my verstout om te sê, dat die verkillende groepe wat by die Volkvergadering bymekaar was, fundamenteel verskil oor geloof, die Bybel, en wat Christenskap eintlik behels. Sou hulle daarin kon slaag om hulle teokratiese staat te bewerkstellig, sal dit nie nie lank neem voordat die hare waai soos hulle mekaar probeer oortuig van elkeen se standpunt nie, en voordat die hele breekbare samewerking uitmekaarspat. Tensy hulle die verskille ondergeskik aan die hoofdoel kan stel.

Die geheim lê in verdraagsaamheid – iets wat blykbaar net nie in die Afrikaner psige bestaan nie. As ek so aan die geskiedenis, en huidige stand van sake van die Afrikaner dink, kom die ou gediggie van Jan Cilliers by my op:

Daar trek ‘n koeël met spoed, met spoed,

Hy’s nat met Afrikanerbloed,

En smart die boodskap wat hy voer

Hy kom uit Afrikanerroer,

Want altyd veg ons broer teen broer. (My eie byvoegsel)

Ons probleem is dat ons nie meer ‘n Vryheidsimbool het nie. Vryheid is net ‘n strewe wat los en vas deur elke Afrikanergroep gevisualiseer en gedefinieer word sonder daardie belangrike gedeelde simboliek wat volkere al vir duisende jare saamvoeg. So ‘n simbool lê in ons vlag – die Oranje Blanje Blou. ‘n Vlag het nog altyd enige volk of nasie se gedeelde strewes verteenwoordig. Die ontstaan van ons vlag lê in die prins van Oranje en sy volgelinge se vryheidsstrewe. Die Amerikaners se hele nasietrots en doelwitte is gesetel in die “Star Spangled Banner”. Die Franse se hele republikeinse strewe lê in hulle Tricolor.

Ons het onder die Engelse invloed, ‘n losse verhouding met ons vlag gekweek, en met die verlies van ons kortstondige vryheid, het ons die simboliese waarde van ons vlag verloor. Dit is tyd dat ons daardie vlag uithaal, afstof, en dit die simbool van ons gedeelde Vryheidsstrewe maak. Vergun my om die woorde van die bekende gedig van Eitemal hier aan te haal. Dit kan hopelik weer almal ‘n oomblik laat stilstaan om te besin.

Die Hoogland is ons woning,

die land van son en veld,

waar woeste vryheidswinde waai

oor graf van meenge held.

Die ruimtes het ons siel gevoed,

ons kan g’n slawe wees,

want vryer as die arendsvlug,

die vlugte van ons gees.

 

Dis die tyd, dis die dag,

om te handhaaf en te bou.

Hoog die hart, hoog die vlag,

hoog Oranje-blanje-blou!

Ons gaan saam die donker toekoms in

om as een te sneuwel of oorwin,

met ons oog gerig op jou,

ons Oranje-blanje-blou!

 

En ja, in inklusiewe diversiteit is daar ook plek vir die Vierkleur en Vrystaatse Vryheidsvlag!

casino gamedДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.