Fidel

Deel op

Image

Sado-seksuele allure?

Fidel Castro is skynbaar op sy laaste bene en in sekere dele van die Westerse wêreld sal sy laaste asem verwelkom word.  Castro het die dood wat dikwels aan hom gestuur is met groete van die CIA reeds meer as een keer vrygespring. Dit is ironies dat ’n man wat deur die magstigste land ter wêreld geteiken is blykbaar aan natuurlike oorsake op ’n rype ouderdom gaan sterf.

Deel op

Castro se gesondheidsprobleme en verwagte afsterwe het reeds ’n taamlike indruk in die Amerikaanse pers gemaak en op afwagtende Kubaanse uitgewekenes in Miami, asook komediante wat grappe oor sy kunsmatige anus maak. Treurende linksgesindes het reeds begin om die man se lewe te ontleed.

Al die opwinding oor Castro is natuurlik buite verhouding met sy belangrikheid as ’n figuur in die twintigste eeu.  Castro het weliswaar ’n sekere mindere rol in die dekoloniseringsproses in Afrika en Suid-Amerika gespeel, maar hy is in der waarheid histories minder belangrik as Pinochet of Lenin, of Ghandi, of selfs Ho Chi Minh.

Image

Buks van Rensburg

Waarom is daar dan ’n obsessie met Castro, wat mens nugter as ’n mislukte leier van ’n onbenullige land kan beskou?  Daar bestaan ’n paar redelike verduidelikings vir die obsessie wat mens in die ideologiese en sosiale stelsels van veral Suid-Amerikaanse lande kan vind.  Maar miskien vertel die obsessie ons meer oor die Weste as wat dit enigsins iets oor Castro of sy nalatenskap sê. 

Kommuniste en sosialiste (selfs die demokratiese soort) in die Weste wat Pinochet en Franco en Mussolini en ander fasciste verafsku, het skynbaar ’n blinde kol vir Castro se fascistiese neigings. In ’n ander wêreld sou Castro baie maklik in die lysie hierbo pas.  Net soos hulle, is hy ’n geweldenaar, is hy lief vir militêre drag en het hy sy samelewing vermilitariseer en sy jong mense op militêre avonture gestuur wat nie direk in Kubaanse belang was nie.

Verder is rassesegregasie vandag op Castro se eiland opvallend – Kubaanse leiers is altyd wit, en wit Kubane is beter opgevoed en opgelei terwyl swart Kubane materieel minder daaraan toe is. Castro het glo selfs probeer om van sy rasseprobleem ontslae te raak deur swart Kubane aan te moedig om in Angola te gaan veg. 

Castro se neiging om politieke teenstand met militêre geweld te beantwoord en te onderdruk, asook sy genadelose optredes teen politieke andersdenkendes, is soortgelyk aan die metodes van fasciste soos Franco, Mussolini of Pinochet.  Politieke opponente van Castro het net twee opsies gehad – vlug Miami toe, of word aangehou en gemartel.  Met geluk sal jy die jare in die tronk oorleef.  In dié opsig is die twintigste eeu se twee ekstreme politieke filosofieë (kommunisme en fascisme) soortgelyk, indien nie in oortuiging nie, dan wel in metode.  Kommuniste soos Castro het net so effektief soos die fasciste (Franco en Pinochet) vermoor, onderdruk en gesensor.

Fidel Castro is in 1926 gebore, die buite-egtelike kind van ’n arm immigrant in Kuba wat homself ryk gewerk het in suikerplantasies. Hy studeer in die regte aan die Universiteit van Havana in 1945, waar hy polities aktief word. Later sluit hy by die Partido Ortodoxo aan, ’n sosialistiese party wat die doel het om die ryk Kubaanse elite se houvas op Kuba te breek. Hy reis na Colombia in 1948 waar hy aan studente-onluste deelneem. 

Terug in Kuba werk hy as ’n prokureur, maar ’n staatsgreep deur Batista noop hom om sy praktyk te sluit en om saam met Raúl Castro, sy broer, ’n beweging te stig met die doel om die Batista-regering omver te werp.  Hulle versamel wapens en probeer om die militêre Moncada Barracks aan te val.  Die aanval is ’n fiasko, en Castro en Raúl kom net-net met hul lewens daarvan af.   Hierna trek hulle terug na die Sierra Maestra, ’n bergagtige deel van Kuba oos van stad Santiago.  Later word hulle hier vasgetrek en merkwaardig vir daardie tyd, word hulle nie tereggestel vir hoogverraad nie.  Fidel word wel 15 jaar tronk toe gestuur vir sy aandeel in die aanval.  Gedurende sy verhoor gee Castro sy welbekende lesing “Die geskiedenis sal my vergewe” (in Engels vertaal as: “History Will Absolve Me”).

In die tronk gaan hy voort met planne om die Batista-regering omver te werp en in 1955 word hy vrygelaat, ná hy minder as twee jaar van sy vonnis uitgedien het.  Hy vertrek Meksiko toe waar hy saam met ander Kubaanse uitgewekenes die sogenaamde Beweging van 26 Julie (26th of July Movement) stig met die doel om deur guerilla-oorlog die Batista-regering te ondermyn.  Hier ontmoet Castro vir Erneste “Ché” Guavara, wat later deur Westerse jongmense vereer sou word as dié “sjiek” radikaal.  Die waarheid oor Ché is egter anders: hy was ietwat oorgewig, asook baie wreed en lafhartig.  Ché sou later deur Fidel na Bolivië toe gestuur word met die doel om die regering daar omver te werp.  Hier is hy gevang en die Boliviaanse polisie het hom summier tereggestel, maar nie voor hulle hom verneder en vir sy lewe laat pleit het nie – Ché, wat sy slagoffers so maklik tereggestel het, was self glo baie bang vir die dood.

Teen 1959 is Castro terug in Kuba. Dié keer is die revolusie suksesvol en hy word die Maksimum Leier van die nuwe Revolutionêre Staat.  Hy begin onmiddelik ’n Kommunistiese regeringstelsel in Kuba in te stel.  Onteiening van privaat eiendom en grond vind plaas en noue bande word met die Sowjetunie gesmee.  Die Sowjetunie stuur adviseurs in 1960 en die destydse Amerikaanse president (Eisenhower) stel sanksies teen die land in.  Meer as veertig jaar later duur die sanksies voort en bly Kuba ekonomies ’n agterlike en tegnologies gestremde land. 

Intussen het verskeie planne deur die CIA om Castro te vermoor skipbreuk gelei.  Daar is bewerings van ontploffende sigare, pogings om hom te vergiftig en dergelike ander truuks, maar Castro is skynbaar onuitwisbaar.  ’n Plan om Kuba in te val (die Bay of Pigs-aanval tydens die Kennedy-administrasie), misluk ook.   ’n Belangrike gebeurtenis gedurende die Koue Oorlog is die sogenaamde  Kubaanse missielkrisis in 1966, toe Castro aan die Sowjetunie magtiging verleen het om kernmissiele op die eiland te ontplooi.  Die Amerikaanse reaksie was ’n seeblokkade rondom Kuba.  Die krisis veroorsaak byna ’n kernoorlog tussen die Sowjetunie en die VSA.

Intussen vlug duisende van Kuba se (meestal wit) opgeleide bevolking van die eiland, dikwels op vlotte, en vestig hulle in Miami om die “Exile Cuban Community” te vorm.  Dit word later ’n effektiewe drukgroep in Florida, een van die VSA se belangrikste state.  Die groep het vandag steeds ’n beduidende invloed op Amerikaanse beleid jeens Kuba.  Ná meer as veertig jaar hoop baie steeds om na die eiland terug te keer en om hulle verlore besittings terug te kry.

Kuba is vandag meer bekend in Suid-Afrika weens die Angolese oorlog, asook vir die swak opgeleide dokters wat die eiland uitvoer.  Castro se regering het ook dele van die eiland se beste strande opsy gesit vir die ontwikkeling van oorde vir vakansiegangers van Noord-Amerika (veral vanuit Kanada).  Gewone Kubane word die oorde verbied. Die eiland is egter steeds ’n verdrukkende kommunistiese staat, arm en agterlik. Duisende mense is tereggestel onder Castro se regering, dikwels ná onvoldoende verhore en baie meer is tronkstraf opgelê in die transformasie van die eiland tot ’n kommunistiese staat.  Castro se broer Raúl, wat as weermagshoof aangestel is, is bekend vir sy persoonlike wreedheid gedurende die guerilla-veldtog.  Een kommentator som dit soos volg op: “Along with Ché Guevara, Raúl’s notoriety in the Sierra Maestra would also grow for dispensing swift and severe revolutionary retribution via firing squads for those suspected of collaborating with Batista security forces or accused of treason.” http://www.haciendapub.com/castro22.html

Een van die groot ironieë van die twintigste eeu is sekerlik die bewondering wat sommige Westerse leiers vir Castro openbaar het.  Pierre Trudeau, voorheen eerste minister van Kanada, was sy persoonlike vriend (Castro was ’n kisdraer op Trudeau se begrafnis).  Hooggeplaaste Europese leiersfigure, Hollywood-akteurs, en ander linksgesindes in die Weste het oor die laaste veertig jaar hulle ondersteuning en bewondering vir Castro uitgespreek.  Hy is, soos een keer opgemerk is, Hollywood se “gunstelingtiran”. 

Castro se verpersoonliking in die Weste as ’n Latynse machismo oefen ’n sado-seksuele aantrekkingskrag in sekere Westerse kringe uit, veral op linksgesinde vroue. Die verleidelikheid van ’n geweldenaar in uniform wat verkrag en moor wakker ’n bewondering aan en ’n lus vir verbode avonture in ’n Westerse bevolking wat elke drang reeds bevredig het. Mens moet nooit die seksuele ondertone van die verbeeldingsvlugte van sandaaldraende linkse Westerse tannies onderskat nie – dit is uiters herkenbaar.  Soortgelyke verhoudings is nou skynbaar gewoon in die nuwe Suid-Afrika.  Voorheen konserwatiewe tantes wat met die revolusionêre ander kant ’n gemene deler vind.  Mans wat revolusie bring of wat moor en geweld pleeg, het skynbaar steeds ’n seksuele aantrekkingskrag vir vroue wat hulleself voorgee as verlig en anti-geweld en wat iewers links op die politieke kontinuum leef.

Image

Kevin Costner

Die lys van Castro se bewonderaars in die Weste en in die VSA, is inderdaad lank.  Die lys bevat onder andere Jesse Jackson, Steven Spielberg (wat ’n ete met Castro as die agt belangrikste ure van sy lewe beskryf), Naomi Campbell (wat die seksuele revolusionêre sjiek van Castro skynbaar onweerstaanbaar vind), Oliver Stone (wat Castro een van die wêreld se mees wyse leiers noem) en verder Robert Redford, Spike Lee, Sidney Pollack, Woody Harrelson, Danny Glover, Ed Asner, Shirley MacLaine (nog ’n linkse Westerse tannie wat van vuil revolusionêre moordenaars hou), Alanis Morissette, Leonardo DiCaprio en Kevin Costner. Laasgenoemde is soos volg aangehaal na sy ontmoeting met Castro: “Dit was die ervaring van ’n leeftyd om net enkele voet van hom af verwyder te sit en te sien hoe hy ’n ervaring herleef wat hy as jong man beleef het.” (Hoe sê, Kevin? In die kammawêreld waarin jy leef het jy seker nog nooit iets egs as ’n jong man ervaar nie.)

Hierdie lys, wat toegegee meestal bestaan uit akteurs en ander invloedryke leë koppe, is nietemin ook een wat bestaan uit selfverklaarde demokrate wat in dieselfde asem die doodstraf veroordeel, vryheid van spraak ondersteun en Castro voorhou as die bevryder van sy mense en ’n groot humanitêre figuur.  Daar bestaan ’n kognitiewe dissonansie by linkse ideoloë wat normaalweg byna onverstaanbaar is en wat nuwe inhoud aan Lenin se begrip van die “nuttige idioot” gee. 

Nelson Mandela het met sy vrylating buite Pollsmoor-tronk na Fidel Castro as “’n groot vriend” verwys en sy ontmoetings met die Castro kan op Youtube aanskou word. 

http://www.youtube.com/watch?v=-R7hw4rsUl8

Wat sê dit oor Nelson Mandela of oor Oliver Stone of Steven Spielberg? Wat sê dit oor Pierre Trudeau, of oor Helgeer Langeland (die Noorweër wat Castro in 2001 vir ’n Nobelvredesprys genomineer het)? 

Die bewondering vir Castro in sekere Westerse kringe sê nie veel oor Castro self nie. Castro se persoonlike geskiedenis is bekend, sy wreedheid is bekend; in baie gevalle is daar oor sy slagoffers geskryf. Hy is, om dit kort te stel, ’n boelie wat verdink word van die moorde op mede-studente aan die Universiteit in Havana 60 jaar gelede en wat vandag ’n staat regeer wat oor die laaste 45 jaar duisende tereggestel het (ongeveer 550 net in die eerste ses maande ná die revolusie). Baie meer is toegesluit en word steeds aangehou (Castro het die feit al in die openbaar erken).  Hy is verder verantwoordelik vir die verdrukkende klimaat in Kuba.  Dit is alles goed gedokumenteer.  Daar is inderdaad al aantygings gemaak dat genoeg in Kuba onder Castro gebeur het om ten minste ’n ondersoek na “misdade teen die mensdom” te gelas. http://en.wikipedia.org/wiki/Human_rights_in_Cuba

Die rede vir Castro se bewonderenswaardige beeld by sekere Westerse figure kan dus nie by Castro gesoek word nie, maar kan net vasgestel word deur diegene wat hom admireer te ondersoek.

Waarom het Castro ’n skadu oor die tweede helfte van die twingigste eeu gegooi?  Was dit sy militêre avonture in Afrika waar duisende van sy soldate gesneuwel het of was dit sy rol in the Kubaanse missielkrisis? Is dit die Amerikaanse beheptheid met hom en hulle pogings om van hom ontslae te raak?  Of was dit sy verpersoonliking as radikale leier?  Of was dit omdat soveel joernaliste en invloedryke figure in Hollywood hom bevoordeel en bevorder het?  Waarom word Castro se toesprake en bedrywighede met ywer in die Westerse pers opgedis?  En hoekom is daar vandag afwagting in die Westerse pers vir sy ondergang, asof hy die leier van ’n beduidende land is?

Daar was blykbaar altyd ondersteuners van Castro onder Westerse joernaliste en hulle het dit as ’n persoonlike taak gesien om vir hom die woord te doen.  Die vrye beriggewing en kolomspasie in invloedryke Westerse koerante (The New York Times en ander) het hom beroemd gemaak en Castro, wat bekend is vir sy urelange vervelige en dreunende toesprake, het op sy beurt die Westers pers briljant vir sy eiesoortige propaganda gebruik.  Sy foute en wreedheid is ook deur die Westerse media oorgesien.  Dit is ironies dat Castro bevoordeel is presies deur dít wat hy in Kuba sou verafsku het – ’n vrye pers en vryheid van spraak.  

Nelson Mandela se heldeverering vir Fidel Castro is baie bekend.  Mandela, wat hoog opgee oor vryheid (ten minste in al sy toesprake) praat van Castro as “sy goeie vriend”, as ’n “groot man” wat baie gedoen het vir bevryding en vir sy mense en as ’n revolusionêre figuur wat vryheid na Kuba gebring het.  Dié heldeverering sê natuurlik baie meer oor Mandela as wat dit iets oor Castro te kenne gee, net soos wat dit baie meer vertel oor Hollywood se “bruikbare idiote”.

Castro se komende dood sal verandering in Kuba bring.  Miskien sal die eiland nog vir ’n klompie jare aanstrompel onder Raúl, maar een of ander tyd sal die regime ondergaan. Daarna, en dit is die grootste ironie in die hele verhaal, sal Kuba word wat Castro nie wou hê dit moes word nie – ’n speelplek vir ryk Amerikaners en die eiendom van die invloedryke en ryk Kubaanse uitgewekenes in Miami.

печи для домаДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.