Taalregte en groepregte

Deel op

Tydens die GRA-herdenking is verskeie uiteenlopende menings oor Afrikaans gelig. Die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen, meen die stand van Afrikaans is baie goed, terwyl nog ‘n akademikus, prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, meen die debat het teen Afrikaans gedraai, en spesifiek ten opsigte van Maties.

Kan al twee reg wees?

Die oud-politikus, ds. Cassie Aucamp, het terwyl hy in die parlement was gereeld daarop gewys dat die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe meer regte as net taal-, godsdiens- en kultuurregte impliseer. Argumente dat dié kommissie dan met Pansat, wat na taalregte kyk, sou oorvleuel is dus nie heeltemal reg nie.

Regeringswoordvoerders maak egter gereeld uitsprake wat daarop dui dat hul vertolking daarop neerkom dat hierdie gemeenskappe as sodanig net taal-, godsdiens-, en kultuurregte kan geniet.

Maar is groepregte werklik so beperk?

Ter wille van politieke korrektheid word die term minderheidsregte ingespan. Minderheidsregte het volkeregtelik baie wye neerslag, ook staatkundig. Maar eerstens is dit nodig om te kyk na hoe minderheidsregte in die Suid-Afrikaanse grondwet ondervang word.

Ter aanvang, maak die opstellers van die grondwet en onderhandelaars soos Roelf Meyer dit duidelik dat geoordeel is kollektiewe regte sou ten beste ondervang word deur te fokus op individuele regte. Dit is duidelik dat sensitiwiteit oor apartheid ruim daartoe bygedra het daartoe dat die fokus eerder op die regte van die individu val, as op die groep waarbinne die individu sy individuele regte kan opeis en uitdruk. Dit is fundamenteel ‘n liberale benadering, in teenstelling met bv die Christelike Volkseie en Christen-demokrasie, soos byvoorbeeld deur die Duitse Christen-Demokratiese Unie onderskryf word.

Die onderskeid word miskien ten beste weerspieël in die benaming van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, teenoor die naam van die Afrikakommissie vir Mense- en Volksregte, soms ook die Kommissie vir Mense- en Groepregte genoem. Ook die statuut of handves van die Afrikakommissie maak ruim voorsiening vir groepregte naas individuele regte.

Artikel 235 van die Grondwet maak wel vir selfbeskikking voorsiening van groepe wat op grond van taal of kultuur ‘n kollektief vorm. Dié artikel maak nie vir volkome staatkundige afskeiding voorsiening nie, hoewel die Volkereg onder sekere omstandighede daarvoor voorsiening maak, en ook onlangs in die Kosovo-saak deur die Internasionale Geregshof bevestig is. Ingevolge die Europese Unie se handves het volke soos die Baske en Kataloniërs selfbeskikking gekry.

Om na ‘n alledaagse voorbeeld te verwys, dui hoe ineengestrengel taalregte en die regte van taalgemeenskappe kan wees. Is die reg om tot op tersiêre vlak onderrig in Afrikaans te ontvang, ‘n blote taalreg, of die reg van die Afrikaanse gemeenskap? Die verskil raak egter meer duidelik as die Afrikaanse gemeenskap die reg sou verwerf dat hulle deur ‘n statutêre liggaam self die beheer en bestuur van Afrikaanse skole kon opneem, en dat daardie deel wat Afrikaanssprekendes deur belasting vir onderwys opdok, spesifiek aangewend word vir die skole en universiteite onder dié Afrikaanse statutêre liggaam se beheer.

Hierdeur word beweeg in die rigting van korporatiewe selfbeskikking of selfs federalisme, wat van die meer bekende geografiese voorbeelde verskil. Die Maori-kongres, of parlement, is moontlik die bekendste voorbeeld.

Om te verwys na hoe goed dit met Afrikaans gaan in terme van boeke wat die lug sien, kultuurkonserte en so meer, sonder om te kyk na die statutêre begronding waarin die regte, insluitend taalregte uitgedruk word, is volstruispolitiek.

Die kort antwoord is dalk dat Afrikaans wel presteer, ongeag, nie danksy die statutêre omgewing nie.

decorationsФильчаков Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.