Die struggle- en Boere-mistiek

Deel op

Daar is, wat Afrikaners betref, twee belangrike stukke mistiek wat tans in Suid-Afrika rondsweef.

Een hiervan is die ANC se Marxistiese struggle-mistiek. Volgens hierdie legende is die struggle ‘n heroïese stryd waartydens goed teen die bose geseëvier het. Die opponent, apartheid (wat in werklikheid kodespraak vir witmense en nog meer spesifiek, die Afrikaner is) was en is onkorrigeerbaar boos. Die swart helde, die kaders wat aan die struggle deelgeneem het, en veral die exiles, is daarenteen amper Messiasse, wat tot geen kwaad in staat is nie.

Bostaande mistiek, naamlik dié van die ewig-onkreukbare struggle-held, het mens duidelik gesien met die siek spektakel van Tony Yengeni wat op die skouers van sy kamerade tronk toe gedra is, nádat hy aan korrupsie skuldig bevind is. As teenwig vir die soldate van die struggle wat bo alle blaam verhewe is, is alles wat tydens die vorige, blanke bewind daargestel is, boos. Maak nie saak dat Bantoe-onderwys duidelik beter was as die huidige, mislukte onderwysstelsel nie; dit is noodwendig van die bose omdat dit onder ‘n blanke regering plaasgevind het. Diegene wat hulself teen hierdie mistiek verset, weer eens kodespraak vir blankes, moet getransformeer word sodat hulle ook die struggle-mistiek hul eie maak, en ook die Xhosa-godjie, Mandela, as ‘n heilige beskou.

Aan die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum vind mens die Boere-mistiek. Baie soos die ANC se Struggle-mistiek, het die Boere-mistiek ‘n element van waarheid daarin, maar is dit, baie soos die ANC se struggle-mistiek, heeltemal te simplisties, word dit uit verband toegepas en is dit helaas ook uitgedien.

Daar is verskeie elemente aan die Boere-mistiek, waarvan een van die belangrikstes die Gelofte by Bloedrivier was. Laasgenoemde word allerweë beskou as ‘n sekere aanduiding daarvan dat God steeds vandag aan die Boere se kant is. Om egter 1838 se Gelofte na die huidige politieke situasie van Afrikaners te probeer ekstrapoleer, is kennelik ‘n voortbouery wat nie heeltemal inpas by wat eintlik op 16 (of moontlik 7 of 9) Desember 1838 gebeur het nie. Die Gelofte was naamlik bloot ‘n belofte aan God dat die Voortrekkers se nageslagte dié dag sou herdenk, as God hulle die oorwinning  oor die Zoeloes sou gee op daardie spesifieke dag in Desember 1838. Die bewoording van die Gelofte self het dan ook geen melding gemaak van ‘n permanente oorwinning wat God die Voortrekkers se nageslagte oor hul opponente ook in die toekoms sou gee nie; dit het slegs oor daardie dag se veldslag gegaan.

‘n Verdere komponent van hierdie mistiek handel oor die Anglo-Boereoorlog. Maak nie saak dat daar nie streng-gesproke destyds slegs een Boerevolk was nie, maar eintlik ‘n paar verskillende Boererepublieke wat aan die ABO deelgeneem het nie. Maak nie saak dat die Vrystaters aanvanklik nie baie entoesiasties oor die oorlog was nie. Dit maak eweneens nie ‘n verskil aan hierdie mistiek dat daar heelwat Kaapse Afrikaners nie aan die ABO deelgeneem het nie, en dat daar sedertdien ‘n oor-en-weer getrekkery tussen die noorde en die Weskaap was nie. Maak nie saak dat die ou Boererepublieke ontbind is en ingesluk deur die Unie van Suid-Afrika van 1910 nie.

En, die mees fatale een vir hierdie spesifieke komponent van die Boere-mistiek: Maak nie saak dat die Boere die oorlog verloor het nie, en dat hulle inderdaad nooit op die lange duur ‘n kans gestaan het teen destyds die magtigste ryk op aarde nie.  Die mistiek bly steeds voortleef. Ek sou dit beter kon begryp as die Boere nie uiteindelik verslaan is nie, maar weer eens: hulle het die oorlog uiteindelik verloor, mense! Kan dit ‘n soort Götterdämmerung-versugting wees, hierdie? “Ons wéét ons gaan verloor teen ‘n swart oormag, maar ons gaan minstens op glorieryke wyse verloor.”

In terme van hierdie mistiek, is daar steeds ‘n Boerevolk. G’n mens weet egter of iemand wie se oer-oupa in die ABO geveg het, maar sy oer-ouma ‘n Kapenaar was, steeds ‘n Boer is nie. Niemand kan met sekerheid sê of ‘n linkse Afrikaner soos Max du Preez, ‘n boorling van die Vrystaat, wel ‘n Boer sou wees nie, en ‘n vêrregse Kaapse Afrikaner nie een is nie, want volgens sommige definisies kan Vrystaters wel Boere wees, maar Kapenaars nie.

Die antwoord van die dissipels van hierdie mistiek sou natuurlik wees dat die verskil tussen ‘n Boer en die res van die Afrikaners gaan oor ‘n bepaalde soort verwantskap met God. As ‘n blanke Afrikaner sy volk as God se uitverkorenes beskou, in die nasionalistiese sin van die woord, sou hy volgens sommiges ‘n Boer wees. Weer eens word die aanvanklike, eenvoudige betekenis van die Gelofte vir die doeleindes hiervan dikwels verdraai, en word Boere (wie hulle ook al sou wees) gesien as lede van die Geloftevolk. Die eenvoudige Gelofte by Bloedrivier word dus aangepas en verdraai om die stigting van ‘n nuwe volk op daardie dag in 1838 te verteenwoordig. Gaan lees egter gerus weer die teks van die Gelofte, want dis nie wat daar gesê is nie.

En dan, natuurlik, om die Boere-mistiek tot sy logiese uiteinde te voer, volg dit die antwoord op die benarde politieke situasie waarin Afrikaners hulself bevind, is vir Afrikaners (askies, Boere) om onsself bloot te verootmoedig, en terug te keer na ons verbond met God, of dan ‘n nuwe Gelofte met God te sluit. Eenvoudig, nè? Dikwels word Ou-Testamentiese Bybelverse soos 2 Kronieke 7:14 in hierdie verband aangehaal, met die implikasie dat Boere God se uitverkorenes sou wees, en die ander volke – die swartes – per implikasie nié.

Die groot probleem met hierdie simplistiese siening kom uiteraard daarmee dat dit moeilik is om op streng Bybelse gronde, soos mens by Bloedrivier kon maak, te argumenteer dat dit die Christen-Boere teen die heidense swartes is. Swart Christene se getalle is vandag waarskynlik tien maal groter as Afrikaner-Christene s’n. Dit geld ook vir die ANC se kiesers. Dit sou uiters riskant wees om te probeer argumenteer dat die Boere die ware Christenskap aanhang, en die swartes nie. Werklik? Is ál die dertig miljoen plus swart Christene in Suid-Afrika op ‘n dwaalspoor, teenoor slegs die Boere wat die “ware” geloof in pag het?

Miskien is dit tyd vir ons as Afrikaners, en veral diegene wat die Boere-mistiek aankleef, om ‘n stappie terug te neem en ‘n bietjie nederigheid te toon. Afrikaners is nie meer ‘n belangrike volk in internasionale terme nie. Daar is ses of sewe maal meer Hollanders as wat daar Afrikaners is, en Holland is nou nie juis een van die belangrikste lande op aarde nie. Minder as een uit elke twintig mense in Suid-Afrika is deesdae Afrikaners. Op Skriftuurlike gronde weet ek nie van enige rede waarom ‘n Christen-Afrikaner, eerder as ‘n Christen-Xhosa, God se uitverkorene sou wees nie. Dit is veral ‘n non-sequitor dat die blote verootmoediging deur die volk noodwendig sou lei tot ‘n verbetering van ons politieke situasie, weer eens omdat daar geen rede is om te dink dat ‘n ANC-Christen meer spesiaal in God se oë is as ‘n Afrikaner-Christen nie, of andersom. Gaan die Nuwe Testament eweneens nie juis oor die individue van álle nasies se ewige saligheid nie, in teenstelling met die nasionalistiese fokus op Israel in die Ou Testament nie?

Voorts is dit totale wensdenkery dat meer as ‘n handjievol Afrikaners ooit sal terugkeer na die waardes wat die Boere kwansuis destyds aangekleef het (wat dié ook al was.) Al wat ‘n Westerling is, ook Afrikaners, raak toenemend minder gelowig. Ek is bevrees dit gaan slegs enkele Afrikaners wees wat hul Westerse leefstyle gaan heroorweeg en terugkeer na wat ook al die mistiek van hulle vereis.

Daar is selfs diegene, myself inkluis, wat meen dat hierdie soort mistiek, wensdenkery en simplistiese versugting na verootmoediging, ‘n soort meganisme is om die realiteit te vermy. Dit verteenwoordig magiese denke. Afrikaners hoef in terme van hierdie magiese denke slegs te bid en op geestelike gebied terug te keer na die mistieke verlede, en dan sal daar ‘n wonderwerk soos by Bloedrivier plaasvind, en is ons ontslae van die dwingelandy van die ANC.

Was dit maar net so eenvoudig.

интерьер гостинойданильченко юрий брониславович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.