Politieke huwelik

Deel op

Die nuus dat die DA en die ID volgende jaar onder die DA-vaandel saam aan die landswye munisipale verkiesing gaan deelneem kom vir niemand as verrassing nie.

Onlangse meningspeilings het effektief die doodsklok vir die ID gelui, en daarmee saam het die persoonlike euforie wat Patricia de Lille sedert haar bedanking uit die PAC gevolg het, verdamp. Dit het na ‘n ewigheid gelede geklink sedert iemand soos Rhoda Kadalie verklaar het dat sy graag De Lille as die land se eerste vrouepresident wou sien.

Ten spyte van hewige verliese tydens elke oorloopperiode, het die party met elke verkiesing weer danksy haar charisma veld teruggewen. Nou het die boom uit die meningspeilings getuimel.

Ook nou verklaar die twee partye dat hulle beleid en beginsels deel, en daarom een behoort te wees. Die ID was egter wat beleidloosheid betref, Cope ‘n paar jare voor, voordat die ID homself uiteindelik tot ‘n sosiaal-demokratiese partye verklaar het.

Verder word verklaar dat die twee partye nou al in verskeie munisipaliteite goed saamgewerk het, dat eenwording dus nie ‘n probleem is nie. Ook hier klink dit opportunisties aangesien die ID-raadslede onlangs nog met die ANC-raadslede saamgespan het om ‘n DA-munisipale bewind in die stof te laat byt. Veral in die Suid-Kaap en die Overberggebied is dit nie ongewoon dat die ID en die DA in rade haaks is nie.

In die politiek is een plus een nie altyd twee nie, soos verskeie koalisiepogings ook al geblyk het. Die DA self is egter op hierdie gebied ‘n uitsondering, en dié party sal stellig voel dat dit die resep gevind het en steeds sal kan gebruik.

Tog is sake vir die DA nie heeltemal eenvoudig nie. Die krimp van die ID beteken dat daar baie huidige en aspirerende ID-verteenwoordigers is wat sal hoop om via die DA op sagte kussings te beland. Baie dikwels gaan die nominasiestryde nou sterk rasselyne volg en sake baie kompleks maak.

Hoewel die DA op nasionale vlak nie baie verbaal oor plaasaanvalle was nie, is wel in sommige provinsies voor in die koor gesing om dit te veroordeel. Nou begeef die DA hom in die politieke speelveld waar hierdie soort kwessies binne ‘n ander persepsie geanker is. Zille se onlangse voorstelle oor 50 % aandeelhouding tussen boere en hul werkers het juis ‘n groot onrustigheid in die DA losgemaak en ‘n spesiale memorandum moes omgestuur word om gemoedere te probeer kalmeer.

Aan die ander kant het die Afrikanerbond in sy jongste elektroniese nuusbrief verskeie bladsye afgestaan aan ‘n nuwe erns om die minderheidsregte van die Afrikaner aan te spreek. Die AB het ook ‘n gesprek met die VF Plus oor die kwessie gevoer.

Dit is dus ‘n billike vraag dat nou vrae gevra word oor die DA se vermoë om sy wye spektrum steun onder dieselfde kombers te kan toemaak. Die vraag is veral relevant teen die agtergrond van, soos Rapport dit al uitgedruk het, die probleem van regse Afrikaners in die party. Dié vraag sal moontlik nog meer relevant word wanneer die pogings verskerp word om beduidende swart steun te ontgin.

Soos sake nou staan, reik die DA reeds bykans nooit meer mediaverklarings in iets anders as Engels uit nie.

Die potensiaal is dus daar dat die DA deur ‘n kortbroekskuif verras kan word, waar die NNP by die ANC aangesluit het maar gevind het die oorgrote meerderheid lede het in die DA agtergebly. Dit is juis hierdie groep wat deur Rapport as probleem geïdentifiseer is.

to advertiseтопкарго кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.