Wat gee die nedia vir mediavryheid om?

Dan Roodt
Deel op

In die onlangse debat oor mediavryheid in Suid-Afrika en die ANC se moontlik inkorting daarvan, is daar oor een kardinale kwessie geswyg, naamlik die rol van die media self. Beskik die Suid-Afrikaanse media, met hul geskiedenis van politieke en etniese propaganda – veral anti-Afrikaner-propaganda – oor enige morele kapitaal om beswaar teen groter regeringsbeheer oor die tradisionale media te maak?

Sinici sal sê dat, indien die media se inhoud onder beheer van ‘n ANC-komitee geplaas word, niemand die verskil sou agterkom nie. Volg die SAUK, asook die Avusa-, Independent- en Naspersgroepe nie reeds in meerdere of meerdere mate die ANC-ideologie slaafs na nie?

Die Suid-Afrikaanse media het nog nooit werklik vrye debat of ondersoekende joernalistiek beoefen nie. Afgesien van die geelpersskandale oor Joost of Steve wat dikwels die voorblaaie haal, is die meeste ander skandale wat op die lappe kom, afkomstig van die nasionale inligtingsdiens of selfs van buitelandse geheime dienste. Ons joernaliste verteenwoordig blote tusengangers in ‘n groter ideologiese en strategiese spel wat dikwels van buite ons landsgrense bepaal word.

Ook beskik die media hier te lande oor ‘n lang geskiedenis van etniese en politieke propaganda wat skaamteloos oor dekades gevoer is. Daar is min integriteit of verbintenis tot die waarheid. ‘n Goeie storie vir ‘n Suid-Afrikaanse joernalis is een waarin jy ‘n openbare figuur of ‘n lid van die publiek kan swartsmeer. Geweldsmisdaad, wat normaalweg sonder konteks aangebied word as iets so onvermydeliks soos reën of sonskyn, bied verdere sensasiemateriaal aan die media.

Belangrike kwessies word deur die media verswyg en joernaliste word soms verbied om oor bepaalde sake of persone te berig. Neem byvoorbeeld die begrippe “selfbeskikking” of “Afrikanervolkstaat” wat vir vele van ons mense brandende vraagstukke is, maar waaroor geen koerant of TV-kanaal vrye debat sal toelaat nie. Dit pas gewoon nie in by die Anglo-Amerikaanse “finale oplossing” wat sedert 1994 op ons van toepassing is nie. En ek gebruik hier doelbewus die term “finale oplossing” met sy konnotasies van volksmoord, want die eksistensiële aanslag op ons instellings, taal, kultuur, veiligheid en menswees wat ons vandag in dié land beleef, is niks minder as dit nie.

Spraakvryheid of die “audi alterem partem”-reël van Romeins-Hollandse reg, word as ‘n reël nie deur die hoofstroommedia in ons land eerbiedig nie. Merendeels is hul beriggewing, aanbieding en veral meningstukke eensydig, stiksienig en gedienstig aan die heersende orde.

Liberalisme is veronderstel om die heersende idee in ons land te wees, met sy implikasies van verdraagsaamheid en verskillende waarhede of sienings wat toegelaat moet word om vrylik geuiter te word. Die media doen egter sy bes om juis net een stereotipe siening van ons land en sy geskiedenis aan lesers en kykers op te dring: dié wat deur die ANC en SAKP se ideoloë vervaardig is. Dus is die enigste liberalisme waarvan daar in Suid-Afrika sprake is totalitêr van aard, waarby spraakvryheid en verdraagsaamheid geen rol speel nie.

Oor ‘n tydperk van maande en jare het koerante in die Nasionale Persgroep, asook die Afrikaanse TV-kanaal, KykNET, gepoog om my as “rassis” uit te skel en te stereotipeer. In pleitstukke wat tans voor die hof dien in die lastersaak wat ek teen Naspers aanhangig gemaak het, erken Die Burger dat die koerant my belaster het, maar vind dit terselfdertyd “in die openbare belang”. Naspers se uiteindelike doel is om my die swye op te lê en te sensureer, omdat ek na ongemaklike waarhede verwys en nie die eendimensionele aard van die openbare debat in ons land eerbiedig nie.

Daar was ‘n tyd, moontlik in die sestiger- en sewentigerjare, toe die Afrikaanse media en veral Naspers dalk ‘n soort spraakvryheid en sogenaamde demokratiese debat beoefen het, maar Die Burger en sy susterskoerante val vandag terug op die ou tradisie van propagandamondstukke vir ‘n ideologie te wees. In die verlede het hulle die Nasionale Party dikwels slaafs nagevolg. Al hul vyande was óf “ekstreem links” óf “verregs” en dié is met oorgawe verguis. Vír ‘n lang tyd het die Nasperskoerante hulself daarop toegelê om “die regse gevaar” onder Afrikaners in die vorm van die HNP, KP en Vryheidsfront hand en tand te beveg. Toe die linksomkeer in die vroeé negentigerjare kom, het die Nelson Mandela-persoonlikheidskultus, asook wat hulle as “demokrasie” beskou, die grondslag van ‘n nuwe propagandaveldtog geword.

Tot redelik onlangs is alle kritiek op die huidige bestel met sy korrupsie, geweld en minderheidsverdrukking as “verregse nostalgie oor apartheid” veroordeel. Rubriekskrywers en kommentators het eindelose ophemelings van “ons wonderlike grondwet” – waarvan feitlik elke klousule in terme van ras gekwalifiseer is – gepubliseer.

Die feit dat Suid-Afrika so korrup geraak het dat die polisiehoof vir korrupsie tronk toe gestuur word en radikale grondhervorming voor die deur lê, met nasionalisering wat by die 2012-kongres van die ANC ‘n besprekingspunt gaan wees, pla nie ons hoogheilige media nie. Wel ‘n ingryping in hul skyn-“onafhanklikheid”, want elkeen van die groot mediagroepe dien een of ander meester, al is dit bloot Mammon en die groter Anglo-Amerikaanse Ryk waarvan hulle die idees en waardes aan ons opdring.

Eintlik is dit ‘n geval van slim vang sy baas. Want wie is verantwoordelik vir die ineenstorting van die ou orde en die ANC se revolusionêre oorname van die weermag, polisie en staatsapparaat, anders as die Suid-Afrikaanse media? Jare lank is alles in die land in die naam van “apartheid” verguis en verdag gemaak. Die feit dat ons toe skoon water, elektrisiteit, werkende hospitale en munisipaliteite gehad het, het vir niks getel nie. Al waarvan die meeste joernaliste en redakteurs gedroom het, was van revolusie en sogenaamde “demokrasie” wat eintlik maar net ‘n ander woord vir ANC-oorheersing is.

Daar sou nooit sanksies vanuit die buiteland gewees het indien ten minste ‘n gedeelte van die plaaslike media nie jare lank met groot fanfare en baie onpatrioties ‘n vertekende beeld van ons land uitgestuur het nie. Dit geld veral die onliberale Engelse media wat in Afrikanerregering iets boos gesien het en wie se joernalistieke integriteit reeds met hul onredelike etniese haat jeens Afrikaners by die deur uitgewaai het. Die verwronge beeld van ons werklikheid waardeur Afrikaners gestereotipeer en as moordlustig en boos voorgestel is, terwyl swartes as lydende engeltjies geskilder is, is vandag steeds met ons.

Noudat, in die beroemde woorde van Pierre Vergniaud, “die revolusie sy kinders verorber” en die redaksiekantore self gevaar loop om onder revolusionêre beheer te kom, word daar luidkeels beswaar gemaak.

Persvryheid en meningsvryheid het in Suid-Afrika gesterf die dag toe die leuen geseëvier het. Gegewe die vele krisisse in die land, bestaan daar geen oop gesprek oor die oorsake daarvan of redelike alternatiewe nie. Want terwyl die media blou moord skree oor moontlike beheer deur die staat of die ANC, weet hulle aan watter kant hul brood gebotter is en dit is aan die kant van dieselfde ANC.

Ek moet sê dat ek persoonlik al hoe minder Suid-Afrikaanse koerante lees. Dag na dag en week na week is dit dieselfde onnosele en dikwels ongekunstelde menings wat aangebied word. Sapa is reeds ‘n vertakking van die ANC, want die mees absurde mediaverklarings deur die ANC-jeugliga of Jong Kommuniste word klakkeloos die wêreld ingestuur terwyl werklik belangrike nuus of verklarings deur die agentskap geïgnoreer word.

Die absurde beriggewing tydens die moord op Eugène Terre’Blanche was waarskynlik die laaste spyker in die doodskis van ons gedrukte media. Berigte oor kondome en toespelings op Terre’Blanche se gewaande homoseksualisme het op voorblaaie verskyn, met die aktiewe deelname van die nasionale inligtingsagentskap. Voortaan sou ‘n groot deel van die media geen geloofwaardigheid meer geniet nie.

Was dit nie vir die internet nie, sou ons reeds in ‘n totalitêre eenpartystaat geleef het, met die instemming van die media. Die redaksies van die meeste koerante, radiostasies en TV-kanale is dermate tot die revolusionêre transformasie van Suid-Afrika verbind dat hulle enigiets van die regerende party sal aanvaar, van grondhervorming en nasionalisering tot anti-blanke rassisme waarvan die hele politieke en ekonomiese stelsel deurtrek is.

Nog nooit was ondersteuning vir alternatiewe media in Suid-Afrika, veral op die internet, so belangrik soos nou nie. Want die hoofstroommedia is reeds deur die ANC gekoöpteer, al gee hulle self voor om nog “onafhanklik” te wil wees.

очки для плавания детские ценаОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.