Voorbereidings vir die Trek

Deel op

Die meeste van die ongeveer 10 000 Afrikaners wat getrek het, was van die distrikte Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset en Cradock, enkeles uit Swellendam, Beaufort-Wes en Grahamstad, en ‘n paar gesinne uit Colesberg. Die meeste trekkers het uit vrees vir maatreëls van die Britse bewind in die geheim vertrek. Plase en huisraad is op vendusies verkoop, maar omdat soveel grond tegelyk op die mark gekom het, was die pryse belaglik laag. Spekulateurs het boere soms aangemoedig om te trek sodat hulle goeie grond goedkoop in die hande kon kry.

Volgens Op Trek (deur J. Celestine Pretorius, redakteur, André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, H.S. (Tia) Hugo en J.F. (Joey) Wilmans) was die ossewaens 3,6 tot 4,5 meter lank, en 80 tot 100 cm. breed. Omdat die waens hout-asse gehad het, was die gemiddelde vrag van 1600 tot 1800 kg.

Die onderdele kon onafhanklik van mekaar beweeg, wat verhoed het dat die wa breek as dit oor ‘n groot rots of miershoop gery of in ‘n diep gat beland het. Die waens kon ook uitmekaar gehaal word om oor ‘n hoë berg of groot rivier te vervoer. Om die houtwerk te beskerm, is die waens geverf — buite gewoonlik donkergroen, binne dikwels blou.

Kenmerkend van die wa was verder die kakebeenvorm, die wiele in kommetjievorm (omdat hulle sterker was as die gewone regaf wiel) en die kaptent van bamboesstokke of bondels latte waaroor ‘n seildoek geplaas is wat met byewas of olie behandel is om dit waterdig te maak. Wanneer deur digte bosse of doringbome getrek is, is wildsvelle oor die tentkap vasgemaak om skeure te voorkom. Die wakis op die buikplank was sit- én bêreplek.

Weens die min plek is baie goed in die Kolonie agtergelaat. Gewoonlik is ‘n katel op die wa oorkruis met rieme gespan en voorrade en opvoubare meubels rondom gerangskik. Op die waens was verder klere, komberse en ander beddegoed, meel en onbederfbare kos soos biltong, beskuit en droë vrugte, daarby seep, kerse, leerware soos skoene en swepe, ekstra onderdele vir die waens, en lood en kruit om mee te skiet.

Die meeste het met meer as 135 kg kruit die reis aangepak. Omdat die Britse regering die Trekkers nie wou toelaat om met skietgoed die land te verlaat nie, en Engelse patrollies die waens tot by die Oranje laat visenteer het, moes smokkelplanne bedink word. Waens het soms twee buikplanke gehad. Die boonste was 15 cm. bokant die onderste, en tussen die twee is lood en kruit weggesteek.

Soms is die ammunisie, in bokvelsakke toegewerk, met ‘n betroubare persoon vooruit gestuur, wat dit langs die pad begrawe het. Een keer het ‘n vrou ‘n patrollie bemerk, hul sak kruit tot by die kampvuur gesleep, ‘n velkombers oorgegooi en bo-op gaan sit. So het sy die kruit gered, hoewel dit maklik kon ontplof.

Saam met die waens was vrygestelde slawe, maar sommige het weggeloop. Die oud-slawe was dikwels saam met die wit mense slagoffers van aanvalle. Verder het die trekkers hul diere saamgeneem — nie net beeste, bokke en skape nie, maar ook honde, katte, hoenders en eende. Die Tregardts is soggens deur hanegekraai gewek. Hans de Lange het ‘n mak bobbejaan gehad wat volgens oorlewering selfs kon toulei! Die versorging van die diere was ‘n belangrike deel van die dagtaak. Verliese is soms gely weens allerlei siektes en veldbrande.

onlineЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.