Weer plaasmoorde

Deel op

Terwyl die klinkende munt uit die aanbied van die wêreldsokkerbekertoernooi nog getel word, lyk dit of die plaaasaanvalle en plaasmoorde na ‘n vervatslag hervat is.

NUUT!

Binne die kwessie van ongeveer ‘n dag is ‘n plaasvrou van Mooirivier, haar huishulp en ‘n plaaswerker vermoor. By Bethlehem is ‘n bejaarde boer die tweede keer vanjaar in sy opstal oorval en dié keer vir dood agtergelaat.

Dit is ongelukkig nie al wat die voorvalle met die era voor die toernooi gemeen het nie. Uit beskikbare mediabronne lyk dit of die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, weer in al elf amptelike tale swyg.

Sy het wel kort voor die toernooi een maal in ‘n generiese sin plaasaanvalle veroordeel. En toe was dit ook ‘n ruk lank stil.

Trouens, die gerapporteerde misdaadafname gedurende die toernooi het in verskeie kringe die vraag laat ontstaan of misdadigers nie ook die boodskap gekry het dat misdaad, minstens vir die duur van die toernooi, nie aanvaarbaar is nie en dat verskerp daarteen opgetree gaan word. Die vinnige optrede, die swaar vonnisse wat die Fifa-howe opgelê het, en die regering se standpunt-inname het inderdaad die indruk geskep dat daar erns is om misdaad vas te vat.

Skaars is die toernooi verby, of ‘n ander beeld word uitgestraal: Wetgewing dien nou voor die parlement wat volgens aansprake dit vir die media baie moeilik gaan maak om korrupsie uit te snuffel, en pres Zuma self weier om ‘n vinger te lig oor ‘n minister wat weens beweerde tenderpreneurskap in die spervuur is.

Dit, ironies, terwyl hy nog ‘n koördinerende meganisme aankondig om korrupsie aan te spreek. Of dié meganisme meer gaan oplewer as sy vorige stap om ‘n minister in sy Kabinet hiervoor verantwoordelik te maak, maar dit toe gou geblyk het dié minister het sy amptelike kredietkaart misbruik – sal net die tyd leer.

Onlangs het die redakteur van Beeld, Tim du Plessis, in ‘n rubriek geskryf die regering op alle vlakke skep die indruk dat hulle meen iets is gedoen as hulle sê dit gaan gedoen word. In ‘n tikkie ironie berig ‘n Bloemfonteinse gemeenskapskoerant gister hoe ‘n opposisieraadslid die munisipale bestuurder as laaste uitweg self gaan spreek het oor ‘n gevaarlike diep mangat waarvan die deksel gesteel is. Die munisipale bestuurder het in sy teenwoordigheid ‘n munisipale amptenaar – wie se naam ook gepubliseer is – opdrag gegee om onverwyld vir die mangat ‘n nuwe deksel op te sit.

Weke later is dit nog nie gedoen nie.

Dit, in dieselfde munisipaliteit wat al skadevergoeding moes betaal nadat ‘n vrou in ‘n mangat sonder deksel beland het.

Solank die politici nie deurlopend en skerp oor misdaad uitsprake lewer nie, en nie self ‘n onkreukbare voorbeeld stel nie, so lank gaan die polisie teen ‘n orkaan probeer vee. Die wêreldbekertoernooi, volgens die regering se eie aansprake, het dit immers bewys.

dsp ac 224прокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.