Wie weet niks?

Deel op
‘n Kennis stuur vanoggend vir my die ou grappie aan van die jafel wat in Italië vakansie hou.

Kom ons verander die grappie bietjie in die hedendaagse idioom, en sê hy Skype vir sy verloofde: “Ek hou heerlik vakansie, en Florence is wonderlik.”

Sy verloofde se antwoord is blitsvinnig terug: “Ek is bly. Willem is ook wonderlik.”

Net gister, in ‘n in promptu-koppestamp oor die stand van taal, praat ‘n groep van ons oor die verskriklike swak vlakke van algemene kennis van die jonger generasie, wat ook op die gebruik van Afrikaans neerslag vind. Soos die spelling…

“Toe ons kinders was kon ons omtrent al Afrika en ander dele van die wêreld se hoofstede noem, en wie hul premiers of presidente is. Vandag…”

Ek verswyg dat ek self darem lelik voeling verloor het. So in die haastigheid is ek nou ook nie so vars oor die koning van Lesotho en die premier nie. Maar die hare is darem al goed grys…

Darem weet ek wie die eerste minister van Nederland is, al is dit nog net vir ‘n rukkie. En nee, dis nie Joop den Uijl nie. Die is lankal nie meer nie.

En nee, Evita is nie die president van Argentinië nie, ook nie Maradonna nie, maar ek moet bieg, wie dit nou is het my ook ontgaan.

“Maar,” sê die een gespreksgenoot, dit is ook nie regtig meer nodig om so alles in die kop te saam te dra nie. ‘n Mens Google net. Sy het haar verstom oor hoe ‘n nefie, sommer so met die bestuur in Kaapstad, nog gelyk ge-Blackberry en ge-GPS het. As sy nie iets weet nie (en hy uiteraard ook nie) klik-klik die laaitie net op sy selfoon, en daar het hy die antwoord.

Oudste, wat binnekort ‘n her in Landbou-ekonomie skryf, sou seker wat wou gee om so ‘n handige leerbystand tydens die eksamen te hê. Maar ongelukkig vereis die universiteit nog dat daai kennis uit die kop moet kom.

Maar, kla ‘n dosent, toe hy moeilikheid van die universiteit se Sanhedrin kry oor hoe swak sy studente vaar, besluit hy tot hier en nie verder nie. Hy gee vooraf die vrae. En sal ‘n student so waaragtig nie die vermetelheid hê om hom te bel en te vra op watter bladsye die antwoorde is nie?

“Maar die uitslae was in elk geval niks beter nie. Volgende keer skryf hulle maar oopboek-eksamens.” Ek wil byvoeg dat hy weer ‘n oproep gaan kry van ‘n student wat gaan vra of boeke dan kan Google. As hy nie kan “copy” en “paste” nie, hoe gaan hy dan ooit die antwoorde kan neerpen?

Maar ek bedink my.

Juis toe kom oudste van die universiteit af. Hy stap selfoon in die hand by die deur in. Klaar aan die Mixit. Hy het Mixit-meisies op omtrent elke dorp in die land, so voel dit, en voel ons sakke dit as hy in persoon wil gaan kuier.

“Ek hoop nie jy Mixit terwyl jy bestuur nie,” korswil sy ma. “Ja ma, soms. Maar ek hou my oë op die selfoon dat ek nie spelfoute maak nie.”

“Mooi seun,” komplimenteer ek hom. “Ons kla nou net oor die mense se swak spelling.”

En dan sê die jong klomp nog die ou mense weet niks!

для банитопкарго кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.