Mandeladag: Kritiese oog van Breyten Breytenbach

Deel op

Seker die mees frustrerende ervaring vir ‘n politieke navorser is om te onthou dat ‘n mens iewers iets gelees het, en dan verseg of mens daardie artikel of berig weer deur die elektroniese soekgereedskap opgespoor kan kry. ‘n Mens word as’t ware ontGoogled gelaat.

Twee artikels wat ek nooit weer oor Media 24 se soekenjin kon kry nie, het toevallig beide gehandel oor misdade, soos moord, waaraan polisielede skuldig bevind is. Beide was skokkend. Die een oor die polisie in die Vrystaat was in Volksblad, en die een oor die polisie in die Wes-Kaap in Die Burger.

Maar dit net ter agtergrond.

Vandag is internasionale Mandeladgag, volgens die Mandelastigting om die oud-president se goedheid te herdenk en as voorbeeld aan die wêreld voor te hou. Maar nie almal is dit eens hiermee nie, en was daar byvoorbeeld van Breyten Breytenbach heelwat kritiek op Mandela.

So seker soos ek leef onthou ek dat ek eendag gelees het dat Breyten Breytenbach in die parlement se openbare galery gesit en  na ‘n toespraak van pres. Nelson Mandela geluister het. Met die uitstap, binne hoorafstand van ‘n joernalis, maak hy die opmerking: “…en almal weet hy lieg deur sy tande.”

En so is dit in ink verewig. Of is dit? Geoordeel aan die elektroniese soektogte wat dadels oplewer moes ek my dit verbeel het.

Maar die soektog lewer tóg iets op, waaruit ‘n mens duidelik onder die indruk kom dat Breytenbach minstens bereid was om onkrities oor Mandela te wees.

In 2001 skryf ‘n briefskrywer uit Parys in Die Burger oor ‘n bespreking van ‘n opvoering van Breyten se “Die Toneelstuk.” Die briefskrywer meld in hierdie brief van ‘n “openbare brief” van Breytenbach waarin hy onderneem om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

Dié brief of sy inhoud kry ek egter ook nie raakgesoek nie.

In 2008 stuur Media 24 se destydse verteenwoordiger in die VSA egter ‘n berig oor ‘n ope brief van Breytenbach waar hy wel met die spreekwoordelike pantoffel onder Mandela en die regeringsopset hier inspring. (Brief hieronder).

Die rede hoekom ek spesifiek na Breytenbach se kritiek op Mandela verwys, is omdat dit op die oog af so onwaarskynlik is. Breytenbach het immers self internasionaal die aandag getrek toe hy in die 70gerjare die land vermom en onder ‘n vals naam ingekom het, om die ANC in onwettige dade by te staan. Hy is ook tronk toe gestuur.

Onder sy skrywersvriende soos Jan Rabie was daar ontsteltenis. In sy boek, ‘n Boek vir Onrus, verwoord Rabie sy verbystering, en die ontsteltenis van Breytenbach se ouers. Breytenbach was naïef, was Rabie se gevolgtrekking.

Iemand wat tronkstraf, en teoreties selfs die doodstraf uit naïewiteit sou trotseer om daarna in die wêreldmening stroomop te wees om die ikoon so te roskam?

Miskien is daar antwoorde in ‘n gedig, belydenis, wat die Vrye Afrikaan in 2006 gepubliseer het.

Hoewel ek al self hier en daar ‘n gediggie gepubliseer gekry het, is die digkuns die één genre waarvoor ek my self nooit sal uitgee nie. Nie dat ek moeite het om te rym nie, maar ander se gedigte is vir my Grieks, of dalk eerder Sankrit. Ek verstaan daar net mooi niks van nie. Juis daarom is my afleidings oor Breytenbach se gedig hieronder waarskynlik nie geldig nie. Maar vir my, op die oppervlak, lyk dit na ‘n man wat redelik ontnugter is omdat hy baie opgeoffer het, in Parys in ‘n dakkamer met rotte en motte moes woon, terwyl hy hom oor die onregte tuis uitgelaat het, maar uiteindelik het hy nie erkenning gekry nie (was dit net selfbevlekkende romantisisme).

Twee jaar later is die titel van Breytenbach se ope brief aan Mandela: “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution.”

Hier skop ek as die politieke navorser weer in – ‘n beroep wat nie die luukse van euforie of subjektiwiteit behoort te ken nie. Omdat die media so fokus op die gerapporteerde deugde van Mandela, net ‘n kort teensy:

Uit die Christen-demokratise geledere sal daar stellig kritiek kom oor die Mandelastigting se stelling oor Mandela se goedheid omdat die Bybel leer dat die mens feilbaar, en selfs sleg is.

In die werklike wêreld, buite-om die euforie, is Mandela nie “vir bokker*l” tronk toe soos ‘n inbeller op ‘n radioprogram dit gestel het nie. Trouens, tydens die verhoor was daar onder sy ondersteuners ernstige kommer dat hy die doodstraf opgelê kon word. Hy was op sy dag ‘n ingeskrewe lid van die SAKP, en destyds (en steeds) was die kommuniste geen model-demokrate nie.

Hy het ook langer in die tronk gebly omdat hy self verkies het om nie in die aanloop tot die nuwe bedeling geweld af te sweer nie. Die kerkstraatbomontploffing, landmyne op plaaspaaie waar minstens een baba aan flarde geruk is, die aanval op Magoo’s is maar enkele getuienisse van hoe noodsaaklik die afsweer van geweld as simboliese gebaar was.

Die onderwysstelsel misluk nog en steek sleg af by dié van Zimbabwe nadat Mandela die stelsel ge-Bengu het.

Wanneer die moedelose publiek oor onbekwame ministers by Mandela gaan kla het, het sy kantoor daardie klagtes sonder enige ander aksie gewoon na die einste ministeries terugverwys.

Die grondslag vir die “failed revolution” is so deeglik in Mandela se bewindsjare veranker.

Meer op die staatkundige terrein – die omarming van muishondlande net terloops – was die raamwerk waarbinne die Kemptonparkse onderhandelings plaasgevind het. NP-onderhandelaars het agterna telkemale verweer dat hulle nie eens kon probeer om volkeregtelik minderheidsregte, soortgelyk as dit wat in België, Spanje, Indië en elders geld, te beding nie “omdat die ANC nooit sou instem nie.”

Indien dié opvatting foutief deur die betrokke onderhandelaars oorgedra is, was daar ook nie ‘n stroom protes uit die Mandela-kamp nie.

Trouens, met die goedkeuring van die finale grondwet, was die ANC onverbiddelik dat ‘n bepaling in die oorgangsgrondwet moet wegval, naamlik dat die regte wat ‘n amptelike taal by die inwerkingstelling geniet het, nie verminder mag word nie.

Al verstaan ek van die digkuns niks, al volg ek nie aldag Breytenbach se politieke logika nie, kry hy in my boekie so agt uit tien as digter wat as die nasie se gewete optree, ongeag wie aan die stuur van sake staan. Hy sou tien uit tien gekry het as hy bereid sou wees om die proses volkome deur te trek – en as volksdigter ook sy pen in die bloed van plaasmoorde te doop.

belydenis

Breyten Breytenbach

ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods

al vlieg ek gereeld die wêreld vol,

ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk

in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber

maar was nooit die matroos

wat teen takelwerk uitklouter

om die son aan te sien vir ’n vasteland nie

 

Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta

vir my gekook

met olie soos deursigtige semen besprinkel

en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol

maar ek het nie met haar gevry nie

 

ek het nooit voor die volk gestaan

om die koers deur die woestyn aan te dui

met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie

al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter

totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou

 

ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers

en ’n swembad vir naakte gaste besit nie

maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte

en die neersif van jare se fyn swart besoedeling

 

ek het hoog en laag probeer preek

teen armoede en onreg

maar op die ou einde was ook dit

slegs selfbevlekkende romantisme

en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie

 

die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het

het my tien jaar later nie meer herken nie

 

alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan

om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog

sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie

en buitenste duisternis sal hom verblind

 

ek het God nooit geken

die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind

nog enige van sy of haar klone

al het ek op my tone op die tafel mog kyk

na die dolosse en die repe vlees van kadawers

 

my verstand het versand in begrippe van orde

en niks het uiteindelik sin gemaak

en daar was geen verskil tussen bo en onder nie

en die blêrende skaap buite het vir f***l gevrek

 

ek was ’n soepel singende stryder

om die horison binne te haal:

in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou

 

ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart

met sang en vervoering om kon praat

maar my enkele lesers is ou wrakke

wat met week en stywe oog

die losgetorringde voering van my betoog

my toga van klagte

tussen vers en kapittel kwytraak

 

ek het probeer

ek het hard probeer

om ’n groot gedig te skryf

en soms darem dit opgebring

wat in die plek daarvan kon staan

 

o liewe roubetonende biegleser:

die reisiger van my aard en kondisie

het baie maniere om k*k aan te jaag

maar die grootste str*ntspul van alles

is om op pad huis toe te sterwe

 

Breyten kasty SA as land van wanhoop in ope brief aan Mandela
Charles Smith   
Washington
Die Afrikaanse digter en skrywer Breyten Breytenbach val oudpres. Nelson Mandela kwaai aan in ’n Amerikaanse tydskrif oor die geweld, magsvergrype en korrupsie wat Suid-Afrika verwoes.
In ’n ope brief in die Amerikaanse tydskrif Harper’s Magazine skryf hy aan Mandela dat hy hom “die aaklige ding moet meedeel: As ’n jong Suid-Afrikaner by my wil weet of hy of sy die land moet verlaat of nie, sal my bitter raad wees dat hulle moet weggaan.”
In die artikel onder die opskrif “Mandela’s smile: Notes on South Africa’s failed revolution” noem Breytenbach ontstellende voorvalle van geweld wat daagliks plaasvind en hom ook al geraak het.
Sy oudste broer se seun is buite ’n restaurant gesteek en die meslem het sy long deurboor. Die polisie het nooit opgedaag nie. Hy is gered omdat sy metgesel haar vriend in Australië met haar selfoon gebel het en hy ’n verpleegster wat hy in Johannesburg ken, kon bel.
Die vrou was op haar eerste besoek aan Suid-Afrika, maar het die volgende dag vertrek en “gesweer om nooit weer terug te keer nie”.
’n Ouma van ’n nabye vriend – so oud soos Mandela – het haar aanvallers gesmeek om nie verkrag te word nie en die nefie van ’n mede-skrywer is in sy eie huis vermoor.
Hy verwys na speletjies soos “hit me, hit me” en “rape me, rape me” wat in Suid-Afrikaanse skole gespeel word wat volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wys op “die omvang en vlak waartoe die verdierliking van die jeug strek en hoe endemies seksuele geweld in Suid-Afrika geword het”.
Jong mans se ergste vrees in Suid-Afrika is om vir ’n verkeersoortreding opgesluit te word in ’n polisiesel en in die nag verkrag te word deur MIV-positiewe aangehoudenes; oë word uit lyke gepluk vir moetie en dooies word opgegrawe vir hul kiste.
Die hartseerste geval is ses jong, bruin plaaskinders van tussen 9 en 15 jaar wat kaalvoet en “maer soos bidsprinkane” aan mekaar vasklou waar hulle in die hof verskyn omdat hulle ’n 11-jarige meisie oor ’n bottel goedkoop wyn met klippe doodgegooi het.
Of, in ’n ander berig, omdat sy dalk vigs het.
Breytenbach wil van Mandela, wat hy soos sy eie pa beskou, weet: “Het u, het ons, ernstig gepoog om ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika teweeg te bring met sy wigte en teenwigte en rekenpligtigheid? Of was dit om iemand terug te kry vir die koloniale sondes?
“Hoe lank kan ons voortgaan op die skisofreniese mespunt tussen die diskoers van gelykheid en geregtigheid en die praktyk van plundering en arbitrêre mag? Hoe lank nog kan die dubbelpratery volgehou word vir die volk en vir die buitewêreld? Hoekom het die menselewe geen waarde nie? Is dit tradisioneel?”
Breytenbach vra Mandela of hy weet dat “nasionale bevryding” deur vernedering en misbruik (soos in Algerië, Angola, Guinee-Bissau) die droom verwoes van ’n moderne Afrika wat stam uit die Afrika-wortels en -realiteite.

2001 – Resensie: Die Toneelstuk: Belofte om die Mandela-regering met ‘n kritiese oog dop te hou.

Дровяные печиФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.