Stilte voor die storm

Deel op

Vanoggend moet ek my voertuig neem vir sy beplande diens. Dit is koud vanmore; ek ry haastig sodat ek betyds my weg terug kan vind werk toe. Ek is net so ‘n blok of twee van waar ek werk. So ek loop sommer terug. Na die afgee van my voertuig, durf ek my stappie terug deur die geniepsige koue aan. Dit is steeds pikdonker, my pad terug loop onderdeur ‘n brug wat sowat 30 meter lank is.

By die ingang van die brug verhinder die verblindende rook my om te sien wat daar wegkruip. Rondom gestrooi lê daar baie vullis. Dit stink, iets wat mens nie sal verwag in dié buurt nie. Dit is die enigste paadjie wat ek nou kan stap, dus vat ek maar die kans en begin stap onderdeur die brug. Soos ek deurstap, verbaas ek my hoe die boemelaars daar toegeneem het. Maande terug was daar sowat vyf, nou lê daar ongeveer dertig. Toegevou onder plastiek en papier. ‘n Brandende vuur gloei liggies deur die gate van ‘n drom. Dit ruik skerp, hulle brand plastiek vir hulle bron van hitte; daar is mos nie hout in die stad om te brand nie, dink ek. Ek stap versigtig deur, hoor hoe ‘n man en vrou met mekaar praat, hulle hou mekaar vas. Hulle beleef die groot depressie soos ons dit nog nie ken nie.

Soos ek stap, voel ek hartseer. Ek wens ek kon iets doen, maar daar is so baie, dit is moeilik. My gedagtes dwaal verder soos ek stap. Ek vra myself af: waarom help die regering nie sulke mense nie, ons was bevoorreg toe die apartheidsjare hier was. Die werkloosheid en armoede het die nuwe mense mos oor ons gebring. Ek onthou as kind kon ‘n plaaswerker of onsself na enige hospitaal toe gaan en mens is soos in vandag se privaathospitale bedien, nooit weggewys nie. Ons was arm, dus het ons baie op die regering se subsidies staatgemaak, vir skole, dokters, ens. My pa het selfs vir die staat gewerk, maar die regering was goed vir almal, wit en swart. Dit was veilig in die strate, mense het kos gehad; die anargie wat ons vandag sien, was ongekend.

As mens begin dink, begin mens wonder, as mens begin wonder begin mens jou omstandighede ondersoek. Ek wonder toe: vandag betaal ons ten duurste vir alles, individueel. Niks bruikbaar vir ons is meer op die regering se onkoste nie. Ons betaal mos uit ons sakke direk medies, sekuriteit, vervoer, paaie, basiese dienste, die lys kan aangaan. Nou is die groot vraag; Wat kry ek terug vir die groot porsie van my salaris, wat ek hard voor werk, en net so elke maand aan die regering oorhandig?

Is ons besig om ‘n parasitiese Stalin-regering te onderhou waarby ons volk geensins baat nie? Dít wat hierdie regering vir die blanke teruggee, kan ons miskien met ‘n breukdeel van ons belastinggeld self onderhou. Die regering gebruik ons hard verdiende geld vir partytjies, luukse motors en flambojante lewenstyle. Ons finansier ‘n stelsel wat teen ons eie kinders diskrimineer.

Ek lees graag van ‘n kontroversiële ekonoom in Amerika, Peter Shiff. Hy is vele male uitgejou oor sy doemprofeet-voorspellings oor Amerika se finansiële toestand. Ongelukkig vir Amerika is sy analise haarfyn akkuraat sover gewees. Hulle het hom uitgelag toe hy beweer het dat Amerika ‘n finansiële krisis binnegaan; hy was reg tot op die jaar. Hulle lag hom weer uit omdat hy voorspel dat daar ‘n totale ineenstorting van die Amerikaanse dollar wag. Hulle vermy alle gevaartekens. Net soos hier, verf die liberale ‘n pragtige prentjie op die vrot eier se dop.

Sy voorstelling bring my by die volgende punt: hy reken die belastingbetaler werk om die regering te onderhou. Is dit nie presies wat hier besig is om te gebeur nie, werk ons nie soos slawe om hierdie geldhonger regering te onderhou nie? Hy verneem die rede vir Amerika se bankrotskap is die feit dat hulle geld leen met die verwagting dat die belastingbetaler dit terug moet betaal. Sien ons dit vandag in ons land ook?

Ek haal Peter Shiff graag aan: “I think the workers benefited dramatically from the transition from an agrarian economy to an industrial economy. We eliminated women labor in the country, child labor, because of capitalism. You know the reason – you know, my grandmother didn’t have to work because my grandfather didn’t have to pay any taxes. She was free to take care of eight kids, because that’s what she wanted to do. But today, very few women have the choice to be stay-at-home moms. They are now back in the workforce. Capitalism lifted them out of the workforce but big government bureaucracy, high taxes and the social welfare state – that’s the reason now that so few women, and men for that matter, can choose not to work. They have to work to support the government.”

Hy sê nie ons moet nie belasting betaal nie. Sy punt is onder andere: vir elke sent belasting wat jy of ek betaal, behoort jy ‘n ooreenkomstige diens terug te kry. Iets waaroor jy besluit;  dit is tog jou geld wat jy vir ‘n ander mens gee om te bestuur. Ons is gekondisioneer om onder die dekmantel van “regering” te aanvaar dat geld van die werkende mens afgeneem word en geen sigbare diens of verantwoordelikheid hoef te toon nie. Die onlangse verslag van R1,5 miljard wat van ons geneem is en gebruik is vir hulle eie geriewe is ‘n mooi voorbeeld van mnr. Shiff se stellings.

Alles kom ongelukkig teen ‘n duur prys. Shiff sê as mens die ware toestand van ‘n land se ekonomie wil uitvind, klop aan by die middelklasbelastingbetaler, hoor hoe hy voel. Ek weet nie van u nie, maar op dié stadium voel ek bedruk. Ek persoonlik dink die prys wat ons gaan betaal vir die regering se onderhoud, gaan besonder duur wees. Dit het tyd geword dat ons nie-liberale Afrikaners ‘n regering skep wat vir ons werk en nie andersom nie. Dit het tyd geword dat ons nie-liberale oues van dae, die professore, doktors, regters en hooggeleerdes en gerespekteerde manne opstaan vir hulself en hulle kinders se toekoms.

Ons het ons volkskap met bloed gekoop. Gaan ons geslag hierdie Afrikaner-Boerevolk tot niet maak omdat ons nie kon opstaan nie? Die tyd om ons volk opnuut te herbou, het daadwerklik aangebreek.

tops online comФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.