Die kragkrisis wat Bethlehem en omstreke gery het, laat Herrie dink aan die vraag wat iemand uit die Molopo uit eendag by ‘n provinsiale landboukongres gevra het: “Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?” En hy antwoord self: “Teerpaaie.”
So het Herrie se oupa nog ‘n halfeeu gelede gewonder wat sal gebeur as brandstof opraak? Waarmee en hoe ploeg die boere dan?
En einste Oupa Nic Meyer se pa was nog vreeslik willebooslik kwaad vir oupa toe hy sy eerste trekker gekoop het. “Nou gaan jy jou bankrot boer,” had oupagrootjie te sê gehad.
Vandag is dit haas ondenkbaar. Van die trekkers, soos luukse gemakshuisies op moewiese viertrekwiele, sleep ploeë waar die hektare per minuut geploeg gemeet word. Herrie het juis al gewonder waar gaan so ‘n trekker, ploeg en al, draai die nag wat die drywer agter die stuur aan die slaap raak? Kyk, as ‘n drywer op ‘n oop trekkertjie in die bitter koue so lekker droomland toe kon verkas en deur doringdraad en in dongas kon inploeg, dan is dit vir Herrie ondenkbaar dat iemand in daai lugversorgde kajuit met musiek van keuse nie ook lus kan raak vir ‘n uiltjie knip nie.
Eintlik is dit vreeslik ironies dat Bethlehem en omgewing so ‘n swaard oor ‘n kragkrisis oor die kop moes kry. Die eerste van ‘n klompie hidro-aanlegte in die Asrivier wat krag net aan Bethlehem voorsien, is immers al in bedryf. Boonop is daar ander groter aanlegte soos onder die berge voor die water in die Asrivier loop, en by die Sterkfonteindam. Die krag is daar; die geld is op omdat dit elders heen “gekanaliseer” is. Omtrent soos die ou oom sê as hy die jong nursie by die ouetehuis aai: “Die gees is gewillig maar die vlees is te poegaai gedaan.”
Wat Herrie laat dink: Dié kragsentrales bied darem meer as een rede hoekom die Asrivier sy regte Engelse naam, Axel River in plaas van Ash River, terug moet kry. In daai hidro-sentrales draai die ene asse. G’n teken van êsj nie.
Maar as die ru-olie sou opraak?
Vir die trekkers is daar darem die goeie nuus dat die slim mense al ontdek het sonneblomolie en skoongemaakte olie waarin vis en tjips gebraai is deug ook. Die Oos-Vrystaat het ook oorgenoeg karkoere en makatane om makataan oktaan mee te kan stook.
Maar wat die pad-rygoed gaan maak …? Herrie kan nog half en half dink aan dosyne gesinne wat saam ry, elkeen op sy eie fiets. Maar ‘n baiesukkel wat die werk van ‘n minibustaksie moet doen? Volgens oorlewering was die rekordgetal passasiers in die ou soort bussies 24 volwassenes, drie kinders, twee babas en vier lewendige gesteelde skape plus bagasie en die gesteelde huisraad van die Venters (en ‘n paar geslagte hoenders). Met ‘n bussie praat ‘n mens nou al van ‘n Guinness rekord. Op ‘n baiesukkel beslis.
Maar wat Herrie weet. Daar is nie nog so ‘n lekker kuier soos vroegoggend voor ‘n Agastoof as dit buite skemer en spierwit geryp is nie. Met koffie en beskuit. Sulke lang dipbeskuide.