Sorgelose aftrede op 55? Dink weer

IN dieselfde week as wat die nuwe Britse regering aangekondig het dat die amptelike aftree-ouderdom tot 66 verhoog word en later tot 70, was daar verskeie  plaaslike artikels oor hoe om op 60 en selfs 55 “sorgeloos” af te tree.

Eers was daar die hoofekonoom van Old Mutual se Rian le Roux wat op fin24 aangehaal is dat ten minste 20% gespaar sal moet word ten einde op 60 af te tree.

Verlede Saterdag was daar in SakeBeeld ʼn verdere berig met hierdie strekking, maar hierdie keer was dit hoe om op 55 af te tree met genoeg kapitaal en met geen sorge nie.

Dis werklikwaar onverstaanbaar hoe sulke berigte nog die wereld ingestuur word. Dit skep ʼn valse verwagting onder jong mense, onder meer dat 55 ʼn soort van magiese eindstreep is van ʼn produktiewe lewe, wat gevolg  sal word deur ʼn eindelose vakansie…

Daar is ʼn hele generasie 55- plussers, nie net in SA nie maar oral in die Westerse wêreld – want dis grootliks n Westerse tendens – wat met toenemende skok agterkom dat die “sorgelose aftrede” wat ʼn 20 of 30 jaar gelede aan hulle belowe is, glad nie so sorgeloos is nie.

Reeds tien jaar gelede in die boek “The Truth About Retirement” wat ek saam met Bruce Cameron geskryf het, het ons gewaarsku dat die gedagte van ʼn “sorgelose aftrede op 55” bloot net ʼn hersinskim sal wees vir meeste mense.

Beplan om baie langer te werk, tot 65 en selfs 70, en ook om dalk ʼn tweede loopbaan of ʼn bykomende inkomste op ʼn ander plek te verdien, het ons in die boek geskryf.

Hierdie advies geld vandag des te meer.

Kom ons kyk na die advies om 20% van jou salaris te spaar ten einde “sorgeloos af te tree op 55”.

Welke salaristrekker kan bekostig om 20% van sy/haar salaris te spaar?

In my opinie slegs ʼn enkellopende nie-rokende nie-drinkende introvert sonder kraai of kroos wat nog by mammie bly. Vir die res van ons gewone sterflinge met ʼn verband, vrou, kinders katte en honde om te onderhou, is so iets onmoontlik.

Na belasting, kos, klere, verband, medies, motor, skoolgelde ens. ens. is daar eenvoudig nie sprake daarvan om 20% te spaar nie.

Ten beste sukkel mense om 15% te spaar en dan moet daar nog ʼn persentasie of 5 daarvan afgetrek word vir die koste van lewensverskering, ongeskiktheid en beleggingsfooie ten eind hierdie bydrae te maak.

Baie van die kritiek op die hierdie advies van Le Roux was ook dat dit komende was van ʼn segsman van ʼn assuransiemaatskappy wat n generasie van pligsgetroue spaarders in Uittree_annuiteite (UA’e) tot baie swak opbrengste verdoem het.

Sekerlik die grootste rede hoekom 55 nie meer as aftree-ouderdom beskou kan word nie, is die snelle styging in lewensverwagting. Lewensverwagting vir ʼn man op 55 is ʼn verdere 22 jaar en vir vroue ʼn amper 25 jaar.

Met die beste belegging in die wêreld kan ʼn salaristrekker met selfs 20% van ʼn salaris oor ʼn werkleeftyd van 30 jaar  nie genoeg spaar ten einde ʼn verdere 20 of 25 jaar “sorgeloos” te kan leef nie.

Ten beste is hierdie teiken dalk moontlik vir iemand wat ononderbroke tot 65 of 70 gewerk het en nie een keer diens onderbreek het nie. Hoeveel mense werk vir een werkgewer vir ʼn volle 40 jaar of meer? Bitter min.

En meeste mense wat van werk verander neem gewoonlik die pensioengeld ten einde te spandeer of om skuld af te betaal—sowat 80% volgens syfers van Old Mutual.

En dan kom ons by die “sorgelose” deel van aftrede. Vra maar vir meeste mense wat wel met genoegsame kapitaal afgetree het die afgelope klompie jare. Tensy die pensioenaris afgetree het met ʼn gewaarborgde en inflasie-kloppende inkomste vir die res van sy/haar lewe  -en dié opsie word al skaarser– is beleggers by aftrede blootgestel aan die skommelinge van markte.

Dit is een van die gevolge van die grootskaalse oorswaai van die tradisionele gedefinieërde voordelefondse na gedefinieërde bydrae fonds oor die afgelope 20 jaar of wat.

Destyds is gewaarsku dat beleggers met hierdie skuif –wat baie dikwels aangespoor is met bonusse tot fondse—die beleggingsrisiko van die bestuur van die pensioen oorneem.

Enigiemand wat die afgelope klompie jare in beleggingsmarkte was sal kan praat van ongekende wispleturigheid en onvoorspelbaarheid. As dit nie die aandelemarkte is wat met 45% val nie (September 2008 –Desember 2008), is dit die rand wat eers met 35% val en dan weer styg met 35%, en so aan.

Die veiligheid van vaste-rentedraende is net kortstondig want oor tyd sal inflasie (want inflasie tree nie af nie) die koopkrag van ʼn lompsom op 55 stelselmatig afwater oor tyd.

Dink maar aan spaarders/beleggers in die VSA en Europa waar die aandelemarkte in daardie streke oor 10 jaar gemiddeld nog nie met n duit gegroei het nie, rentekoerse op spaargeld al vir jare nul is en eiendomspryse ook met tussen 10 en 50% gedaal het, afhangende van watter land en watter streek.

Praat met hierdie mense van ʼn sorgelose aftrede.

En dan wil ek nie eers praat van al die skelmstreke wat daar is wat mense hoë opbrengste bied in uiters ongewensde en onveilige beleggingsskemas nie.

Kyk maar net na die miljarde rand wat al reeds in hierdie siklus verlore is in verskeie eiendomsindikasies wat in die afgelope maande gevou het.

Wat is die oplossing?

Natuurlik moet mense aangemoedig word om te spaar maar ʼn meer realistiese aftree-datum (indien moontlik) moet 65 wees en selfs 70.

So ʼn stap beteken twee dinge: jy werk (en verdien ʼn salaris vir 10 of 15 jaar langer) en jy sal derhalwe ʼn inkomste vir ʼn 10 of 15 jaar minder nodig hê.

Die een positiewe nadraai van die kredietkrisis in Europa en die VSA is die besef dat die beloftes van ʼn aftrede op 55 (Griekeland, Spanje. Portugal en Italie) en 60 in Brittanje nie meer haalbaar is nie. Dieselfde geld die VSA.

In die VSA sal die Social Security-stelsel al teen 2013 meer uitbetaal as wat dit inkry….

Brittanje het eenvoudig gese:”Daai beloftes van ʼn vroëe aftrede is nie meer moontlik nie.”

In die VSA word daar nou prontheid ook vertel: 70 is eersdaags die nuwe aftree-ouderom.

Hierdie realiteit het al lankal in SA posgevat onder diegene wat die tekens raakgesien het.

Aftree op 55? Watwou.  55 is maar net die begin van die beste 15 jaar van jou lewe.

Magnus Heystek is die skrywer van verskeie boeke oor beleggings en aftrede en is bestuurshoof van Brenthurst Wealth.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.