Chaos by Durban-lughawe ‘het vele oorsake’

Deel op

Die lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het gister allerlei redes aangebied vir die chaos by die Koning Tsjaka-lughawe wat veroorsaak het dat honderde sokkergeesdriftiges die halfeindrondte van die wêreldsokkerbeker in Durban misgeloop het. ‘n Rekenaarstelsel, die weer en privaatstralers wat die parkeerruimtes beset het, is onder andere daarvoor geblameer.

Die sentrale lugruimbeheereenheid, wat die beweging van vliegtuie na en van lughawes beheer, het Woensdag tussen 16:00 en 20:00 foutief geraak, wat veroorsaak het dat lugbeheerdienste gleuwe na gelang van eerste aankoms begin toeken het, het ‘n woordvoerder vir Acsa, Solomon Makgale in ‘n verklaring gesê.

Die stelsel het tot Woensdag “volmaak” gefunksioneer.

“Privaatoperateurs het die situasie uitgebuit en in sekere gevalle gleuwe opgeneem wat nie aan hulle toegeken was nie…”

Soos wat lugverkeer gedurende die dag toegeneem het, is vliegtuie wat rondom 12:00 namiddag wou land, vir 20 minute vertraag weens lae wolke, wat die sig belemmer het.

Die gevolglike toename in lugverkeer in die Durbanse lugruim was so hoog dat kontroleurs teen 14:00 besluit het om lurgruimbeperkings in te stel. Dit het beteken dat geen vliegtuie na Durban vir 30 minute kon opstyg nie.

Toe beperkings rondom 17:00 opgehef is, het agt privaatvliegtuigoperateurs wat geland het in gebreke gebly om instruksies na te kom om na ander lughawens in die omgewing te vertrek.

“Dit het dit onmoontlik gemaak vir ander vliegtuie om na die lughawe te vlieg aangesien die vliegtuigparkeerruimtes beset was.

150 meer as gewoonlik

Gevolglik is ses geskeduleerde vlugte – van SAL, Kulula en British Airways – gedwing om hetsy na hul basis terug te keer, hetsy na ander lughawens te vlieg, wat ongeveer 600 passasiers verhoed het om by die sokkerwedstryd tussen Duitsland en Spanje by die Moses Mabhida-stadion uit te kom.

Die bedryfshoof van Acsa, Themba Maseko, het gesê dat daar op ‘n normale dag omtrent 100 vliegtuie by die Koning Tsjaka-lughawe land. Woensdag was daar egter 250.

Die vlieëniers van privaatvliegtuie, waarvan vele BBP’s aan boord had, het geweier om die vasgestelde prosedure te volg om hul passasiers af te laai voordat hulle na die ou Durbanse Internasionale Lughawe moes vertrek om te parkeer.

“Ek blameer nie die BBP’s nie. Die mense wat die probleem veroorsaak het, was die mense wat die vliegtuie gevlieg het,” het Maseko gesê.

Volgens hom het die vlieëniers begin om hul vliegtuie te verskuif toe Acsa met optrede teen hulle begin dreig het, maar toe was dit al te laat.

Die besturende direkteur van Acsa, Monhla Hlahla, het Suid-Afrikaners en geesdriftiges wat die wedstryd wou sien om verskoning gevra.

“Dit spyt ons dat hierdie voorval die heuglike bui in die land bederf het en ‘n vlek gelaat het op die uitmuntende pogings wat in die voorbereiding en fasilitering van lugverkeer gedurende dié luisterryke toernooi aangewend is.”

Sowel die wêreldsokkerliggaam FIFA as die 2010-organiseringskomitee het Donderdag hul hande in onskuld oor die chaos gewas.

Die voorsitter van die plaaslike organiseringskomitee, Irvin Khoza, het gesê sy liggaam neem geen verantwoordelikheid vir die chaos by die lughawe nie.

Die sekretarisgeneraal van FIFA, Jerome Valcke, het tydens ‘n mediakonferensie in Sandton, Johannesburg, gesê: “Ek wil dit duidelik maak dat dié probleem niks met FIFA te make het nie.”

Khoza het bygevoeg: “Dit was nie ons fout nie. Ons is jammer dat dit gebeur het maar kan nie verantwoordelik gehou word vir vliegtuie wat nie in Durban kon land nie.”справка о болезнипрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.