Geskenke uit Spanje vir Oranje?

Suid-Afrikaanse kinders word vertel Kersvader bring kersgeskenke van die Noordpool af. Nederlandse kinders glo Sinterklaas kom van Spanje af…

Nou speel Oranje in die eindstryd teen Spanje, en Nederland sal ‘n behoorlike Piet Hein uit die hoed moet pluk om die span met kwiksilwer voetwerk te sink.

Spanje het Duitsland wat sonder sy voorste angels moes speel, met een nul geklop. Die Spanjaarde het met vernuftige voetwerk die Duitsers baie snoep met die bal behandel. Met die suinige balbesit kon die Duitsers nie hul strooptogte loods wat hulle die toernooi se doelevrate gemaak het nie.

Maar…die Duitsers het ook met veel minder vuur gespeel en hul aangeewerk was ook nie suiwer nie. So is Duitse besit gou nek omgedraai en nou speel Spanje in sy eerste wêreldbeker-eindstryd ooit.

Op papier is Spanje, die Europese kampioene, die gunsteling om Nederland te troef. Die Nederlanders het egter nog nie op alle silinders gevuur nie, en tog onoorwonne van die eindstryd deurgedring. Spanje self is gereeld die wisselvalligheid self en ‘n afdag gaan die een of ander tyd aanbreek. Maar selfs al speel Spanje soos Woensdag, behoort Nederland die pyp te kan rook.

Om vir die Nederlanders te kom Sinterklaas speel is egter nie in die Spanjaarde se gedagtes nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.