Kaap weer Hollands

Sneijder en Van Bronckhorst

Sneijder en Van BronckhorstDie Kaap is weer Hollands, en nou rus die taak op die Duitsers om hul lywe Piet Hein te hou en die gedugte Spaanse Silwerfloot te kelder om ‘n stamland-eindstryd te verseker.

Oranje het hul kleure voor die kroonprins Willem-Alexander en prinses Maxime getoon, en hul vinnigste wedstryd van die toernooi gespeel.

Maar Uruguay het nooit gaan lê nie, en die wedstryd was kort voor die einde skielik weer in die weegskaal toe die Suid-Amerikaners ‘n laat-doel aangeteken en die telling na 3 – 2 laat krimp het.

Die Nederlanders het hul hande vol gehad met die spoed oor die veld van die manne van Uruguay. Die spoed het menige Nederlandse strooptog in die stof laat byt.

Die wedstryd het twee van die toernooi se indrukwekkendste kapteinsdoele opgelewer. Eers het Oranje se kaptein, Van Bronckhorst ‘n langafstandmissiel in die net in gesool, en later het Uruguay se kaptein, Diego Forlàn ‘n bal gekerf wat soos ‘n mamba in die doelhok in gepik het.

Wesley Sneijder het hierna sy vyfde doel van die reeks behaal.

Arjen Robben, wat die opponente aanvanklik oorhoops gehad het deur in amper enige denkbare posisie op die veld op te duik en van die verkeerde voet af vreemde aanvalshoeke te skep, het Nederland se derde doel met ‘n kopskoot afgerond, en is kort hierna ‘n blaaskans gegee. Met die telling op 3 – 1 en die eindfluitjie op hande is gereken die koeël is deur die katedraal, maar Uruguay het ander planne gehad en Maxi Pereira het ‘n tonneltjie doelhok toe gevind en toegeslaan.

Vir die Suid-Afrikaanse toeskouers wat nie werklik met fynproewersokker vertroud is nie, sal dit manna uit die hemel wees as Duitsland die eindstryd haal. Die Duitsers het met strooptog-sokker ‘n doelefees beleef, en met Nederland wat aangesteek het, kan die twee spanne met verbete aanvallende spel die skare en kykers trakteer. Fynproewers mag die neuse optrek, maar dis rugbywêreld dié waar aanvallende spel as die beter soort spel beskou word.

Maar…dan sal Duitsland eers met Spanje moet afreken. En op papier is Spanje verreweg die gunsteling. Maar dis op papier, en die Duitsers is nog die span van die oomblik wat vrypostig genoeg was om ook ander spanne wat veronderstel was om hul meerdere te wees, in doelefeeste te verneder.

slots online casino

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.