Toernooi-afname in misdaad

Deel op
Volgens die Vrystaatse polisie was daar gedurende die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Bloemfontein minder misdaad, en die stelling word selfs gemaak van geen ernstige misdaad nie.

Uit mediaberigte is dieselfde indruk gelaat, hoewel die sektorpolisiërings-nuusbriewe nie werklik op ‘n afname dui nie. Na die Konfed het dit byvoorbeeld uit buitelandse bronne en latere onthullings geblyk dat die misdadasituasie nie heeltemal was wat voorgegee is dat dit was nie. Boonop beweer huishulpe dat swart woongebiede tydens plaaslike wedstryde rot en kaal besteel is.

Indien dit egter korrek is dat daar ‘n afname in misdaad was, is daar nietemin belangrike lesse te leer.

Ten eerste, dat daar ‘n saak uit te maak is vir behoorlike polisiëring. Die Vrystaatse polisie oorweeg juis om die veiligheidstrukture na die toernooi te behou omdat dit so goed gewerk het.

Die tweede les is dat duidelike regeringstandpunt-inname skynbaar wel na die bevolking deursypel. Die eerste opspraakwekkende misdaadvoorval na die aanvang van die toernooi is dan ook deur onwettige immigrante gepleeg.

Dit laat die vraag ontstaan: Sou daar nie dalk ‘n paar minder plaasaanvalle kon wees as die regering deurlopend en konsekwent, en voor die voet plaasaanvalle veroordeel het nie? Het, deur meestal in al elf amptelike tale dawerend te swyg nie bygedra daartoe dat veel minder buitelanders die toernooi kom bywoon as wat aanvanklik verwag is nie?

Was dit nou werklik nodig dat, terwyl die sogenaamde gewone misdadigers nou hul plek geken het, staats- en semi-staatsorganisasies met openbare fondse gaan sokkerkaartjies koop het. Volgens die jongste syfers is meer as ‘n R100 miljoen se kaartjies so aangeskaf, en daar is sprake dat die uiteindelike syfer dubbel soveel kan wees.

Die Vrystaatse polisie wys daarop dat misdaad en die sosio-ekonomiese toestande hand aan hand loop. Dit geld egter selde witrboordjiemisdade en sekere soorte geweldsmisdade soos motorkapings. Iemand roof immers nie ‘n luukse motor of geldwa om vir sy verhongerde gesin kos op die tafel te plaas nie. Maar hoeveel van ‘n voorbeeld kry die misdadiger wat om den brode steel, as die superrykes andermansgeld gebruik om miljoene rande se sokkerkaartjies aan te skaf?

Terwyl dit koste-gewys en logisties dalk moeilik sal wees om die vlakke van wetstoepassing vol te hou, is dit geen koste of moeite om misdaad verbaal die stryd aan te sê nie. Die regering moet eenvoudig die regte voorbeeld stel, en aanhou stel, om te keer dat die land kort voor lank die misdaadhool is wat soveel buitelanders afgeskrik het. Dit sluit natuurlik in dat ministers en ander hoëlui ‘n silwerskoon voorbeeld moet stel. ‘n Vis vrot immers van sy kop af.

In plaas hiervan word iemand nou as ambassadeur in ‘n belangrike land ontplooi, oor wie se kop ‘n storm losgebars het. Die Departement van Internasionale Betrekkinge het bevind dat die beëdigde verklaring van ‘n joernalis en ander aanduidings nie op enige bewyslas neerkom wat die ontplooiing in gedrang behoort te bring nie. Dieselfde departement wat ‘n ongelukkige geskiedenis met ‘n sekspes gehad het wat uiteindelik eers in die hof uitgepluis is, en wat oud-komm. Jackie Selebi voortgebring het.

Al die eendjies om ‘n verbeterde beeld te skep is nog nie in ‘n ry nie.

детектор лжи программалобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.