90% van ‘hervormde’ grond onproduktief

Gugile Nkwinti
Deel op

Gugile NkwintiNegentig persent van grond wat aan sogenaamde “ontluikende” swart boere uitgedeel word, is tans onproduktief. Die ANC-regering het ook nagelaat om R3,4 miljard se toelaes aan die ontvangers van grondhervorming uit te betaal, met potensiële gevaarlike gevolge, het die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming Gugile Kkwinti gister gesê.

Ontvangers het in 389 gevalle nie hul toelaes ontvang nie, het die minister op ‘n parlementêre vraag van die DA gesê.

“Grondbesettings kan plaasvind waar ontvangers nie plase kan betrek as gevolg van oponthoude met uitbetalings nie,” het hy gesê.

Nkwinti het gesê Mpumalanga is die provinsie wat die meeste deur die gebrekkige uitbetalings geraak word, met 173 hervormingsprojekte wat steeds R2,6 miljard “geskuld” word.

Hierna volg die Oos-Kaap, waar 49 projekte vir R395 miljoen van die staatskas wag. In die Wes-Kaap, word 17 projekte R196 miljoen geskuld. Sekeres van diegene wat vir geld wag is families wat uit Distrik Ses gesit is.

Nkwinti het aangetoon dat toelaes nie direk aan begunstigdes deur sy ministerie betaal word nie, maar oorgedra word aan ‘n “genomineerde agent”, wat in die meeste gevalle die tersaaklike munisipaliteit is, soos bepaal deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Die minister het geen redes vir die teruggehoue betalings aangevoer nie.

Hy het ook op ‘n vraag deur die DA onthul dat die departement boonop R268 miljoen aan deposito’s op grondrestitusieprojekte.

Die departement het 972 473 hektaar grond vir restitusiedoeleindes oor die laaste drie jaar in 1 300 transaksies gekoop, maar in sekere gevalle kon dit nie aktevervaardigers se trusts betaal nie wat 50% deposito’s verlang het.

“Betalings kon nie gemaak word met betrekking tot sekere van die ooreenkomste nie weens begrotingstekorte in die 2008/09 en 2009/10-finansiëlejare.”

In Maart het Nkwinti laat blyk dat die ANC-bewind se grondhervormingsprogramme nie volhoubaar was nie en het bevestig dat die teiken om 30% van landbougrond teen 2014 aan swart boere oor te dra nie gehaal sal word nie.

Hy het onthul dat ten minste nege uit tien “ontluikende boere” wat grond onder die regering se grondhervormingsbeleid ontvang het nie ‘n kommersiële sukes van hul plaasgrond kon maak nie.

‘n Totaal van 5,9 miljoen hektaar is sedert 1994 herversprei, maar 90% van daardie grond is nie produktief nie.

In reaksie op die probleem beplan die ANC-bewind om vanjaar miljoene rande daaraan te bestee om die mislukkende plase te herkapitaliseer.

Nkwinti het gesê dat grondrestitusie en -herverspreiding word deur ‘n gebrek aan kapasiteit in die wiele gery aan die kant van diegene wat grond ontvang het en weerhou hulle daarvan om “aan te hou om effektief en optimaal op die grond te produseer”.

In Maart het Nkwinti tydens sy begrotingsstemming in die nasionale vergadering kommer in landbougeledere gewek toe hy aangekondig het dat hy binnekort in ‘n groenskrif ‘n drieledige stelsel van grondbesit gaan voorstel wat dit vir blanke boere moeilik of onmoontlik sal maak om grond te besit.

Hy het ontken dat dit beteken dat nasionalisering van grond vir die land voorlê.
циклевка паркета стоимостьОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.